Luister: Anton Goosen se Padkos ‘vir die lang- en kortpaaie’

Anton-Goosen-PadkosAnton Goosen het as Afrikaanse liedjieskrywer en sanger geen bekendstelling nodig nie. Vandeesmaand is sy eerste vollengte album in 11 jaar, Padkos, vrygestel.

Hy en die bekroonde vervaardiger Peter Pearlson, sy vriend en klankingenieur, het ses jaar aan en af gewerk om Padkos te voltooi. “Ons het aan 18 snitte gewerk waarvan net 14 dit tot op die album gemaak het,” sê Anton.

Die meeste van die musiek is óf by Anton se huis in Gansbaai, óf in Peter se kantoor by die Academy of Sound Engineering in Kaapstad, waar hy klankingenieursklasse aanbied, opgeneem. Denzl Keenan, vioolspeler van die groep Rooibaard, speel al jare saam met Anton. Sy vioolsnitte is tuis in Clarens opgeneem en via die internet aangestuur. “Vir ʼn hippie is hy nogal vertroud met die internet,” lag Anton. “Hy het die hart van die projek baie goed verstaan.”

“Op van die snitte is die baskitaar in Amsterdam opgeneem. Al wat ons in die ateljee opgeneem het, was die Solms Delta se Soetstemmekoor. Lise Swart sing ook weer saam, en ons het drie banjo-spelers gebruik, maar die laaste een is Nielen Prinsloo,” vertel Anton.

Daar is daar geen tromstel op die album nie. “Daar is ook nooit elektroniese klanke op my albums nie,” sê Anton beslis. Die album is deurspek van akoestiese kitare, Hammond-orrel, stomp box, cajon, trompie, bongo’s, mondfluitjie, traporrel, klavier, viool, alt-saxofoon en banjo. “Ons het selfs ʼn leë jogurthouertjie en ʼn leë Kilkenny-bierblikkie gebruik om klanke mee te maak. Daar is ook nie skreeuende kitaarsolo’s nie – dit is nie ʼn rock-album nie. Dit is organiese padkos-musiek vir die lang- en kortpaaie.”

Anton sê dit is ʼn baie interessante manier om te werk te gaan. “Maar dit het te lank gevat,” lag hy. “Ses jaar is bietjie erg. Ek en Peter gebruik die uitdrukking ‘I’ve had a late thought on the highway’, en dit beteken die album is eintlik al klaar, maar dan dink ons aan nog iets wat ons kan bysit.”

As liriekskrywer sê Anton doen hy baie navorsing. “Ek doen ook baie nasorg wanneer ek skryf. Soos een van my mentors Louis Combrinck gesê het: Jou liedjie is so goed soos die swakste skakel in die ketting. As jy van tulpe wil sing, maak seker jy sing oor tulpe in Amsterdam. Tulpe in Beaufort-Wes, behalwe op ʼn snaakse manier, gaan nie werk nie. Jou gegewens moet reg wees.”

Hy vertel die liedjie “Doekvoet vlieg die Bonnie Bonnie Skye” handel oor sy geliefde Jack Russell wat hy as troeteldier gehad het. “Skye is in Onderstepoort gekweek,” vertel hy. “Sy was een van die slimste honde wat ek in my lewe gehad het en sy was die perfekte metgesel. Waar ek gegaan het, het Skye gegaan. Toe ek op die plaas gewoon het, was sy ʼn killing machine. As jy weer kyk, vinniger as wat ek my vinger kan beweeg, is die pofadder gehalveer. Jack Russells is ongelooflike honde en sy is die enigste hond wat in my kooi toegelaat is. Sy was ʼn hond uit ʼn ander wêreld uit.”

Volgens Anton lê al die snitte hom naby aan die hart, selfs dié wat dit nie tot op die album gemaak het nie. “Dit is verskillende fasette van ʼn mens se kreatiwiteit. As ek nie van hulle gehou het nie, sou ek dit nie op die album gesit het nie.

“Die openingsnit, ‘Die diep blou see’, som die hele album op. Ek woon by die see en dit is ʼn simboliese boomhuis waaruit ek kyk. Ek sing oor die Noorkapperwalvisse, die witdoodhaaie, die perlemoen en galjoen op die plaat – ’n natuurgebied tussen De Kelders en Hermanus – die hawe en dies meer. Gansbaai is ʼn vissersdorpie en wat jy sien, is wat jy kry.”

Die album is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars. Besoek ook Anton se blad vir meer inligting oor optredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.