Luister: Anders skryf ode aan die Jakarandastad

Lindi en Wynand Delport, ook bekend as die sangduo Anders, kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Lindi en Wynand Delport, ook bekend as die sangduo Anders, kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Wynand en Lindi Delport van die groep Anders is albei in Pretoria gebore en getoë. Dié sangpaar het mekaar ook destyds in Pretoria ontmoet en is in dié stad getroud.

Daarom het hulle besluit om ʼn ode aan hul geliefde Jakarandastad te skryf. Dié enkelsnit, “Pretoria”, is onlangs uitgereik.

“Ons het soveel goeie herinneringe van Pretoria. Ek dink ook nie daar is iemand in Suid-Afrika wat nié een of ander ervaring in Pretoria gehad het nie. Of jy nou rugby op Loftus kom kyk het of hier studeer het – almal het iets gemeen met Pretoria,” sê Lindi in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

Die snit se opgewekte pop-rock-klank wat herinner aan die musiek van Roxette en Toto uit die 1980’s, dra by tot die nostalgie van die liedjie, sê Wynand.

“Dit is ʼn liedjie oor Pretoria, maar ook ʼn liedjie oor my en Lindi se lewe saam, en elkeen het iemand vir wie hy lief is. Op daardie manier kan elkeen met die liedjie vereenselwig.”

Die prettige musiekvideo vir die snit het al 10 000 trefslae op YouTube en is deur André Velts, die bekroonde fliekregisseur van rolprente soos Raaiselkind, Die Pro, Jou Romeo en Knysna, gemaak. Werner Nortjé het ook aan dié musiekvideo gewerk.

“Ons doel was nie regtig om ʼn storie met die video te vertel nie, maar eerder om met Pretoria te spog,” sê Lindi.

“Ons wou graag met die maak van die video net pret hê en ons het natuurlik ons orkes deel gemaak daarvan, want dit is so ʼn instrumentgedrewe liedjie met die tromme en kitare. Ons het ʼn deel daarvan op Kerkplein in Pretoria op ʼn gebou, met Paul Kruger in die agtergrond, geskiet.

“Die tweede gedeelte het ons in Brooklyn geskiet, waar ek onder jakarandabome deur fiets gery het. Jakarandabome is sinoniem met Pretoria, so ons kon dit nie uitlaat nie.”

Die groep verklap “Pretoria” is die eerste enkelsnit in ʼn vollengte album wat volgens beplanning teen die einde van die jaar die lig sal sien. “Ons het reeds drie snitte opgeneem waarvan ‘Pretoria’ die eerste een is,” vertel Wynand.

Die groep is tans besig met die vervaardiging van die materiaal vir die hoofverhoog-optredes tydens die Finesse Net Girls Bootreis vir 2020. “Dit is die tweede jaar wat ons dit doen. Volgende jaar is die tien jaar reünie en is daar ʼn groot verhoogproduksie wat onder andere sangeresse soos Demi Lee Moore en Tarryn Lamb gaan insluit,” sê Lindi.

“Verder toer ons met Anders en gaan ons binnekort ʼn draai maak in Namibië, die Kaap en natuurlik ook in Pretoria.”

Lindi en Wynand saam met hul skattige dogtertjie, Karmin. (Foto: Facebook via Anders)

Lindi en Wynand saam met hul skattige dogtertjie, Karmin. (Foto: Facebook via Anders)

Hierdie Ghoema-bekroonde groep het al verskeie trefferliedjies op hul kerfstok. Hulle het onder meer die temalied vir die fliek, Knysna, geskryf en hul liedjie, “Die pad”, is ook gekies as temalied vir die romantiese komedie, Vrou soek boer, met Lika Berning en Nico Panagio in die hoofrolle.

“Ons is dankbaar dat ons musiek gereeld oor die radio gehoor kan word. Om ons musiek te kan deel met ons aanhangers, bly altyd vir ons ʼn groot voorreg.”

Die egpaar, en nou ook die ouers van ʼn skattige driejarige dogtertjie, Karmin, was 16 jaar oud toe hulle mekaar by die kerk ontmoet het en die res is geskiedenis. “Dit was ons passie vir musiek wat ons na mekaar toe aangetrek het.

“Ons is getroud, het ʼn paar liedjies geskryf en so het Anders, wat oorspronklik ʼn geestelike groep was, begin. Die naam van ons groep is geïnspireer deur ʼn Bybelvers wat sê dat ons anders moet wees as die wêreld,” sê Wynand.

“Pretoria” is beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.