Sy huiwer eers voor sy begin praat. Haar hande vroetel met die snesie.
“Jy is weg. Sonder om totsiens te sê, sonder waarskuwing en sonder om vir my te sê jy is lief vir my, het jy vir ʼn laaste keer jou asem uitgeblaas. Nou skryf ek vir jou ʼn koebaaibrief om vir jou alles te vertel wat ek nog wou sê – maar bowenal, om vir jou te sing, want ek gun jou die paradys.”
Die geluid van ʼn speld wat val, sal in dié vertrek na ʼn trompetgeskal klink. Net die gedruis van die lugreëling versteur die stilte.
Die kort vrou met die donker hare se oë skiet vol trane. Die jong man wat langs haar sit, laat sak sy kop. Oor haar wange loop donker strepe soos die trane hul roete na haar skoot gevind het. Onder die tafel soek sy hand na hare.
Hulle is Alda en Muller – ʼn musiekgroep wat onlangs opslae gemaak het met hulle liedjie “Alles vir my”. Maar vandag vertel hulle nie oor dié liedjie nie; vandag praat hulle vir die eerste keer oor die liedjie “Koebaaibrief”.
Hy verduidelik verder. “Die koebaaibrief sê vaarwel, maar nie totsiens nie. Want eendag ontmoet ons weer.”
Albei kunstenaars het dié “koebaai” al self beleef: die gevreesde oproep, die wroeging met die vrae en om uiteindelik vrede te maak met die tydelike skeiding van ʼn geliefde se afsterwe.
Maar nou is hulle harte byna weer heel, vertel hulle, en dié koebaaibrief wil hulle opdra aan die Brink-gesin.
Die liriek speel oor die luidspreker.
“Ek dink vanaand ʼn bietjie meer as gewoonlik aan jou … My hart is nogal seer, ek verlang vanaand na jou. Ek wens jy kon my hoor; ek wens ek kon vir ʼn rukkie met jou gesels. Ek sal alles gee om die tyd terug te draai om vir ʼn laaste keer vir jou te sê ek is baie lief vir jou …”
“Ek weet jy is op ʼn beter plek, maar dit betrap my onkant so nou en dan. Ek probeer onthou hoe dit voel om jou by my te hê; hoe dit klink as jy my naam sê. Ek sal alles gee om jou weer te sien, maar vir nou sê ek koebaai …”
Alda en Muller vertel dié liedjie is ʼn geruime tyd gelede geskryf, maar dat hulle nog nooit in hul harte gevoel het die tyd is reg om die liedjie vry te stel nie.
“Ons wou van die begin af hê die liedjie moes iets vir iemand beteken. Dit moes nooit net ʼn liedjie wees nie – dit moet hoop gee. Ons harte is so ongelooflik aangeraak deur die tragedie waardeur die Brink-gesin is. En ons albei het gevoel dié liedjie is vir hulle geskryf, dis hoe dit van die begin af deur ʼn hoër hand beplan is,” vertel hulle.
“Ons het ʼn hart vir mense. Ons wil musiek gebruik om mense se lewe te verander. Dié liedjie gaan met mense se harte praat, daarom wou ons dit spesiaal aan die Brink-gesin opdra.”
“Koebaaibrief” is vroeër vandeesweek op iTunes vrygestel. Die groep beplan ook om later die jaar ʼn musiekvideo vir die liedjie te vervaardig.
Hoewel Alda en Muller nog nie ʼn album vrygestel het nie, beloof hulle om meer musiek te maak. “In dié stadium het ons nog nie gevoel dat die tyd reg is om ʼn album te maak nie. Ons wou nog nie die norm volg nie. Maar dit beteken nie ons gaan nie musiek vrystel nie – ons doen dit net wanneer ons voel die tyd is reg.”
Hulle is natuurlik ook nie skaam vir die verhoog nie, en beplan om vanjaar meer saam op die verhoog te wees. “Ons doen alles uit ons hart uit, en ons wag altyd tot die oomblik reg is. Maar daarvoor sal ons aanhangers altyd op die hoogte hou.”
As jy meer wil weet oor die groep, besoek Muller se Facebook-blad.
Laai ook “Koebaaibrief” van iTunes af.
Ai ai julle verwoord alles wat ek dink. So mooi.