Luister: André Schwartz stap ‘die pad’ met jongste soloalbum

André Schwartz stap al ʼn lang pad in die Afrikaanse musiekbedryf sedert sy bekende treffers soos “Ek wil jou nooit weer sien” en “Lief vir alles hier” destyds die klankgolwe getref het.

Dié veelsydige superster se jongste album, Die Pad, is sy 14de solo-album en is nou op die rakke.

Schwartz het op die ouderdom van 14 sy televisiedebuut gemaak en met sy klassieke musiekopleiding is hy net so gemaklik agter die klavier as agter die mikrofoon. As sanger, liedjieskrywer, verhoogkunstenaar, akteur en televisieaanbieder is hy ongetwyfeld een van die grootste name in die Afrikaanse vermaakbedryf.

Hy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media “Die Pad” is ook sy jongste enkelsnit en titelsnit van dié lankverwagte album en is uit die pen van Roux Cloete.

“‘Die Pad’ gaan oor ʼn reis. Jy begin en dinge loop skeef, jou voete bloei en jou las raak te swaar en partykeer kan dit jou breek, maar daar is altyd ʼn moontlikheid dat jy kan opstaan,” vertel die sanger.

Schwartz moes self onlangs ʼn struikelblok in sy eie lewe verwerk – hy het vroeër vanjaar bekend gemaak dat hy al vir meer as ʼn jaar aan motorneuronsiekte (MNS) ly.

“Dis eintlik ʼn pad wat ons vir onsself kies, met sy kronkels en sy draaie, maar die enigste manier hoe dié pad vir ons beter word, is in jou kop en deur te glo en hoop. Toe ek die pragtige liriek kry wat pas by die beeldskone wysie het ek geweet ek het nie ʼn ander keuse as om dit te sing nie,” vertel hy oor die titelsnit van die album.

André Schwartz (Foto: Facebook)

Oor die eerste twee enkelsnitte wat vanaf die nuwe album uitgereik is, “Ek sal wag” en “Tweede kans”, is hy opgewonde. “Ek het goeie terugvoer gekry oor dié twee snitte, veral oor ‘Tweede kans’. Dit is nie iets wat ʼn mens baie maklik aanraak nie – jy sê nie maklik: ‘Sorg dat jy vir iemand ʼn tweede kans gee’ nie. En eintlik verdien ons maar almal ʼn tweede kans, want ons is feilbaar. Ek dink dis waarom daardie liedjie soveel aanklank gevind het by mense.”

Hy skerts dat ʼn kunstenaar nooit weet hoeveel aanvraag daar sal wees vir ʼn nuwe album nie. “Jy weet nooit hoeveel mense dink jy sing vals nie,” lag hy. “Ek hoop regtig van harte mense hou daarvan. Dit is nogal ʼn mengsel van liedjies en ek is tevrede.”

Die album bestaan uit tien oorspronklike snitte wat deur verskeie liedjieskrywers geskep is, asook vier bonussnitte wat verwerkings is van bestaande gunstelinge soos “Piano man” van Billy Joel en sy bekende treffer, “Lief vir alles hier”. Hy sing ook ʼn hartroerende duet ,“I dare to dream”, saam met Yvonne Chaka Chaka.

“Ek en Yvonne ken mekaar al ʼn leeftyd. Ek is baie lief vir haar en het ongelooflike respek vir haar. Die liedjie is een wat ek gesing het ʼn leeftyd gelede en ek het gedink dit is tyd om dit weer in te bring. Die liedjie sê doodeenvoudig: ‘I dare to dream’.

“Baie min van ons is tevrede met wat tans in die land gebeur, maar waarheen gaan ons met negatiwiteit? Ons gaan nêrens. Ons gaan ons in ons huise opsluit en alles gaan in jou kop erger raak. Ek is een van die Suid-Afrikaners wat nié gaan waai nie en daar is baie van ons wat nie gaan waai nie. Ons kan nie net sit en teen die kwaad vaskyk nie – niemand kan so lewe nie. Yvonne voel dieselfde van haar kant af en dit is só lekker dat ons dit saam kon sing.”

Een van sy gunstelingsnitte op die album is “Negentien September”. Die musiek is geskep deur die ontslape musikant Christa Steyn en die liriek is geskryf deur die Afrikaanse skrywer PG du Plessis.

André Schwartz. (Foto: Willem Botha via Facebook/André Schwartz)

André Schwartz. (Foto: Willem Botha via Facebook/André Schwartz)

Sy nuwe albumvrystelling gaan hand aan hand met ʼn multi-media-konsertreeks,ook getiteld Die Pad, wat spesiaal deur Schwartz vir gehore saamgestel is. Dit word beskryf as ʼn vreugdevolle en nostalgiese reis deur die musikant se lewe, bied ʼn kombinasie van musiek, staaltjies uit Schwartz se verlede en hede, en stel sy fenomenale operastem ten toon.

Die regie vir die vertonings word behartig deur Schwartz se kollega en vriend, Casper de Vries, met wie hy reeds sedert sy universiteitsjare bevriend is.

“Op my 21ste verjaarsdag het Casper sy eerste stand-up-komedievertoning gedoen. Die tema was ‘1920 tot 1940 Oscar-aand’, en mens kon toe al sien hoe briljant hy is. Hy is ʼn baie goeie klankbord en sal ook vir my sê as iets nie snaaks is nie.”

Die vertoning word Donderdag 18 Julie by Theatre on the Bay in Kaapstad aangebied ten bate van Schwartz se kleinneef, Ethan. “Hy is ʼn 15-jarige swemmer wat in uitdunrondes swemmers soos Chad [le Clos] geklop het. Dit is baie duur om outjies oorsee te stuur vir sport, so dié vertoning sal dien as geldinsameling om Ethan oorsee te kan stuur.”

Hy en Coenie de Villiers sal ook op 19, 20 en 21 Julie te sien wees in ʼn vertoning by Theatre on the Bay.

Die Pad sal Vrydag 19 Julie op alle digitale platforms beskikbaar wees vir aankope, asook later in toonaangewende musiekwinkels te koop wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

ha,ha …. dink aan kinderjare….oulike videos heeltemal anders en mooi liedjies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.