[Luister] Aardklop: Kuier spotgoedkoop saam op Die Bult, in teaters

Amanda Strydom is by Aardklop met ‘So onner deur die maan’ (Foto: Facebook)

Aan ʼn wenresep durf verander jy nié – daarom word die Aardklop- nasionale kunstefees vanjaar wéér op Die Bult in Potchefstroom, waar die hart van die fees is, gehou.

Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, sê feesgangers kan dié jaar weer uitsien na ʼn spotgoedkoop terrein en vermaak vir die hele gesin.

“Die mense was verlede jaar baie opgewonde dat die fees teruggeskuif het na Die Bult toe omdat die hartklop van die fees op dié terrein is. Aardklop bly vanjaar weer op Die Bult en die toegang bly boonop ook dieselfde. Toegang tot die terrein is weer R20 – kinders onder 12 jaar is gratis en ʼn weekpas kos R60. Dis spesifiek só gedoen sodat die feesganger nog ʼn geldjie het om die terrein, die stalletjies en die fees te ondersteun. Jy moet natuurlik ook produksiekaartjies koop – ons is immers ʼn kunstefees,” vertel sy.

Vanjaar se fees spog onder meer met feeskarakters – ʼn karakter wat elke feesganger beliggaam.

“Ons wil hê elke soort feesganger moet hom- of haarself kan geniet by vanjaar se fees. As jy net wil rondloop op die terrein en iets drink, na die gratis musiek gaan luister of die Boeke-oase wil ondersteun, kan jy dit doen. Ons wil natuurlik ook ʼn goeie aanbod daarstel vir die meer kunssinnige feesganger.

“Ons het verlede jaar besef hoeveel verskillende mense van die fees ʼn sukses maak. Daar is die Sannie Smulpaap en die Teaterstukkie en die Musiek-moegoe en die Kunste-cowboy en nog ʼn hele rits ander karakters. Ons wil elke feesganger vier; en ons hele bemarkingstrategie word gefokus rondom die karakters. Ons wil sê: Kom hou fees saam met ons en kies ʼn karakter!”

Strooijonker met De Klerk Oelofse (Foto: Facebook)

Strachan sê sy wil feesgangers vanjaar vra om uit hul gemaksone te skuif en minstens een verhoogproduksie op die fees te ondersteun. Afgesien van die bekende kunstekonings en koninginne soos Sandra Prinsloo, Antoinette Kellerman, Illse Roos en Dawid Minnaar, spog die fees vanjaar met 25 debuutwerke waarin jong en ervare kunstenaars te sien is.

“Teaters landwyd sukkel. ʼn Fees soos Aardklop bied vir meer as 700 mense in die bedryf werk. In die ekonomiese tye waarin ons landwyd is, het almal ʼn platform en werk nodig. As elke ou wat feesterrein toe gaan net een kaartjie na ʼn produksie koop, sal dit ʼn geweldig positiewe uitwerking hê.”

Sy wil onder meer hê feesgangers moet vanjaar hul gemaksone tuis laat.

“Ons het ʼn reuseprogram. Ons streef na balans, so die teaterstukke is baie divers. As jy na die feesgids of die feesprogram kyk, sal jy iets kry waarvan jy hou. Maar ons wil tog die mense sover kry om uit hul gemaksone te kom en ʼn ander wêreld te ontdek. Daar is soveel werke wat vanjaar baie gaan beïndruk, onder meer DEURnis: In dié produksie is daar één akteur en net één gehoorlid. Dit beloof om geweldig goed te wees. Kry ʼn feesgids en loer onmiddellik!”

Vanjaar se musiekaanbod is ook groter as vorige jare.

“Dit is ʼn skaars geleentheid wat mense in die Noorde kry om die Universiteit Stellenbosch se koor hier te sien. Vanjaar bied Aardklop ook regtig iets vir almal met bekendes soos Laurika Rauch, Loki Rothman, Stef Bos, Coenie de Villiers, Hemelbesem, Mathys Roets, Rocco de Villiers, Charl du Plessis, Wits Trio, Radio Kalahari Orkes, Joshua na die Reën en vele meer. Ons bied regtig iets vir almal en nooi elke feesganger om sy feeservaring self saam te stel. Wat ook al jou smaak, styl, voor- of afkeure, jy sal vir seker feesvier na #hartelus.”

3-In-1 met Casper de Vries, Schalk Bezuidenhout en Hannes Brümmer (Foto: Facebook)

Hier is ʼn paar dinge waarna jy veral moet uitkyk:

“Ons luister na die publiek. Die enigste kritiek wat ons verlede jaar gekry het, is dat ons die Langtafel moet terugbring. Ons het natuurlik ook die Kuns Safari wat die fees afskop vanjaar. Dis ʼn lekker partytjie,” sê Strachan.

  • Taxi Teater – die produksie word vanjaar uitgebrei. Vanjaar vaar kunstenaars die strate in op soek na nuwe talent. Wanneer die feesganger in die taxi spring, kry hy nie net die plaaslike ervaring nie, maar ook die jong talent.
  • Musiekdebuutwerke soos Die Woordenaars (met Stef Bos, Spoegwolf, Jo Black, Koos van der Merwe en Herman Kleynhans) en Ekstravaklassiek (Chris Chameleon).
  • Die Aardklop Pronk Podium is die nuwe platform vir tiener- en studenteproduksies.
  • Van een-tot-een-teater – één akteur en één gehoorlid – tot gemengdemedia-installasieteater.
  • PG: ʼn Lewe Vol … is ʼn huldeblyk aan dr. P.G. du Plessis, bekroonde dramaturg, draaiboek- en romanskrywer en storieverteller.

Hoe gemaak?

Aardklop word aangebied tussen 2 en 8 Oktober. Kaartjieverkope open op 30 Julie by Computicket. Toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20.

Vir meer inligting, besoek Aardklop se splinternuwe webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.