Lucas: Een uit ’n miljoen

lucas_maree

Lucas Maree. Foto: Argief.

Nadat Koos du Plessis in 1984 in ’n motorongeluk oorlede is, het Lucas Maree hom gou as sy opvolger gevestig. Aangesien hy vandeesweek sy 63ste verjaardag sou vier, is dit dalk goed om sy loopbaan in oënskou te neem.

Lucas Maree is op 22 Julie 1952 in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Langenhoven in Pretoria matriek behaal. Hy het ’n dramagraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en later ook Nasionale Diplomas in filmproduksie en fotografie behaal. Hy het later by die koerant Oggendblad in Pretoria as fotograaf gewerk en bevriend geraak met Koos du Plessis.

Lucas se eerste album, Kiekies, het in 1984 verskyn, en benewens die titelsnit het dit die treffer “Victoriabaai”, ter nagedagtenis aan sy ma, opgelewer. Nog ’n treffer was “Wiegeliedjie”, wat regtig iets besonders was. Naas sy eie komposisies het hy ook Koos du Plessis se “Vermiste mense” ingesluit. Twee jaar later het hy en Jannie du Toit saam gewerk aan Koos du Plessis, ’n huldeblyk. Lucas se stem kon op vyf van die snitte gehoor word, terwyl hy en Jannie die eerste kunstenaars was wat een van Koos se bekendste komposisies, “Gebed”, opgeneem het.

In 1989 het Lucas betrokke geraak by Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek. Hulle het een album opgeneem, naamlik Winde van verandering, maar omdat Lucas nie van die politieke strekking van die album gehou het nie, het hy en Anton opgehou om saam te werk. Nogtans het sy komposisie, “Jerigo se mure”, wat hy saam met die Kommissie van Ondersoek gesing het, ’n treffer geword.

Lucas se grootste kommersiële deurbraak het in 1992 gekom. Die titelsnit van sy CD, Miljoen, het onmiddellik ’n treffer geword, en dit het daartoe gelei dat “Droomvrou” en “Nog een koppie koffie” ook gereeld oor die radio gespeel is. Die Kiekies-konsert (Weer ’n keer) het van sy vorige treffers bevat, maar ook ’n paar wat vir die eerste keer opgeneem is, soos “Weer ’n keer” en “Die weduwee se kruik”.

Hy het ook met Leon Schuster gespot nadat Leon hom in sy skelmkamera-rolprent You must be joking uitgevang het. Met sy album Mot om die kers het sy humorsin baie sterk na vore gekom, veral op “Twee vingers”, waarin hy oor padwoede gesing het, en “Die maerliedjie”, waarin hy met homself gespot het. Benewens sy eie komposisies het hy ook Coenie de Villiers se komposisie “Hooglied” opgeneem.

In 2001 is Lucas se album Blouberg vrygestel, wat bestaan het uit FAK-liedjies waarvan hy die woorde herskryf het, onder meer “Vat jou goed en trek Ferreira”, “My hartjie my liefie”, “Al lê die berge nog so blou” en “Ek soek na my Dina”. Blykbaar het sy dogters hom vertel dat hulle liedjies van The Beatles by Voortrekkerkampe gesing het omdat die FAK-liedjies “vervelig” was. Dit het hom laat besluit om hierdie album op te neem.

In dieselfde jaar het Lucas sy Engelse album Things vrygestel. Lucas het gesê dit was makliker om in Afrikaans as in Engels te skryf omdat hy in Afrikaans gedink het. Op hierdie album het hy bekende internasionale treffers soos “Wonderful tonight” van Eric Clapton, “To make you feel my love” van Bob Dylan, “Vincent” van Don McLean en “Sometimes when we touch” van Dan Hill ingesluit. Nog ’n album wat dieselfde jaar verskyn het, was Lucas en Kie, waarop twee van sy dogters, Monica en Linda, saam met hom gesing het.

Lankverwag het eers in 2009 verskyn, en hierop het hy hulde gebring aan Jannie du Toit, Sias Reinecke (sy ma het blykbaar baie van “Klein-Karoo” gehou), Stef Kruger en Koos du Plessis.

In 2010 het dit bekend geword dat Lucas se gesondheid besig was om agteruit te gaan en van sy musiekvriende het besluit om ’n huldeblykalbum op te neem. Onder hulle was Mathys Roets, Steve Hofmeyr, Danie Niehaus, Anton Goosen, Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock. Die gevolg was die album Een uit ’n miljoen vir Lucas Maree. Lucas is egter toe al met kanker gediagnoseer en op 18 Februarie 2011 is hy in die ouderdom van 58 jaar aan dié siekte oorlede.

Lucas was een van ’n handjievol kunstenaars vir wie musikale integriteit nie onderhandelbaar was nie. Hoewel hy ’n paar treffers gehad het, het hy nooit deel geword van die groep kunstenaars wat gedink het hulle kon baie geld met oppervlakkige en middelmatige musiek verdien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.