Luidkeels dieper- Retief Burger

Die afgelope klompie jare was daar ‘n ontploffing in Afrikaanse lof-en-aanbiddingsmusiek. Een van die voorlopers tot dusver was Retief Burger, wat al verskeie Luidkeels-albums die lig laat sien het.

Die jongste album, Luidkeels dieper is tydens die gelyknamige konferensie in September verlede jaar opgeneem, en soos gewoonlik bestaan die album hoofsaaklik uit nuwe komposisies. Daar is ook ‘n verwerking van ‘n ou bekende lied, maar meer later daaroor. Die eerste snit, Heilige Here, is ‘n uitbundige loflied wat Retief self geskryf het.  Koning van die eeue, nog een van Retief se eie komposisies, is ‘n snit wat baie gewild kan word, en wat selfs deur gemeentes aangeleer kan word. Retief was verlede jaar saam met Louis Brittz, Helmut Meijer en Neil Buchner by die projek In verwondering  betrokke, en Hy leef is een van die liedere wat dit opgelewer het.

Op U’s my God sing Riana Nel saam met hom, en hier bewys Riana dat sy meer is as net die kommersiële Afrikaanse sangeres wat die afgelope jaar of wat so gewild geword het. Riana het aanvanklik Christelike musiek gesing voordat sy haar op Afrikaanse musiek begin toespits het. Hemelheer, nog een van Retief se eie komposisies, is die eerste werklike aanbiddingslied op die album. Dit is ‘n pragtige snit wat gerus ook deur gemeentes aangeleer kan word.  Met my hart is nog ‘n pragtige snit wat Retief self geskryf het.

Op Ek wil sien sing die bekende aanbiddingsanger Mervis van der Merwe saam met hom.  Ons glo is ‘n verwerking van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat Retief self gedoen het.  Nog ‘n bekende aanbiddingsanger, Rick Moser, sing saam met Retief op Ek weet U is lief vir my.  Op die vorige Luidkeels-album, Luidkeels oorgegee, het liefhebbers van Christelike musiek vir die eerste keer kennis gemaak met Leza Liversage, wat die pragtige lied Ek het U lief op dié album gesing het en intussen ook haar eie album vrygestel het. Leza sing saam met Retief op Hier by U, nog een van Retief se eie komposisies.

Hoe wonderbaar is nog ‘n uitvloeisel uit die In verwondering-projek, en dit is goed dat Retief dit ook op hierdie album ingesluit het. U heers is deur Leza geskryf, en is beslis een van die hoogtepunte op die album. Die beste snit op die album is egter heel laaste, en is die verwerking van ‘n ou lied waarna ek netnou verwys het.  Retief het eindelik die wanopvatting dat Ek sien ‘n nuwe hemel kom ‘n begrafnislied is, behóórlik die nek ingslaan, en Leza se agtergrondsang is werklik iets besonders.  Hopelik sal hierdie nuwe verwerking maak dat mense met nuwe oë na dié lied sal kyk.

Retief het, soos gewoonlik, weer met ‘n baie goeie album vorendag gekom en daar is ‘n hele aantal snitte wat geskik is vir eredienste van alle denominasies.  Die slegte nuus is dat dit vir eers die laaste Luidkeels-album sal wees, aangesien Retief  hom ook nou op ander aspekte van sy bediening wil toespits. Hopelik sal dit nie lank duur voordat hy besluit om weer ‘n album op te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.