Luister: 4Werke vertel oor hul jongste album


Liezel Pieters, Ray Dylan, Elizma Theron en Nicholis Louw van 4Werke (Foto: Facebook via 4Werke)

Liezel Pieters, Ray Dylan, Elizma Theron en Nicholis Louw van 4Werke (Foto: Facebook via 4Werke)

Die gewilde popgroep, 4Werke, het onlangs hul jongste album vrygestel en sê dié album se titel is nie verniet 4Warm nie.

Die groep, Nicholis Louw, Elizma Theron, Ray Dyllan en Liezel Pieters, het onlangs ʼn gedaanteverwisseling ondergaan, toe die sangeres Monique, die groep verlaat het.

“Monique het gevoel sy wil bietjie konsentreer op haar solo-loopbaan en ons gun dit vir haar. Liezel Pieters is ʼn fantastiese sangeres en ons is baie gelukkig dat sy met die eerste probeerslag suksesvol was. Ons het al baie goeie terugvoer oor haar gekry,” het Nicholis aan Maroela Media vertel.

Hy sê aanhangers kan selfs beter Afrikaanse musiek as voorheen verwag. “Die nuwe album is ons beste een ooit. Ek dink dis baie vriendelik op die oor en ek dink aanhangers sal dit geniet om die album van voor tot agter deur te luister.”

Hoewel die groep steeds hul kenmerke Afrikaanse popmusiek maak, bevat die album bietjie meer Afrikaanse countryliedjies as voorheen. “Dit maak nie saak wat ons opneem nie, dit is belangrik dat die persoon wat daarna luister van elke liewe liedjie op die album hou. Afrikaanse country, boeremusiek en pop verskyn op die album en hoewel die aanslag klein bietjie anders is, glo ons ons aanhangers sal meer daarvan hou.”

Aanhangers moet ook nie te bekommerd wees dat dié groep nie meer “die ou 4Werke” is nie. “Ons maak steeds dieselfde musiek. Die aanslag is bietjie anders met dalk bietjie meer countrymusiek. Ek dink dis ʼn evolusie en aanhangers kan nog meer treffers van 4Werke verwag. Ons hoop om ten minste ses treffers van die album te hê.”

Die groep het ook vroeg in Mei hul eerste musiekvideo van die nuwe album, “Jy slaan die wind in my seile”, vrygestel.

Besoek 4Werke se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.