Luister: Armand Barnard ‘jaag die son’ met sy musiek

Armand Barnard. (Foto: Maroela Media)

As nuweling op die Afrikaanse musiektoneel wou Armand Barnard sy buiging maak met ʼn lekkerluisterliedjie wat enige langpad kan korter maak. Dit is hoe sy debuutenkelsnit “A-okay” gestalte gekry het.

Só vertel Armand in Maroela Media se ateljee oor die liedjie wat hy saam met die gesoute musikante Hunter Kennedy en Fred den Hartog geskryf het.

“Maak nie saak of jy ʼn moeilike week gehad het nie, jy kan in jou bakkie klim en die son jaag see toe,” verduidelik Armand die boodskap van die liedjie.

“As ek in my Hilux ry, voel ek veilig. Selfs op universiteit al was my Hilux vir my ʼn veilige hawe en ʼn plek waar ek psigologies veilig kon voel wanneer ek die deure sluit.”

Armand is in die Paarl gebore en getoë. Sy pa is ʼn voormalige dominee, en hy het groot geword deur sy pa vanuit die kerkbanke op die verhoog dop te hou.

“Ek het altyd geweet ek sal graag op die verhoog wil staan en het myself geleer kitaar speel en later begin musiek skryf. Nou is liedjieskryf my eerste liefde.”

Vir die musiekvideo van die liedjie, wat reeds amper 17 000 keer op YouTube gekyk is, wou hy en die regisseur, Heinrich Laubscher, ʼn langpad-gevoel skep.

“Ons het van die Kaap af Langebaan toe gery en by van my gunsteling-Weskusdorpe, soos Paternoster, aangegaan. Ons het by ʼn padstal stilgehou vir ʼn koffie en beskuit.

Armand Barnard. (Foto: Facebook/Armand Barnard)

“Dit is die mooiste omgewing en dra by tot die visuele, dromerige vertolking van die liedjie wat ons in gedagte gehad het. Ons wou net die verhaal vertel van twee vriende wat op die pad klim en pret het en in die see swem, wat besluit om alles agter te laat en die son te jaag al die pad see toe.”

Volgens Armand het Hunter, wat bekend is as musikant van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, ʼn goeie vriend en mentor vir hom geword.

“Ek is deel van ʼn platemaatskappy, maar ek hou ook daarvan om saam met onafhanklike kunstenaars te werk. As ek myself tussen daardie twee wêrelde in die musiekbedryf kan bevind, sal ek gelukkig wees.

“Dit is so belangrik dat kunstenaars saam moet werk, want ons is een groot familie wat Afrikaanse musiek skryf. Afrikaanse musiek is een van die beste goed wat ons land het om te bied na my mening. Ek wil ook net optree saam met my band en myself geniet.”

“A-okay” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

  • Luister hier na die volledige ateljeeonderhoud met Armand Barnard.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.