Luister: 11-jarige met engelstem bekoor gehore

Scott Engelbrecht kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Scott Engelbrecht kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Op 11-jarige ouderdom is die sanger Scott Engelbrecht geen vreemdeling op die verhoog nie en is hy slaggereed om met sy kinderskoene diep spore te trap in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Scott was ses toe sy ouers sy sangtalent ontdek het. Hy het na ʼn Paul Potts-rolprent sit en kyk en het die Italiaanse woorde van die liedjies in die fliek nagemaak.

Hy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat hul klavierstemmer eendag vir sy ouers gesê het dat hy musieklesse moet neem nadat sy hom hoor sing het.

“Sy het voorgestel ek kom by Yulia Patrascoiu uit, en ek neem tot vandag toe nog lesse by haar,” vertel dié jong sanger oor hoe sy paaie met dié van die bekende Russiese operasangeres gekruis het. Malie Kelly, ʼn bekende in die plaaslike musiekwêreld, het hom ook onder haar vlerk geneem.

“Klassieke musiek is vir my die mooiste musiek en ek voel dit is ook die musiek wat die beste by my stem pas,” sê Scott. Hy het verlede jaar sy eerste selfgetitelde album uitgebring met sy weergawes van treffers soos “O mio babbino caro”, “Funiculi funicula” en “Ave Maria”.

“How Great Thou Art” en “Oh Holy Night” verskyn ook in die album saam met “Jerusalem”. ʼn Musiekvideo van “Jerusalem” is ook op YouTube en plaaslike televisiekanale te sien.

Gé Korsten is een van Engelbrecht se helde en hy het onlangs die geleentheid gekry om deel te wees van ʼn groot Gé Korsten-huldeblykkonsert, Gé Sing: Hoor my lied. Korsten se treffer “Sonder jou” is ook in Engelbrecht se album te hoor.

Dié konsert is by Carnival City se Big Top Arena aangebied en Engelbrecht het saam met sterre in die bedryf soos André Schwartz, Louis Loock, Arina de Witt, Jannie Moolman en Tasché van The Voice-faam opgetree.

“Dit was vir my só lekker om deel te wees van hierdie konsert. Die mense het my baie tuis laat voel en dit was die wonderlikste ervaring,” sê hy.

Scott, ʼn Gautenger, wat ook einde verlede jaar in die Kersfees Skouspel in Pretoria en Kaapstad saam met die internasionale kunstenaar Leo Sayer te sien was, vertel hy beplan nie om binnekort weer ʼn vollengte album uit te bring nie.

“Ons beplan eerder om elke twee maande ʼn enkelsnit uit te reik,” sê hy opgewonde.

Kyk hier na Scott Engelbrecht se video van “Jerusalem”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Rika ·

WOW, die seun het n stem aan hom… Baie baie mooi. Wardeur jou talent seun dis n spesiale geskenk van God

Vida ·

Jong man, jy het n wonderlike talent ontvang. Gebruik dit tot eer van God se naam. Jy gaan nog vêr kom!

PJN ·

Die seun sing soos n engel en het ‘n fantastiese verhoogpersoonlikheid. So volwasse vir sy ouderdom.

Ronel M ·

Ek neem aan die oulike jongman het ook bewondering vir Mnr Duncan Fourie en die Lindenkoor wat sy video so skitterend afrond?
Welgedaan Duncan en Linden!

MH ·

Pragtige weergawe van een van my geliefkoosde liedere. Die seun het ‘n mooi toekoms voor as sanger.
Ek moet Maroela Media egter met een ding reghelp: Die lied wat hy sing is “The Holy City” en nie “Jerusalem” nie. The Holy City is in 1892 gekomponeer deur Michael Maybrick, alias Stephen Adams, met lirieke deur Frederic Weatherly.
Jerusalem is in 1916 gekomponeer deur Sir Hubert Parry met woorde uit ‘n gedig van William Blake van 1804.

Wielspore ·

Bloed, puik stem, puik vertoning, puik talent. Voorspoed in die sangwêreld.

Geliefd ·

Pragtig Scott, ons het jou al verskeie kere sien optree saam met Hoërskool Linden se fantastiese koor!! “Jerusalem” is ook opgeneem in samewerking met Lindenkoor!

Alle sterkte jongman!!

Dos Knoetze ·

Dit is hoendervleis mooi. Die seun het n besondere talent!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.