Luister: 2018 is Jannie du Toit se oesjaar

Jannie du Toit is ʼn Afrikaanse musieklegende en een van die min kunstenaars wat die toets van tyd kon deurstaan. Oor die afgelope paar jaar het hy hom daarop toegespits om musiek van sy gunstelingmusikante te sing, maar nou het hy ook weer ʼn album, met tien oorspronklike snitte, vrygestel.

Die album is getiteld Oesjaar 2018. Du Toit verduidelik in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media: “Ek het in die 70’s en 80’s begin skryf en baie, baie geskryf. Veral toe ek in diens van Tukkies was, waar ek verskillende musiekblyspele geskryf het en elke musiekblyspel het omtrent 25 liedjies behels.

“Ek het oor die jare agtergekom dat ek ongelooflik lief is daarvoor om te sing, en so het dit my al hoe minder gepla om tydlose musiek te sing deur mense soos Jacques Brel, Koos du Plessis en Lucas Maree. Ek raak toe nou lus om weer te skryf. Toe dink ek: kom ek maak die fokus van die album juis goed wat ek vanjaar gaan skryf. Ek neem my voor ek gaan ʼn klomp liedjies skryf en dit is toe wat gebeur het.”

Du Toit benadruk dat hy oor temas skryf wat hom na aan die hart lê. “Ek raak nie eintlik temas aan waarvoor ek nie omgee nie, hoor, dan sal ek dit liewer los,” lag hy.

“Ek wil oor iets skryf wat regtig vir my saak maak. Ek het byvoorbeeld geskryf oor liedjieskrywery. Jy kan jou nogal voorstel dit is ʼn ding wat my roer. Ek het geskryf oor geloof – ek glo vás. Ek het ʼn liedjie geskryf, “Skilder van die Wolke”, waarin ek sê ek bly glo in daardie Skilder, want sy werke ontroer my.

“Ek skryf oor [die ontslape en bekende pianis] Christa Steyn, saam met wie ek 20 jaar lank letterlik die wêreld vol gereis het. Ons was in 25 lande saam en in 20 van hulle het ons saam musiek gemaak.”

Hy het ook oor Madiba geskryf. “Ek is ʼn groot bewonderaar van die liefde wat hy op die ou end geopenbaar het toe hy sy groot stryd gestry het. Kan jy jou voorstel ʼn ou sit 27 jaar lank in ʼn tronk, en hy word die leier van ʼn nasie? Ek is oortuig daarvan dit het nog nooit vantevore in die geskiedenis van die wêreld gebeur nie dat dáái ou dan sê, kom ons gebruik ʼn stukkie van Die Stem, en ons sit dit in die volkslied. Enige ander ou sou gesê het dis verby met daai lied, soos die ouens nou ook weer doen, en dit is nie ouens van wie ek hou daai nie. Ek hou van ʼn ou wat met daardie vergewensgesindheid uit die tronk uit gekom het.”

Die eerste enkelsnit van die album, “Jy kyk sag”, het Du Toit vir sy vrou, Therina, geskryf. “Dat iemand so sag na jou kan kyk dat jy skielik voel: weet jy wat, dalk is ek ook orraait … dit is nogal fantasties.”

Du Toit raak emosioneel wanneer hy oor sy huldeblyk aan Steyn gesels. “Coenie de Villiers het destyds ʼn onderhoud met Christa gehad, seker nie langer as twee weke voor sy oorlede is nie. Sy sit daar in die ateljee en het nie hare nie, en sy het daai dingetjie wat sy opgehad het, afgehaal, want hulle het gesels daaroor en sy het gesê, ja kyk, dis hoe ek nou lyk. En toe vra Coenie vir Christa: ‘Hoe voel jy nou?’ Sy het vol in die kamera gekyk, en sê toe net: ‘Sy genade is genoeg.’ Nou, natuurlik is dit die titel van die lied; ek het geen ander gedagte eens vir ʼn oomblik gehad nie.”

Hy kan nie uitgepraat raak oor Clinton Zerf, wat uit Suid-Afrika na Nieu-Seeland geëmigreer het, se musiekverwerkings op die album nie. “Dis so wonderlik, ek sit met my selfoon, druk ʼn knoppietjie en speel op die kitaar my liedjie, dan druk ek weer ʼn knoppie en stuur dit vir Clinton in Nieu-Seeland. Hy stuur die bladmusiek van die volledige verwerking vir ons terug.”

Du Toit het onlangs die album by die Atterbury-teater in Pretoria bekendgestel. “Die reaksie was van die boonste rak. Ons het pragtige bywoning gehad en besonder positiewe terugvoer van die gehoor af gekry. Dit het weereens bewys ʼn ou moet sing waaroor jy regtig omgee, want dan gaan dít gebeur.”

Oesjaar 2018 is te koop by alle groot musiekhandelaars en sal eersdaags op iTunes beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.