Luister: Appel se nuwe lied ‘ʼn noodkreet vir Afrikaans’

Appel. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die sanger en liedjieskrywer Appel, wat vroeër vanjaar getref het met liedjies soos “Nonna” en “F250”, het pas ʼn splinternuwe musiekvideo vir die liedjie “Jou land” bekend gestel.

Appel vertel die liedjie se liriek het een nag soos ʼn koue sweet na hom toe gekom. “Ek het in my bed gelê en net gesê: ‘Hoe lank gaan dit vat voor ek weer kan slaap?’. Hoe lank gaan dit wees voor ek my ophou bekommer oor my ouers op die plaas, wonder of ek die volgende dag weer met hulle gaan praat?

“As my dogtertjie daar gaan kuier, bel ek hulle elke oggend en raak skoon angsbevange as hulle nie hulle fone antwoord nie. Dit is ʼn werklikheid waarmee ons sukkel en ek dink die situasie is baie ernstiger as wat mense besef,” sê die sanger.

Hy voeg by dat “Jou land” ʼn noodkreet vir die Afrikaanse taal is. “Ek wil skree dat Afrikaans sal bly. Ek wil nie hê ons kinders moet grootword in ʼn land waar hulle moet jammer wees om Afrikaans te wees en jammer sê vir goed in die verlede waarmee hulle niks te doen het nie. Ek belowe jou, die laaste ding wat my kind sal doen, is kniel voor enigiets of enigiemand behalwe die Here.”

“Jou land” verskyn in Appel se vollengtealbum getiteld Patriot, wat in November verlede jaar uitgereik is. Appel is ook sanger van “Boer loop deur my are” en medeskrywer van Die Gelofte, ʼn toonsetting van die Gelofte wat in 1838 deur Sarel Cilliers opgestel is en waarin die Voortrekkers hul afhanklikheid van God voor die Slag van Bloedrivier verklaar het.

Hy sê die terugvoer wat hy tot dusver oor “Jou land” gekry het, is ongelooflik. “Ek het ʼn akoestiese weergawe daarvan gedoen en dit is binne ʼn week meer as 100 000 keer op Facebook gekyk. Mense vind veral aanklank by die liriek. Ek is nie iemand wat toesprake kan lewer of debatteer oor goed nie. My spreekbuis is my musiek en die Here praat met my deur musiek.”

Die konsep van die musiekvideo is om terug te gaan na jou wortels en waar jy vandaan kom. “Die storie begin waar drie kinders ʼn tydkapsule vorm waarin hulle al die goed wat vir hulle belangrik is, sit en êrens op die plaas versteek. As volwassenes kom hulle weer terug – ek vertolk een van hulle – en grawe dan die tydkapsule op. Só word ons weer herinner aan wie ons is.

“Ek sing ook op ʼn berg met ʼn kruis agter my en wil dit duidelik maak met die video en liedjie: Jy is sterker op jou knieë as op jou voete, my maat. Jy gaan nie identiteit in jouself vind as jy nie eers identiteit deur Christus gekry het nie. Dit geld vir enigiemand in ons volk – as ons nie soos met ‘Die Gelofte’ weer ons identiteit in die Here kry nie, gaan ons nie hierdie stryd kan wen nie.”

Appel sê as plaasjapie vind hy groot aanklank by die boeregemeenskap van Suid-Afrika en het hy tydens die afsonderingstydperk skouer aan die wiel gesit om dié gemeenskap te bemagtig.

Appel saam met sy vrou, Sally-Ann, en hul dogtertjie. (Foto: Instagram)

Hy het onder meer saam met Solidariteit Helpende Hand en Nonna’s Flower Shop (sy vrou, Sally-Ann Kotzé, se blommewinkel) se “Blomme vir brood”-projek meer as 16 000 brode vir behoeftiges ingesamel.

Hy het ook gehelp om meer as 35 ton vars vrugte en groente vir behoeftiges in te samel. “Ek is dadelik gemaklik om myself te wees in die boeregemeenskap. Ek kan nie net sien hoe ʼn ander boer swaar kry en ek lewe lekker nie. Dit is ʼn voorreg om te weet dat almal so na mekaar omsien.

“Ek kom agter daar is ʼn jonger generasie boere wat bereid is om saam te staan en mekaar te help, asook die stigma dat Afrikaners nie kan saamstaan nie, wil afbreek.”

Patriot en “Jou land” is op alle digitale platforms beskikbaar. Die musiekvideo vir “Jou land” is moontlik gemaak deur die Suider-Afrika Agri-Inisiatief (SAAI).

“Die familieboer is vandag nog die anker van ons plattelandse bestaan en die hoeksteen van die landelike ekonomie, die hartklop van dorpies en die fondament van ʼn waardesisteem. Daar is ʼn familieplaas vlak in elke gesin se geheue. Iewers is daar ʼn oom of ʼn oupa en ʼn plaas; ons kom van daar af, ons is uit daardie stof gemaak. Appel se ‘Jou land’ lê die vinger op die essensie van dít waarvoor ons in SAAI staan.

“Dis reeds merkbaar by die fyn kuns van die tonele wat geskiet is, die roerende wyse waarop die liriek alles so treffend vasvat, sy unieke stem en die passie agter die musiek. Daarom kon ons nie die geleentheid deur die vingers laat glip om met trots ons handelsmerk met hierdie liedjie te vereenselwig nie,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van SAAI.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud met Appel.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Brom die Leeu ·

Ons moet aanhou praat, aanhou help en net nooit stilbly nie. Ons stem tel.

Willem ·

Pragtig. So bly om te hoor jongmense staan nog sterk in die land vir ons taal en land

Kers55 ·

Nee wat ou pêl, in terme van musiek is dit voorspelbare nonsens. Jy, soos daai kindertjies in die video, het geen toekoms nie. Die realiteit is dat elkeen van daai kinders op die fietse oor 15 jaar van nou af in n ander land gaan bly en jy gaan matrasse verkoop in plaas van cds, indien jy natuurlik nie voor die tyd n misdaadstatistiek word nie. "Afrikaans" en "boer" is netn nostalgiese trip, jy is desperaat en jou musiek wys dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.