Luister: ADAM is ‘deel van die nuwe generasie van Afrikaans’

ADAM

Die Afrikaanse musiekgroep ADAM, bestaande uit Hugo Ludik, Kyle Grant en Reynardt Hugo, het ná die vrystelling van sy jongste album, Bewe, vroeër vanjaar sy identiteit as groep ietwat verskuif.

Dié bekende groep sê sy jongste album is soos om deur die lens te kyk van iemand wat ʼn trotse Suid-Afrikaner is.

“Daar is beslis ʼn tema van emosionele patriotisme wat deur die album loop,” het Grant gesê. “Dit is nie polities van aard nie, maar wel ʼn emosionele patriotisme: trots om Afrikaans te wees, trots om Suid-Afrikaans te wees, trots om deel van die nuwe generasie van Afrikaans te wees. Dis ongetwyfeld ʼn tema op die Bewe-album.”

Ludik het gesê hoewel die meeste liedjies op die album oor hoop gaan, is daar ook ʼn paar wat na hul kommer oor die land verwys.

“Daar is ook een of twee liedjies, veral ons nuwe enkelsnit ‘Kalmeer’, wat kwessies wat ons pla oor die land aanraak. Toe ons die album geskryf het, was baie van ons so effe in ʼn moeilike fase. Maar die meeste liedjies op die album spreek van hoop en 90% het ʼn emosionele konnotasie met ons land en hoe ons daaroor voel,” het Ludik gesê.

Al is sommige liedjies ernstiger as ander, is dit steeds vir ADAM belangrik om trots Suid-Afrikaans te wees in alle aspekte.

“Twee liedjies, ‘Sê my’ en ‘In die water’, gaan veral oor hoe mooi Suid-Afrikaanse meisies is. Ons dink regtig hulle is die mooiste in die wêreld,” het Ludik gesê.

ADAM

“Ons het al die voorreg gehad om die wêreld vol te toer, en elke keer dat ons weggaan, is die dinge wat ek die meeste mis ons eie kos, eie bier en eie meisies. Ek wou nog altyd ʼn liedjie daaroor skryf, en nou het ons!”

Dié groeplede het al ʼn ver pad gekom van waar hulle begin het en hul jongste album onderstreep die groei wat binne ADAM plaasgevind het.

“Ons neem onsself as musikante baie ernstig op. Ek dink in elke opsig het ons verbeter: ek, Kyle en Reynardt het almal baie gegroei,” het Ludik gesê.

“Ons voel dat Afrikaans ʼn dinamiese taal is, en vir ons is dit hartseer dat mense dink Afrikaanse musiek moet klink soos dit 20 jaar terug geklink het. Die enigste manier waarop die Afrikaanse taal aan die lewe kan bly, is deur te groei. As dit nie voortdurend groei nie, gaan dit uitsterf.

“Ons wil Afrikaans vorentoe neem en met elke album grense verskuif, en ons voel asof ons dit met dié album nog meer as ooit gedoen het.”

Dié musiekgroep se eerste musiekvideo vir die liedjie, “Sê my”, het baie aandag getrek, met die drie groeplede wat soos vroue aantrek en flankeer met hul manlike self in ʼn kroeg.

“Die konsep was my idee,” het Grant gesê. “Die liedjie self was baie tong in die kies, so ons wou ʼn musiekvideo maak wat daarby pas. Die drie van ons het vroue én zef ouens in ʼn klub gespeel. Dit is bietjie van ʼn grapmakery oor wat meisies en ouens in klubs doen.”

Grant sê die terugvoer wat hulle op die album kry, is baie goed omdat daar iets vir almal is.

“Daar is folk– en dansmusiek, ballades en dieper liedjies, so daar is iets vir almal. Die produksies is baie goed. Ons het baie hard aan die album gewerk en is helse trots daarop.”

Bewe is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars, asook digitaal op iTunes, Spotify en Deezer. Besoek ADAM se Facebook-blad vir meer besonderhede oor komende vertonings.

Kyk die musiekvideo van Sê my hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aanbieder ·

Hallo julle, hier is geen potgooi beskikbaar nie. Sien uit daarna, baie dankie. Waardeer al hierdie potgooi-onderhoude. Groetnis van Whale Coast 91.4FM

Tania Heyns ·

Dagsê Aanbieder

Dankie vir jou! Ons vra om verskoning, die potgooi behoort nou te wys.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.