Luister: Bee-Bee die By het kleingoed in suikersoet ekstase

Bee-Bee die By is ʼn unieke, mollige bytjie wat deur die Heuning-sangeres Jeanette Pretorius vergestalt word en peuters en laerskoolkinders in vervoering het.

Bee-Bee die By is ʼn unieke, mollige bytjie wat deur die Heuning-sangeres Jeanette Pretorius vergestalt word en peuters en laerskoolkinders in vervoering het.

Pretorius, wat ook ʼn sangskool het en ma is van twee jong kinders, het verlede jaar tydens die inperking besef die tyd is ryp om haar Bee-Bee-kostuum af te stof en die kindermark met volle vaart te betree.

“Kinders luister nie meer na kinderliedjies soos ons daarna geluister het toe ons kinders was nie. Ek het besef daar is ʼn behoefte vir opvoedkundige kindermusiek wat soos die hedendaagse oorwurms klink,” vertel Pretorius in die Maroela Media-ateljee.

Sy vertel Bee-Bee se album, Bee-Bee die By se Opvoedkundige Kinderliedjies, raak aan temas soos vorms, kleure, die lyf, seisoene en plaasdiere, wat alles deel vorm van die kurrikulum wat tans in kleuterskole behandel word. Die album bevat tien liedjies met titels soos “Goeie maniere”, “Buffel en bobbejaan” en “Kleure van die reënboog”.

“Ons het selfs ʼn liedjie oor tandeborsel, want ons weet mos kleintjies hou nie baie van tandeborsel nie. Die liedjies is baie eenvoudig geskryf, maar met ʼn moderne klank.”

Pretorius het ʼn tweejarige seuntjie wat ook mal is oor Bee-Bee, maar sy sê laerskoolkinders tot en met nege jaar oud vind aanklank by die liedjies.

“As ʼn mens self ʼn mamma is, is dit makliker om op ʼn kind se vlak vir kinders te skryf. Ek het hulp gekry van mense met opvoedkundige kennis. Ek het ook my dogtertjie, Megan, wat nou in gr. 1 is, baie betrek. Sy is ook een van die kinders wat ek gebruik het om deel te wees van die album en DVD. Sy is baie oulik, ek dink sy gaan ook liedjies skryf eendag,” sê Pretorius trots.

Bee-Bee die By is op Facebook en Instagram en tree gereeld by kleuterskole, laerskole en ander geleenthede op. Die album is op alle groot digitale platforms beskikbaar en ʼn fisieke kopie kan ook op die webwerf bestel word.

“Ons het dit ook goedgedink om die DVD op ʼn USB-stokkie te laai wat in die vorm van ʼn baie oulike bytjie is. Dit kan in enige rekenaar of agter in ʼn slim-TV geprop word en dit verskaf ure se kykgenot vir die kinders,” sê Pretorius.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud met Jeanette Pretorius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.