Lize Beekman verbreek musiekstilte met nuwe album

Lize Beekman. (Foto: Verskaf)

In die nege jaar sedert haar vorige album het baie in Lize Beekman se lewe gebeur wat haar musiekpad vir ‘n wyle tot stilstand gebring het. Met haar nuwe album, Hier en nou, verbreek sy die stilte. Sy praat met Maretha Botes oor haar nuwe werk, wat in November uitgereik is.

Hoe het Hier en nou ontstaan?

Dit was nooit ‘n bewustelike besluit van ek gaan nou ‘n nuwe album maak nie. In die loop van verlede jaar het ek een lied geskryf sonder spesifieke beweegrede. Dít was die lied “Sê nou maar”. Die lyne het net in my kop begin draai. Dit het eenvoudig na my toe gekom. In my kop het ek gedink ek wil dit graag net as ‘n enkelsnit uitgee. Ek wou dit tydens inperking doen, want ek het gevoel die spesifieke lied kan vir mense hoop gee. Ek stuur dit toe vir Mauritz Lotz om die verwerking te doen, en sy reaksie op die lied was geweldig positief en inspirerend. Dit was so vreugdevol en die opgewondenheid wat hiermee saamgekom het, het my laat dink ek moet dalk nog ‘n lied of twee bysit. En voor ek weet, het ek ‘n album gehad. Toe sê ek vir hom ek kan voel in my binneste ek gaan spring en ’n album opneem.

Waarom Hier en nou?

Ek was “hier en nou” gereed en opgewonde om weer ‘n album op te neem. Dit was ongeforseerd en nie gebore uit verwagting nie, maar eerder vanuit ‘n plek van vrede en vreugde. Dis ‘n omarming van my passie vir die kreatiewe proses van skryf en die pad wat ‘n mens stap met die materiaal tot by ‘n voltooide album.

Hoe het jy die proses ervaar?

Dit was rustig en reg. Op geen stadium van die maak van hierdie album het ek enige vrese gehad nie. Mens sal kan sê daar moet vrees wees omdat ek vir so lank stil was – jy kon nie weet of daar nog iemand gaan wees wat sal belangstel nie. Selfs vanuit ‘n finansiële oogpunt kon dinge vir my vrees ingeboesem het. Maar dit is die wonderlike ding van die album gewees. Ek het net geweet dat ek dit wil omarm en geniet. Ek is baie dankbaar daarvoor.

Jy het ook ‘Kan alles net stil’ opgeneem, ‘n lied wat jy ná die verlies van jou sielsmaat geskryf het.

Ek het die lied drie maande ná my maat se dood geskryf. Dit was die enigste keer in daardie tyd wat ek aan ‘n instrument gevat of iets geskryf het. Dit was al wat ek met duidelikheid kon sê daardie tyd, dit was al woorde wat ek kon orden. En ek het hom weggebêre. Wanneer ‘n mens liedjies kies vir ‘n album moet jy al die kaarte op die tafel sit. Aanvanklik het ek gehuiwer, bloot omdat beide die liedjies “Kan alles net stil” en “Sê nou maar” in die koor fokus op die woord “stil”. Ek het eers gedink die ooreenkomste tussen die twee liedjies is te na aan mekaar en dat dit verwarrend kan wees vir die luisteraar, maar ek het besef dit is belangrik om albei op te sit, juis omdat al twee dieselfde tema van stilte het. Die rede? Verlies is iets wat almal ervaar.

Met hierdie twee liedere hoop ek dat mense die reis kan sien van die seer en pyn tot daar waar jy vir ander wil uitnooi na jou plek van innerlike vrede. Ek hoop ook dat mense met “Kan alles net stil” ook minder alleen sal voel in tye van hartseer en donker. Die tema van vrede en hoop word opgevolg in ander snitte soos “Ek wonder”, “Wag net ‘n oomblik”, “Jy is hier, geliefde my” en die titelsnit, “Hier en nou”.

Jy het ook vir die heel eerste keer jou musiek in die vaardige hande van Mauritz Lotz gesit vir produksie en verwerking.

Ek het in verwondering gestaan oor Mauritz se vermoë om nie net instrumentasie te skryf wat onder die lirieke en melodie lê nie, maar wat eerder met die essensie van elke lied vervleg is en dit komplementeer. Ek het geweldig respek vir die gawe wat hy het, en die mooi van hierdie musikale reis met hom sal my altyd bybly.

Die verrassing op die album is die lied ‘Oase’, wat deur Deon Meyer geskryf is. Hy sing ook die lied saam met jou.

Ek het gesing by Deon en Marianne se troue. By die ete ná die tyd het hy die gedig wat hy vir haar geskryf het, voorgelees. Coenie de Villiers was ook by die troue en terwyl Deon daardie gedig gelees het, het ek en Coenie al vir mekaar gekyk en ons het net geweet dié gedig moet musiek kry. Ons idee was om die musiek daarby te skryf, dit op te neem en vir hulle as geskenk te gee. Tydens die Woordfees verlede jaar het ons ‘n koffie-date met Deon en Marianne gereël en dit vir hulle gesing. Ons het toe reeds ook gevra of ás ek eendag ‘n nuwe album sou opneem, ek dit mag byvoeg. Toe die gedagte by opkom dat Deon die lied saam met my moet sing, het ek wel nie geweet of kán hy sing nie. Tydens die inperking het ek hom een aand gebel (ná ‘n glas wyn), en gevra: “Kan jy sing?” Sy antwoord was dat hy dink hy kan, maar hy wil eers oefen en dan kom vir ‘n “oudisie”. Hy het ‘n baie mooi stem. Dit is vir hom en Marianne baie spesiaal dat hy die lied saam met my sing.

  • Die album is beskikbaar op die grootste aanlynplatforms. Dié wat ‘n harde kopie verkies, kan dit aankoop by Lize se aanlynwinkel by www.lizebeekman.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.