Lucinda vind identiteit met solodebuut

Lucinda. (Foto: Picture Me and U)

As solokunstenaar wou Lucinda met haar debuutalbum, Uitgeskryf, haar identiteit as musikant ontdek.

Ná jare as deel van die Afrikaanse musiekgroep Die Melktert Kommissie, het sy uiteindelik haar eie materiaal geskryf in wat sy noem “’n uitdagende en emosioneel moeilike tyd”.

“Musiek gee woorde aan dit wat in jou binneste borrel, sonder dat jy dit met enigiemand bespreek. Die ironie is dat ʼn mens dit dan later weer deel met almal. Ek hou van die idee daarvan. Dit help my genees, en ná genesing kan ʼn mens dit weggee en moontlik ander help wat met dieselfde dinge worstel,” sê Lucinda oor haar jongste uitreiking.

Sy het in 2019 saam met Bouwer Bosch ʼn kortalbum getiteld Waar die see die kus omhels uitgereik en het verlede jaar haar eerste solo-enkelsnit genaamd “Weerloos” bekendgestel.

Lucinda vertel sy dink in prentjies en metafore en dit word in haar lirieke weerspieël. “Ek skryf soveel as wat ek kan in die oggende om van die geraas in my kop ontslae raak. Ek vind dit help dat ek later in die dag spasie in my brein het om sagter te wees op myself. Dit help baie in ʼn tyd waarin ons oorweldig voel.”

Lucinda sê sy het die titel vir die album gekies omdat sy gevoel het sy het haarself ge-detox van skryfwerk en kuns. Sy skets ook graag met balpuntpen en het in Desember verlede jaar ʼn uitstalling van dié werke, ook getiteld Uitgeskryf, aangebied.

“Daar is ʼn goue draad wat regdeur al die liedjies vloei. Die album is gebore in ʼn moeilike tyd en die liedjies is gesprekke wat ek met myself gevoer het. Luisteraars hoef nie die liedjies noodwendig dieselfde te interpreteer soos wat ek dit geskryf het nie en dit kan ʼn ander betekenis hê vir die persoon as vir my.”

Lucinda. (Foto: Picture Me and U)

John-Henry Opperman, jarelange vriend van Lucinda en voorsanger van die musiekgroep Klopjag, sing saam met haar in die snit “Ons is ons”, en die aktrise Mila Guy sing saam in die snit “Jou grap”.

Marie-Louise Pretorius, ook van Klopjag, het die tjello in die album bespeel. Wesley van der Westhuizen het saam met Lucinda die musiek geskryf, die album vervaardig en die meerderheid van die instrumente bespeel. Peach van Pletzen het die finale meng van die album gedoen.

Lucinda sonder die snitte “Ons is ons”, “Kwaadpraat”, “Rede vir vrede” en “Meer as die reën” uit as haar gunstelinge in die album.

ʼn Musiekvideo vir “Ons is ons” is ook onlangs uitgereik. John-Henry se produksiemaatskappy, Media Farm, het die vervaardiging van die video gedoen.

Hoewel Lucinda lief is vir neutrale kleure en selfs ʼn swart-wit-omslag vir die album wou kies, het John-Henry haar oortuig om met pastelkleure te speel.

“Dit is steeds gelukkige kleure, maar ʼn bietjie meer afgedraai. Ons het die foto’s vir die album op dieselfde dag geneem, want ek het gevoel dit is ʼn goeie manier om my album af te rond. Die album voel vir my diep, maar steeds hoopvol. Daarom het helderder kleure as neutrale kleure beter gepas.”

Die opname van die album was ʼn organiese proses, met sommige van die liedjies wat in Bouwer Bosch se ateljee opgeneem is en ander wat in Wesley se woonstel opgeneem is.

“Sommige dae het ek na Wesley gestaar en gevra: ‘Wat is my klank?’ Na so lank in Die Melktert Kommissie en só lang hiatus van musiekmaak het ek en hy dit saam uitgewerk en gespoeg en plak aan die album. Ek is so bly ek het hom ontmoet en dat hy bereid was om saam met my te werk.”

Sy vertel dat sy geseën was met ongelooflike musikante wat saam met haar aan die album gewerk het.

“As ek die dag af voel oor die inperking en ek maak my oë oop en kyk met wie ek omring is, kan ek nie anders as om dankbaar te wees nie. Dit is mense wat regtig mekaar op ʼn kreatiewe vlak ondersteun en inspireer.”

Daar is verskeie stadiums in ʼn mens se lewe waar jy nie anders kan as om na binne te kyk nie, voeg sy by.

“Ek voel as die tyd kom kan dit ʼn groot geskenk wees, want dit is belangrik om jouself te leer ken. Hoe meer intiem ʼn mens kan skryf, hoe meer universeel word jou musiek. Almal kry seer en almal sukkel en almal steek dinge weg en almal hoop en droom. Ek het al die seer en deurmekaar dinge uitgeskryf.”

Uitgeskryf is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Ons is ons”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Hierdie vars en opregte benadering tot musiek is presies wat die mark nou nodig het. Die eerlike storielyn is realisties, iets wat elkeen van ons al beleef het, of nog sal beleef. Die eenvoud van die aanbieding maak dit juis treffened vir so baie van ons wat na die minimalistiese, maar kwalitatiewe in ons lewens strewe, Ek wens Lucinda ‘n reuse sukses op hierdie album toe. Mag platinum-status spoedig volg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.