Luister: Benice wil hoop bring deur haar musiek

Benice Borman

Benice Borman is al ʼn ou bekende in die gospelbedryf en spog met treffers soos “Here praat met my”, “Jy is ʼn diamant” en “In U hande”. Sy het onlangs haar jongste CD genaamd Hier naby U uitgebring, en wil daardeur hoop aan Suid-Afrika en elke enkele luisteraar te bring.

Benice het al van kleintyd af ʼn liefde vir sang en geestelike musiek. Sy was net vyf jaar oud toe sy met twee blonde poniesterte haar heel eerste lied in die kerk voor mense gesing het.

“Ek het grootgeword waar daar net altyd musiek was. Ek sê altyd musiek is in my are. My ma het altyd gesê ek is gebore met die mikrofoon in my hand – ek kon eers sing en toe praat,” sê sy skalks.

“Musiek was maar nog altyd ʼn passie, omdat ek grootgeword het in ʼn huis waar daar altyd musiek was. Dit was ook ʼn droom, wat ek glo God in my hart geplaas het, en dit is waarom ek vandag sing.”

Benice het buiten haar gospel CD’s ook ʼn sekulêre CD, Vir ewig en altyd, uitgebring, maar sê gospel is vir haar spesiaal omdat sy haar daarin kan uitleef.

“Ek het ʼn passie vir geestelike musiek en om ʼn verskil in mense se lewens te maak deur geestelike musiek en die boodskap wat daardeur kom.”

Hier naby U is Benice se sewende album en is in Desember verlede jaar uitgereik.

“Ons het so ʼn gejaagde lewe en ons is so besig elke dag. Rondom ons lyk alles net deurmekaar en donker, maar hierdie album is om hoop te bring vir Suid-Afrika. Hierdie album is ʼn stil-word album; as jy voel alles raak net teveel, is dit die tipe album wat jy net kan insit en luister. Elke lied het ʼn boodskap, en elke lied, glo ek, kan ʼn verskil maak in ʼn persoon se lewe en in Suid-Afrika,” sê sy.

Die nuwe CD is ook vir Benice ekstra spesiaal omdat sy twee liedjies saam met haar 15-jarige dogter, Kayla, daarop sing.

“Kayla sing al van kleins af, maar vir die laaste twee jaar het ek haar saam met my op die verhoog gevat, en dit is ʼn groot voorreg om die verhoog met haar te deel. Ons het toe besluit om twee liedjies saam op te neem. Ons kry baie goeie terugvoer daarop, want sy het ʼn baie mooi stem en ons stemme vloei baie mooi in mekaar in,” het Benice gesê.

“My boodskap is een van hoop en liefde en dat God se genade groot is. Maak nie saak wie jy is of waar jy vandaan kom nie, God se genade is genoeg vir jou. En dat jy goed genoeg is; dít is die boodskap wat ek wil gee aan elkeen wat na my musiek luister.”

Vir meer inligting besoek Benice se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.