Luister: Amerikaner sing Afrikaanse verhoë aan die brand

Camille van Niekerk kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Camille van Niekerk kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die Amerikaanse sangeres Camille van Niekerk het die heel eerste keer Suid-Afrikaanse gehore se aandag getrek met haar weergawe van die Afrikaanse Valiant Swart-treffer, “Sonvanger”.

Nou is sy op ʼn maand lange toer deur Suid-Afrika saam met die bekende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Gian Groen, en ook besig om ʼn Afrikaanse album op te neem.

Dié 27-jarige donkerkop, wat in Kalifornië in die VSA gebore en getoë is, is met ʼn Afrikaanse man, Jaco van Niekerk, getroud nadat hulle jare gelede op skool ontmoet het. Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media albei Jaco se ouers is aptekers en hulle is in 2004 deur ʼn Amerikaanse maatskappy genader om daar te gaan werk.

“Ons het in 2008 in die geskiedenisklas ontmoet en baie gou vriende geraak,” vertel sy in Afrikaans met ʼn swaar Amerikaanse aksent. Camille verdien ook in die VSA haar brood en botter as sangeres en sangonderwyseres.

Sy vertel sy het Afrikaans begin leer op haar wittebrood. “Ek en my man was op ʼn road trip en ons het baie tyd saam gehad in die kar. Hy het begin om my Afrikaanse frases en woorde te leer. Soos ons gery het, sou hy byvoorbeeld sê: ‘Ons ry op die pad.’ Klein woordjies soos ‘berg’ en ‘kleure’ en ‘boom’. Aangesien ek ʼn sanger is, het hy gedink ʼn lekker manier om my te leer sal wees deur volksliedjies. Dis waar dit begin het.”

Camille op die verhoog saam met Loki Rothman tydens die Jan Blohm Revue-konsert by die Grand West-arena in Kaapstad. (Foto: Facebook via Camille van Niekerk)

Camille op die verhoog saam met Loki Rothman tydens die Jan Blohm Revue-konsert by die Grand West-arena in Kaapstad. (Foto: Facebook via Camille van Niekerk)

Toe hulle besluit om in 2016 na Suid-Afrika te reis, het sy besluit om ernstig te raak oor die aanleer van Afrikaans en het haarself begin leer deur die internet en deur na meer Afrikaanse musiek te luister. “Die herhaling in die liedjies help, asook om na iemand te luister met ʼn Afrikaanse aksent, want dit is uiteraard anders as om dit te lees. Ek het ook na Afrikaanse televisieprogramme gekyk met Engelse of Afrikaanse onderskrifte en het die woorde wat ek nie geken het nie, vertaal.”

Camille verklap dat haar debuutalbum slegs Afrikaanse liedjies bevat en dat een van die snitte Zoeloe insluit. Die snitte op die album is meestal klassieke Afrikaanse treffers soos “Skipskop”, “Op Blouberg se strand” en “Stuur groete aan Mannetjies Roux” asook twee splinternuwe snitte uit Groen se pen. Daar is egter nog nie ʼn datum vir dié album se uitreiking vasgemaak nie.

Sy vertel dit was oorweldigend om te sien hoeveel mense haar en Groen kom ondersteun het by die vertonings tydens die toer. Hulle het die toer in Wellington in die Wes-Kaap afgeskop, waarna hulle in Namibië ʼn draai gaan maak het. Terug in Suid-Afrika het sy opgetree by die Jan Blohm Revue by die Grand West-arena in Kaapstad waar sy saam met onder meer Blohm, Loki Rothman, Roan Ash en Ryno Velvet die verhoog gedeel het. Sy was ook die afgelope naweek in Pretoria te sien.

Camille tydens haar besoek aan Bloubergstrand in Kaapstad. (Foto: Facebook via Camille van Niekerk)

Camille tydens haar besoek aan Bloubergstrand in Kaapstad. (Foto: Facebook via Camille van Niekerk)

“Dit is vir my so lekker om tydens hierdie toer met mense met wie ek slegs op die internet kontak gehad het, kennis te maak in lewende lywe. Dit is my tweede besoek aan Suid-Afrika en hierdie slag het ons Hermanus besoek. Dit was ongelooflik mooi,” vertel sy van haar onlangse reise deur Suid-Afrika.

“Die vorige keer dat ek Suid-Afrika besoek het, was ek in die Krugerwildtuin en ons het ook Tafelberg en Leeukop uitgeklim. Ek het dus ʼn goeie oorsig van die land gekry met die vorige besoek. Hierdie keer was dit soveel pret om ʼn hele paar nuwe plekke te besoek en ook om hier te kon sing. Dit was fantasties om ook vir die eerste keer te kon sien hoe Bloubergstrand lyk nadat ek vir ʼn jaar net daaroor gesing het,” sê Camille.

Sy lag wanneer sy vertel dat haar man, wat onlangs as mediese dokter gekwalifiseer het, altyd dieselfde frase gebruik wanneer hulle by die huis stop. “Hy sê altyd: ‘Uit en tuis, en by die huis.’”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Erika ·

Ek het die eerste keer op Facebook gesien het toe jy Sonvanger gesing het. Jy sing pragtig!! Ek sal eerste in die ry staan om jou CD te koop!

Pensioenaris ·

Dis pragtig en in ons land wil hulle afrikaans dood druk. Hou so aan Camille.

Jax ·

Pragtig. Dankie dat jy ons taal so mooi gebruik. Sterkte met jou loopbaan verder.

Sann ·

Baie mooi! Ou Jaco, jy verdien nog jou biltong…. (omdat jou vrou so inspireer).

Amanda ·

Ek het klaar uitgevind oor jou cd. Ek kan nie wag daarvoor nie. Maroela laat weet asb as die cd vrygestel word.
Ek moet dit hê. Alle voorspoed met jou loopbaan.

Martie ·

Ja meskien kan die Amerikaners die Afrikaanse taal aan die lewe hou.

Dot Hecht ·

Camille – your voice is so beautiful, (you are too) What a wonderful experience for you to be over there and how special it is for all those who have the opportunity to see and hear your wonderful singing.
Love, Aunt Dot

Gerhard ·

Pragtig!!!
Ek wonder of sy weet van Jim Reeves wat ook Afrikaans gesing het.
Dis lekker om te sien nog mense deel ons mooie taal.

Hennie ·

Buiten Jim Reeves was daar nog Slim Witman wat ook in Afrikaans gesing het. Fluist’rende Hoop in 1965

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.