Luister: Adam Tas en ander kunstenaars sing vir die boere


Adam Tas het by die geleentheid opgetree. Foto: Cyril Blackburn

Adam Tas het by die geleentheid opgetree. Foto: Cyril Blackburn

Die sanger en liedjieskrywer Adam Tas, tesame met sangers soos Laurika Rauch, Steve Hofmeyr en Juanita du Plessis, gaan elke sent van hul konsert, Manna vir die Boere, aan droogtehulp skenk.

Adam het by ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê die droogte is iets wat hom na aan die hart lê. “Omdat ek self boer, weet ek hoe dit voel wanneer boere nie kan voer koop vir hul vee nie. Ek weet self van boere wat nie eens geld het vir ammunisie om hul vee van kant te maak nie.”

Hy het gesê die droogte noop Suid-Afrikaners om hande te vat. “Min dinge snoer uiteenlopende mense in Suid-Afrika so saam soos ware nood. Baie van ons wil die boere help, maar ons weet nie noodwendig hoe nie.”

Hy is die dryfkrag agter Manna vir die Boere omdat hy boere in nood wil help. “Boere sorg dat ons elke dag kos het, hulle wy hulle lewe aan die natuur en grond. Ons werk ook saam met Caring Daisies omdat ons presies weet wat hulle met die geld maak wat ingesamel word. Kort ná ek die voorstel gemaak het, het baie ander sangers gesê hulle wil by die projek aansluit om ook ʼn bydrae te lewer.”

Adam sê elke liewe sent gaan gebruik word om die boere te help. Kunstenaars soos Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Corlea Botha, Jak de Priester en Jannie Moolman gaan ook by die konsert te sien wees.

“Die organiseerders by die Voortrekkermonument het gesê daar is net plek vir 25 000 mense by die konsert. Ek dink ons moet probeer vir 40 000 vir die boere,” het die sanger geskerts.

Die konsert vind 20 Februarie tussen 15:00 en 18:00 plaas by die Voortrekkermonument se Amfiteater.

Besoek Caring Daisies se webwerf vir meer inligting. Kaartjies kan gekoop word op Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tian ·

neem dit asb op sodat ons dvds kan koop so kan wins ook na boere gaan want ek twyfel of ek dit sal kan maak omdat ek baie weg werk

Barry ·

Ek en my vrou gaan dit verseke maak!!Gaan probeer om so veel as moontlik vriense saam te bring ook!Sien julle daar!Ons sien uit!

Lucelle ·

Hoop hulle kom maak ‘n draai in die Kaap. Sal love om die ook te ondersteun

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.