Lize Beekman sing nuwe snitte in eerste aanlyn vertoning

Lize Beekman is in haar eerste aanlyn vertoning, ‘Iemand het gesê’ te sien. (Foto: Christelle Pretorius)

Lize Beekman is al bykans drie dekades lank een van Suid-Afrika se bekendste vrouestemme. Sy is eersdaags te sien in haar eerste aanlyn vertoning.

Die vertoning heet Iemand het gesê en is in Die Boer-teater in Durbanville opgeneem. Jaconell Mouton is die pianis en behartig ook perkussie.

Beekman vertel sy het die naam Iemand het gesê gekies vir die vertoning om te pas by die visuele kunsuitstalling, Quote Unquote, wat sy vroeër vanjaar aangebied het. In dié uitstalling is die kunswerke gebind deur aanhalings en die gedagtes van mense.

“Ek wou graag ʼn lyn trek tussen die uitstalling en die aanlyn vertoning en ook woorde van mense invleg in die musiek,” vertel sy aan Maroela Media.

Iemand het gesê is ʼn samestelling van bekende Beekman-liedjies, met “Sonneblom uit Bethlehem”, “Ek het ʼn boer sien dans” en “Halleluja op Nieu-Bethesda” asook ʼn paar splinternuwe snitte uit haar pen wat later vanjaar in ʼn vollengte album sal verskyn.

“Buiten die gedagte dat ek graag ʼn mengsel van oud en nuut ten toon wou stel, wou ek ook met die inhoud, storievertellings en lirieke seker maak dat dit vir mense kalmte en rustigheid kan bring, maar ook bemoedigend kan wees en hulle hoopvol laat,” sê Beekman.

Sy vertel dat dit altyd ʼn voorreg is om saam met Mouton op te tree. “Ek is altyd dankbaar om saam met haar te kan werk. Ons werk al jare saam, maar ek staan elke keer in verwondering oor haar talent.

Lize Beekman en Jaconell Mouton saam op die verhoog. (Foto: Christelle Pretorius)

“Die voordeel daarvan om saam met Jaconell hierdie projek aan te pak, was dat ons nie eers aan mekaar gewoond hoef te geraak het saam met die nuwigheid van ʼn aanlyn konsertopname nie.”

Beekman voeg by dat die gebrek aan ʼn gehoor tydens die opname van die aanlyn vertoning haar minder affekteer het as wat sy aanvanklik gedink het.

“Ek was effe benoud voor die tyd, maar ek het vir myself gesê daar is eintlik ʼn gehoor van ʼn magdom mense, ek kan hulle net nie op daardie gegewe oomblik sien nie. Ek het die gehoor vir myself in die lens van die kamera voorgestel.”

Sy verklap ook dat sy haar eerste album ná ʼn lang stilte van nege jaar einde vanjaar uitreik. “Ek het vir myself gesê ek gaan myself eers toelaat om ʼn nuwe album op te neem wanneer ek in my binneste voel ek is gereed en dit vir my weer vreugde bring. Ek wou nie enige iets forseer nie en ek is dankbaar dat die woorde en melodieë weer gekom het.”

Die nuwe album word vervaardig deur Mauritz Lotz. “Dit is die eerste keer dat ons saam aan ʼn album werk. Ek het die behoefte gehad dat die vervaardiger iemand nuut moet wees, want ek is ʼn ander mens as wat ek nege jaar gelede was. Daar het baie dinge in my lewe gebeur en ek wou hê die album moet die vooruitgang uitbeeld. Ek voel ʼn mens kan duidelik ʼn verskil in die klank hoor, maar tog is dit steeds onbeduidend Lize.”

Iemand het gesê is van Donderdag 17 September tot Dinsdag 22 September aanlyn te sien. Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.