Luister: Appel sing oor tye weg van die huis af

Appel (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Appel het pas sy eerste enkelsnit, “Nonna”, vanaf sy nuutste album, Patriot, bekendgestel.

Hy sing oor die moeilike deel van ʼn musikant wees: Om weg van sy vrou en dogtertjie te wees.

“Nonna”, wat deur die Hotel-aktrise Mila Guy in die musiekvideo vertolk word, gaan oor ʼn jong boerenooi wie se hart aan twee plekke behoort: In Afrika en op die plaas by haar boer. Dit verteenwoordig Appel se hart wat op die verhoog, maar ook by sy gesin hoort.

“Nonna het ʼn ongelooflike passie vir Afrika en almal wat in Afrika bly. Maar sy het ook ʼn ongelooflike liefde vir haar boerseun waar sy op die plaas bly. Sy sal byvoorbeeld vir ʼn week weggaan om mense in Afrika te genees.

“Nonna lewe vir Afrika. Ek skryf uit die boerseun se perspektief uit dat ek moet vrede maak dat sy haar hart tussen my en Afrika deel. Ek weet sy kom terug, ek is haar nommer een en sy is die liefde van my lewe. Maar ek moet nie selfsugtig wees nie, sodat sy haar passie kan uitleef.”

Appel sê Nonna herinner hom ook aan mense wat uit Afrika uittrek, wat braaivleis, die diere en die sonsondergange mis. “Jou wortels lê net hier. Dis soos ʼn ou kremetartboom; jy kan hom nie skuif nie,” sê hy.

Appel vertel dat hy “Nonna” geskryf het omdat hy soos Nonna voel wanneer sy haar passie moet gaan uitleef wanneer hy sy musiekloopbaan volg.

“Ons as musikante het ʼn ongelooflike platform gekry op die verhoog en daardeur het ons die vermoë gekry om hoop te kan saai reg oor die land. Maar vir ons vrouens is dit partykeer baie moeilik om met ʼn musikant getroud te wees; dit voel of jy jou man met die wêreld deel. Ek het soveel respek vir my vrou daarvoor. Dis ʼn liedjie wat ek uit haar oogpunt uit probeer skryf het.

Appel saam met sy vrou, Sally-Ann, en hul dogtertjie (Foto: Instagram)

“Nonna” is die eerste enkelsnit op Appel se derde album, Patriot, wat op 1 November bekendgestel is. Hy sê dié album is ʼn meer gedrewe album as die voriges. Dit het baie sterk melodielyne en lekker saamsing-kore.

Patriot doen reeds baie goed op radiostasies en op speellyste, maar Appel sê die eer kom sy Skepper toe.

“Dit is net die Here se genade dat die album so goed doen. As ek hom sien bo aan speellyste, bars ek amper in trane uit, want ek weet dit is net die Here. Ek kan net dankie sê.

“Jy kan sien aan my skryfstyl ook, in liedjies soos ‘Jou Land’ ek probeer 100% eer toegee aan die Here.”

Appel hou vol dat dit belangrik is om in die musiekbedryf te onthou waar jou krag vandaan kom en dat dit ʼn voorreg is om die gawe van sang te ontvang.

“Ek glo ons DNS loop saam met die Here, as ons dit in ons lywe het en ons het die Heilige Gees wat ons voer die hele tyd, gaan ons ʼn onstuitbare nasie word.”

Dit was vir hom moeilik om te besluit watter liedjie vanaf Patriot om eerste bekend te stel, maar hy is bly dit was toe “Nonna”. Hy sê al die snitte op die album is liedjies waarop hy trots is.

“Ek wil nie net iets op die album sit omdat daar ʼn oop plek is nie. Al die liedjies kom uit ʼn baie diep plek uit. My doelwit as skrywer en musikant is om ʼn album aanmekaar te sit wat jy van begin tot einde kan deurluister sonder dat jy enige snitte wil oorslaan.”

“Nonna” en Patriot is op alle digitale platforms en in musiekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JK ·

SA kunstenaars weet nie wat “toer” is nie, die verste van mekaar af is wat, 2.5uur vlug, op die pad vir n maand maybe. Probeer Amerika ouens, 9 maande van die jaar op toer. Het geroadie, langste was 13maande agtereenvolgend. SA toer is niks.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.