Resensie: ‘Love tunes’ – verskeie kunstenaars

love_tunes

Love Tunes. Foto: Verskaf.

Deesdae gebeur dit al meer dat versamelings saamgestel word wat bestaan uit sowel Afrikaanse as oorsese treffers. Die suksesvolste voorbeeld hiervan die afgelope tyd was Groot tunes, wat vroeër vanjaar verskyn het en baie gewild was. Hierdie resep word nou voortgesit met die dubbelversameling, Love tunes, wat onlangs vrygestel is.

Die eerste snit op die album is “Let her go”, wat omtrent twee jaar gelede ’n groot treffer vir Passenger was. Katy Perry het die afgelope paar jaar ’n aantal groot treffers gehad, en “Unconditionally” is die een wat hier ingesluit is.

Bobby van Jaarsveld se jongste album, Maak ’n wens, is nog steeds baie gewild, en “Beter helfte” is die derde treffersnit wat dié album tot dusver opgelewer het. Foreigner het 30 jaar gelede ’n groot treffer met “I want to know what love is” gehad. Hierdie liedjie is nou al holrug gery, maar tog het Eden, saam met Coleske, dit reggekry om iets besonders daarvan te maak. Hul weergawe is trouens baie beter as die oorspronklike een. Dit is ook nou al byna vyf jaar sedert Bruno Mars op die musiektoneel verskyn het met sy eerste treffersnit, “Just the way you are”, wat lankal nie meer met Billy Joel se gelyknamige treffer verwar word nie.

Jay en Lianie het al ’n aantal treffers gehad, en “Lank lewe die liefde” was seker een van hul bestes tot dusver. Nog ’n kunstenaar wat die afgelope paar jaar groot sukses behaal het, is Riana Nel; “Dans” is een van haar grootste, en mooiste, treffers tot dusver. Jay is nie net Lianie May se gereelde sangmaat en lid van Eden nie; hy is ook ’n suksesvolle solokunstenaar. “Halwe beker” is een van die treffers van sy album Dis hoe ons rol.

Justin Bieber is nogal gewild onder tienermeisies, maar andersins is hy een van die mees gehate kunstenaars op die internasionale musiektoneel. “As long as you love me” is egter een van die beter liedjies wat hy tot dusver opgeneem het. Nog ’n kunstenaar wat byna in dieselfde kategorie val, is Karlien van Jaarsveld. Sy is dalk baie gewild, maar daar is ook mense wat hoegenaamd niks van haar hou nie. Hoe ook al, sy het groot sukses behaal met “Hande”, die eerste treffersnit van haar vorige album.

As daar een snit is wat spesiale vermelding verdien, is dit “From the bottom of my heart”, waarop Watershed se hoofsanger saam met Blackbyrd sing. Hulle is seker tans Suid-Afrika se voorste popgroep en dis maklik om te verstaan hoekom hulle so gewild is. Michael Lowman is nog een van ons land se beste kunstenaars, en “Girl saves boy” is een van ’n aantal treffers wat hy tot dusver gehad het. Die laaste snit op die eerste CD is Ellie Goulding se pragtige weergawe van The Waterboys se treffer “How long will I love you?”. Ellie het een van die mooiste sopraanstemme wat ek al gehoor het.

Die eerste snit op die tweede CD is die titelsnit van Lady Antebellum se album Golden. Lionel Richie het in die 1980’s ’n aantal groot treffers gehad, maar “Just for you” is een van sy nuwer treffers. “Say (All I need)” was een van die treffersnitte op One Republic se eerste album. Een van die snitte wat veral by jonger luisteraars byval sal vind, is “She looks so perfect” van 5 Seconds of summer. Riana Nel se tweede bydrae tot hierdie album is die titelsnit van haar album Die moeite werd. Bobby van Jaarsveld het groot sukses behaal met “’n Vrou wil dit hoor”, wat ook in die rolprent As jy sing voorgekom het.

Cat Stevens het “The first cut is the deepest” in 1967 geskryf, en Sheryl Crow se weergawe, wat hier ingesluit is, het in 2003 verskyn. Nog ’n weergawe van ’n bekende liedjie deur Eden wat op hierdie versameling ingesluit is, is “Because it’s love” van The Kelly Family, en weer eens is dit ’n verbetering op die oorspronklike een. “Beter as liefde” is die tweede snit van Karlien van Jaarsveld wat hier voorkom. “You’re still the one” was ’n reusetreffer vir Shania Twain en is nou nog gewild.

Die laaste twee snitte op die versameling het iets gemeen, naamlik Coleske. Richard Marx se eerste groot treffer was “Right here waiting”, maar kort nadat dit hier vrygestel is, het Coleske dit opgeneem en ook sukses daarmee behaal. Coleske se gelyknamige album is later vrygestel en “My only”, die groot treffer van daardie album, is hier ingesluit.

Ongelukkig was dit nie moontlik om iets oor elke snit op hierdie versameling te sê nie, maar daar is iets vir elke smaak daarop ingesluit en daarom kan dit sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.