Luister: Afrikaanse folksangeres Mari Bosman ‘skryf ballades met skop’

Mari Bosman.

Mari Bosman boer op al wat ʼn radiospeellys is met snitte soos “As vrou” en “’n Man soos my pa”. Haar jongste enkelsnit, “Meer”, is onlangs uitgereik en is ook reeds ʼn gunsteling op radiostasies regoor die land.

Die Afrikaanse folksangeres wat destyds op Universiteit Stellenbosch eers vir ʼn BSc-graad en toe onderwys studeer het, vertel “Meer” is tydens die inperkingstydperk weens die Covid-19-pandemie geskryf.

“Tydens die inperkingstydperk was daar baie tyd om te dink en liedjies te skryf,” vertel Bosman, wat haarself ook as wetenskaponderwyseres vir hoërskoolleerders besig hou wanneer sy nie op die verhoog is nie.

“Ek beskou dit as ʼn liedjie oor die lekkerte om iemand werklik te leer ken, om verlief te raak op meer as wat die blote oog kan sien. ‘Meer’ is ʼn liefdesliedjie wat daaroor gaan dat as jy regtig van iemand hou, jy die innerlike van die persoon ook wil leer ken. Dit gaan ook daaroor dat elke persoon na iets anders soek in verskillende fases van hul lewe.”

Bosman het vier jaar gelede gedebuteer in die Afrikaanse musieklandskap met haar album Skakerings. Sedertdien het sy ʼn rits radiotreffers uitgereik, is een van haar opnames in die album Country is Groot ingesluit en bied sy Laurika Rauch-huldeblykkonserte regoor Suid-Afrika aan.

Sy het Rauch ontmoet toe sy tydens ʼn geldinsamelingsgeleentheid twee van haar liedjies gesing het.

“Sy het my genooi om by haar te kom kuier. Ek het ʼn bottel wyn saamgevat en sy het pasteitjies gemaak. Ons het ʼn hond uit ʼn bos uit gesels. Dit was lekker om met haar te gesels oor musiek.”

Volgens Bosman kom haar musiek en dié van Rauch nogal ooreen. “Ons albei skryf musiek wat stories vertel. Ons skryf ballades met skop. Daar is altyd iets in die musiek wat die liedjie interessant maak.”

Tog is sy nie net ʼn Laurika Rauch-nabootser nie. “Ek skryf my eie liedjies wat spreek van diepte. Ek sal sit en kitaar speel, en dan sal die melodie in my kop begin draai. Sonder moeite, sonder baklei, sonder spasie. Sommer net. Die melodie bepaal die woorde.”

“Meer” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.