Luister: Anna Davel vertel stories met haar musiek

Anna Davel (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Anna Davel is ʼn bekende gesig in Suid-Afrikaanse uitvoerende kunste, nie net vir haar unieke sangstem nie, maar ook vir haar liedjieskryfvermoë, teaterproduksies en haar rolle in bekende sepies soos 7de Laan en Egoli. Sy het ook al nege suksesvolle albums uitgebring.

Davel het reeds as ʼn klein dogtertjie ʼn groot waardering vir die kunste begin kweek, en dít het haar liefde vir musiek laat vlamvat.

“Toe ek ’n klein dogtertjie was, het my ma-hulle ons gereeld teater toe geneem. Ek is een van vyf kinders, maar ek het beslis die meeste daarvan gehou. My boeties was nie noodwendig altyd so geïnteresseerd in My Fair Lady en The Sound of Music nie. Maar ek het letterlik in die teater gesit met my mond wat oop hang.

“So die passie was altyd daar, dit was nog altyd in my. Maar die feit dat ek baie blootstelling daaraan gekry het, het vir my ’n dieper liefde daarvoor gegee,” sê Davel.

Sy het op skool nie kon dink dat sy in die musiekbedryf sou beland nie. Aanvanklik wou sy met babas in ʼn hospitaal werk, sê sy.

“Die musiekbedryf was vir my ʼn droom, maar ek het nooit gedink ek sal dit doen nie. Ek het eers heelwat later in my lewe daarby betrokke geraak.

“Eers het ek begin deur liedjies te skryf en dit vir ander kunstenaars te stuur om te sing. Toe eendag bel Laurika Rauch my en sê vir my dat ek nie my liedjies vir ander mense moet stuur nie, maar dat ek hulle self moet sing. Dit is tóé dat die saadjie geplant is.”

Davel sê dat liedjieskryf vir haar ʼn manier is waarmee sy stories kan vertel.

“Baie van my liedjies gaan oor my vriende. Iemand sal ’n storie vertel en dit sal my diep raak of roer. ‘Viooltjies’ gaan oor huishoudelike geweld. Ek het dit geskryf nadat ek uitgevind het ʼn vriendin van my het lank daaroor gejok nadat sy dit ook ervaar het. Ek was so geskok toe ek dit uitvind, en ek het dadelik die lied geskryf.”

Maar soms is dit ook net pret om liedjies te skryf, gee sy toe.

“ʼn Choreograaf het eenkeer op my geskree omdat ek nie al die passies kon regkry wat hy wou hê ek moes doen nie. Ek dink toe, ek kan dalk nie al hierdie passies doen nie, maar ek wéét hoe om my boude te swaai! En toe skryf ek die liedjie ‘Gatswaai’,” sê sy.

Davel sê storievertelling en liedjieskryf is ʼn manier om vir mense te wys dat jy deernis met hulle het.

“Jy kan in ʼn nuusberig in een sin alles hoor, maar as jy in daardie mense se skoene stap, kry jy konteks, agtergrond en die persoon se milieu – dán is dit ʼn storie. Vir my gaan storievertel daaroor om mense aan te raak en om te wys dat ons almal se stories raakpunte het. As ek ʼn storie vertel en dit raak iemand aan, was dit vir my suksesvol.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ai ja jai ·

Ai, wat ‘n asemrowende mooi vrou. En mooi stem. Laat mos ‘n man se hartjie tjoklits klop

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.