Luister: Afrikaans is Groot se ‘Martha’ wys haar ander kant

Bibi du Preez kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Bibi du Preez kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die verhoog is die plek waar Afrikaans is Groot-konsertgangers haar leer ken het as Martha, een van die vele skreeusnaakse karakters wat sy in die komediesketse vertolk wat jaarliks derduisende mense reg oor die land se lagspiere kielie.

Maar tuis is Bibi du Preez (28) plat op die aarde, met ʼn droom in die hart om die volk te vermaak. Haar lewenspad het tien jaar gelede onherroeplik van rigting verander toe sy in ʼn baie ernstige motorongeluk betrokke was.

Sy moes daarna weer leer loop en praat en tydens die drie jaar lange helingsproses wat gevolg het, het sy besef dat sy ʼn tweede kans gekry het: Sy móés doodeenvoudig haar drome najaag, al het hulle hoe groot gelyk.

Du Preez was ʼn eerstejaarstudent aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in Pretoria toe sy en ʼn passasier in ʼn botsing betrokke was wat haar gelaat het met breinskade. Die passasier is net ligtelik beseer, maar Du Preez het veel slegter daarvan afgekom.

“Ek moes terug na my ouers se huis toe trek en van voor af leer loop en praat,” vertel Du Preez, haar gesig veel ernstiger as die gesig wat lief is daarvoor om ander mense te laat skater.

Du Preez, wat ook gereeld in kroeë soos The Little Britain Pub in Centurion en teaters soos Die Blou Hond in Pretoria sing, vertel die ongeluk het haar anders laat dink oor die lewe.

“Ek het besef dat dit my nuwe kans was om my drome te vervul, omdat ek op so ʼn jong ouderdom só iets oorleef het. Dinge kon so maklik anders uitgedraai het en ek wou die lewe met albei hande aangryp.”

Bibi op die Afrikaans is Groot-verhoog. (Foto: Henry Engelbrecht)

Bibi doen haar snaakse danspassies op die Afrikaans is Groot-verhoog. (Foto: Henry Engelbrecht)

Hoewel sy bykans 70 kg opgetel het as gevolg van die medikasie en ʼn minder aktiewe leefstyl, het sy besluit dit sal nie in haar pad staan om haar drome te volg nie en het sy ʼn kursus aan die Afda-rolprentskool in Johannesburg voltooi. Sy is ook tans hard aan die werk om die kilogramme af te skud en het reeds 20 kg verloor.

Sy vertel haar paaie het al as hoërskoolmeisie aan Hoërskool Brandwag in Benoni gekruis het met dié van Barry Pretorius, uitvoerende vervaardiger en meesterbrein agter die skouspelagtige Afrikaans is Groot-konserte.

“Barry het ons skool se revue kom afrig en ons het in kontak gebly. Ná skool het hy vir my werkies begin aanbied op die Afrikaans is Groot-stel, of by die Ghoemas en ander groot geleenthede en van daar af het ek myself opgewerk,” vertel sy.

Haar ouers het vroeg in haar lewe geweet hulle klein Bibi wil net verhoog toe. “Sang is absoluut my eerste passie. Ek dink ek kon sing nog voor ek kon praat.”

Hoewel daar nog nie sprake van ʼn album is nie, droom sy daarvan om ʼn album met countrymusiek, ballades en kontemporêre musiek te maak. “In my finale jaar [by Afda] moes ek ʼn vertoning skryf waarin ek agt verskillende soorte musiek moes sing, so ek is lief vir ʼn baie groot verskeidenheid musiek.”

Bibi op die Afrikaans is Groot-verhoog. (Foto: Henry Engelbrecht)

Bibi doen haar snaakse danspassies op die Afrikaans is Groot-verhoog. (Foto: Henry Engelbrecht)

Coleske Artists Management het onlangs die goeie nuus aan haar meegedeel dat hulle die geliefde Martha-karakter van Afrikaans is Groot-faam in hulle stal wil hê. “Martha gaan dus een van die dae onder meer beskikbaar wees as seremoniemeester by gesellighede.”

Du Preez is baie lief vir Martha, die karakter wat sy saam met Pretorius ontwikkel het. “Sy is ʼn fantastiese mens! Sy weet presies wat sy wil hê in die lewe. Sy is ʼn moeilike tannie, kyk, kinders word gesien en nie gehoor nie. Sy is uit die oudedoos en maak eerder haar eie koffie as om iemand te vra, want hulle gaan dit verkeerd doen.

“Steve [Hofmeyr] het my een keer gevra op wie ek dié karakter geskoei het, en ek sê toe niemand spesifiek nie. Hy sê toe in dáái geval gaan ek eendag ʼn kwaai ou vrou wees, want as sy van binne my gebore is gaan die mense in my lewe vorentoe met my sukkel!” lag sy.

  • Bibi is op 26 Januarie te sien in “Bibi sings Bonnie Tyler and Cher” by Die Blou Hond-teater in Pretoria. Kliek hier vir kaartjies.
  • Luister na die ateljeeonderhoud met Bibi bo-aan hierdie berig asook ʼn regstreekse weergawe van “Always Remember Us this Way” van Lady Gaga wat opgeneem is in Die Blou Hond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.