Lirieke vloei deesdae uit veelsydige Leon-Ben se pen

Leon-Ben Lamprecht. (Foto: Verskaf)

Die skrywer Leon-Ben Lamprecht se tong is klaarblyklik altyd in sy kies, of dit nou as rubriek-, tydskrif-, kinderboek- óf liedjieskrywer is.

Net met somme en sy werk as finansiële adviseur raak dinge ‘n bietjie meer ernstig, maar beslis nie minder menslik nie.

“Ek sien myself meer as ʼn finansiële lewensafrigter. Maar dis net my nine to five. Ek hou nie daarvan wanneer mense mekaar vra wat hulle beroep is wanneer hulle kennis maak nie, want jou beroep is nie jou enigste identiteitsmerker nie,” vertel dié voormalige joernalis en ontluikende musikant aan Maroela Media via Zoom in sy huis in Wellington in die Wes-Kaap.

Hy is inderdaad ’n lewende bewys van sy eie stelling, want min finansiële adviseurs en pa’s van drie spog met ʼn joernalistieke loopbaan, twee kinderboeke en kies om ʼn musiekloopbaan “so terloops” as ʼn stokperdjie aan te pak.

“Party mense speel naweke golf, ek speel kitaar. Dit geld beslis nie vir almal nie, maar ek weet net ek sal uitbrand as ek my passie my voltydse loopbaan maak.”

Syfers is reeds stelselmatig gedurende sy studentedae aan die Universiteit Stellenbosch vir skryfwerk verruil toe die moontlikheid van ʼn beter kamer in die manskoshuis Dagbreek vir hom gewink het.

“Ek het ‘kamerpunte’ nodig gehad en gaan klop toe by die Matie-koerant aan. Toe dink ek maar hierdie is lekker. Dít kan ook vir my werk.”

Hy het etlike jare as joernalis by die Weg-tydskrif gewerk en skryf steeds finansiële en ander rubrieke vir Beeld, Rapport en Maroela Media.

Leon-Ben is ‘n skrywer, joernalis, finansiële beplanner en nou ook ‘n musikant. (Foto verskaf)

Ouerskap en die behoefte om minder te reis het volgens Leon-Ben hom laat terugkeer na finansies, eers by Sanlam en toe sy eie familieonderneming waar hy vier jaar lank werk.

Sy pen het egter nooit uitgedroog nie.

Sy eerste kinderboek, Wie skrik vir Wortel Wolf, is in 2021 tydens die Covid-19-pandemie uitgegee, en ʼn tweede verhaal, Barend, die barbaar, het kort op sy hakke gevolg.

Musiek was ook nog altyd deel van dié Hartenbos-boorling se lewe, met sy ma en tannie wat albei orreliste en musiekonderwysers was. Hy het self klavierlesse as kind geneem, maar op hoërskool verkies om eerder op die kitaar te tokkel.

Kort nadat sy gesin vyf jaar terug Wellington toe verhuis het, is hy op ʼn dag gedwing om sy plek agter die kitaar en mikrofoon in te neem as deel van die kerkorkes.

Toe is nóg ʼn identiteitsmerker gevorm.

“Ek het nooit gedink dis iets wat ek gaan doen nie. Ek dink dis meer daardie akademiese nuuskierigheid wat my genoop het om te sien of ek dit sal kan doen.”

Leon-Ben op die verhoog. (Foto: Verskaf)

Sy eerste enkelsnit, “Die ballade van Biltong, die zombie hond”, is kort daarna neergepen en was eintlik bedoel om ʼn kinderboek te wees.

“Dit het nie heeltemal vrugbare grond gevind nie, so ek het besluit om dit eerder in ʼn lied te omskep en besef toe dis ʼn lekker medium en dwing jou om anders te dink. Rym en ritme is ʼn heeltemal anderste tipe dissipline.”

Nóg tong-in-die-kies-treffers, waaronder “Spitsverkeer” en “Die sommige A-span ouers” het daarna gevolg, maar sy jongste nuwe enkelsnit, “Vyeboompiekniek (13 jaar)” wyk effens hiervan af en is uitgereik as ʼn persoonlike huldeblyk aan sy vrou vir hul 13de huweliksherdenking.

Almuir Botha van Blackroom Studios in Wellington behartig dié liedjies se opnames en vervaardiging. “Musiek is natuurlik nie ʼn goedkoop stokperdjie nie,” skerts Leon-Ben.

Hy beskryf sy musiekstyl as “poprock, punk en folkrock met bluesgrass-invloede”, maar erken dis moeilik om te kategoriseer vir die kommersiële mark.

Daarom was hy trots om vanjaar met die Afri-Indie-toekenning vir beste nuwe mansliedjieskrywer weg te stap.

“Eintlik is ek maar net ʼn storieverteller wat in dankbaarheid loop en dit waardeer as iemand so af en toe na my liedjies luister. Ek heg baie waarde aan stories, dis wat ons mense maak en hoe ons die volgende generasie leer. Stories lê my na aan die hart, my medium verskil net by tye.”

Iets wat hy nie noodwendig binnekort op papier of in musiek sal uitdruk nie, is die verlies van beide sy skoonpa en pa, wat onderskeidelik in Januarie en Maart vanjaar oorlede is.

“Ek was onverhoeds betrap oor die fisieke pyn van verlies, dit het gevoel so asof my hart uit ribbes geryg word. Ek’s nog nie seker hoe dit my skryfwerk sal inspireer nie. Almal word anders geraak daardeur, almal se rouproses is intens en persoonlik en anders. Skryf bly maar my coping mechanism, maar vir nou is alles nog baie rou.”

Sy grootste fokus tans is om ʼn goeie man en pa vir sy kinders te wees en sprake van ʼn vyf of tien jaar plan vir sy musiekloopbaan word afgelag.

“Ek terg altyd en sê uit die vier miljoen Afrikaners het 3,9 miljoen al ʼn enkelsnit uitgereik. Gelukkig jaag ek nie roem, rykdom of die Afrikaans is Groot-verhoog na nie. Ek laat die Gees my lei en bou hierdie vliegtuig soos ek hom vlieg.

Luister hier na “Vyeboompiekniek”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.