Luister: Bob Ffole rock nou in Afrikaans

Bob Ffole. (Foto: Verskaf)

Binne die eerste paar minute van ʼn gesprek met Bob Ffole is dit reeds duidelik: Dié is ʼn rocker in murg en been wat iets het om te sê – en nie doekies omdraai wanneer hy dit doen nie. Maar deur die loop van ons gesprek skemer daar ʼn sagter kant van Ffole deur. Die gesinsman en pa van twee dogtertjies; die musikant wat ʼn liedjie spesiaal geskryf het vir sy “blou-oog meisiekind”.

Ffole is nie ʼn nuwe naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar was ʼn hele paar jaar uit die kollig terwyl hy, soos hy vertel, “getrou, kinders gekry en huis gekoop” het. Hy was tien jaar lank die voorsanger van Trippple Bypass en het destyds gereeld saam met Fokofpolisiekar en die voormalige Saron Gas opgetree.

In 2010 het Ffole ʼn sabbatsverlof van die musiekbedryf geneem, maar einde 2017 besluit dat hy wil terugkeer na sy ware passie – en boonop sy tande wil slyp in die Afrikaanse musiekmark. “Ek het eendag ʼn Afrikaanse produksie gesien en besef die Afrikaanse musiekbedryf skuif nou weer in ʼn bepaalde rigting en daar is nou weer ruimte om Afrikaanse rock ʼn roll te skryf.

“Ek het gesien daar is ʼn leemte, want daar is net ʼn paar ouens wat dit doen en wat dit regtig goed doen. En dit was eintlik die groot rede vir my besluit in daardie stadium hoekom ek [in Afrikaans begin sing] het,” verduidelik hy.

Wit album is sy eerste Afrikaanse album en elke liedjie in die album is sy eie, behalwe “Laaste lag” wat ʼn verwerking van Steve Hofmeyr se treffer is. Ffole erken hy is nie iemand wat graag bestaande liedjies verwerk en weer opneem nie, maar het besluit om wel een so ʼn liedjie in die album op te neem.

“Toe gaan soek ek daar in die oude doos vir ʼn Afrikaanse liedjie wat almal nog nie gecover het nie. En ek kry toe “Laaste lag” en ek onthou hierdie liedjie en besluit toe om hom so bietjie te rockify. Maar die res is alles my eie liedjies, eie woorde en snitte wat ek vervaardig het saam met my vervaardiger, Johan Kelber.”

Ffole sê hy meen ʼn wye gehoor sal aanklank by Wit album kan vind. “My album is só geskryf dat daar ʼn liedjie vir elke liewe persoon is. Selfs mense wat hou van rustiger kontemporêre musiek tot die heavy rock ʼn roll,” sê hy.

“Een ding wat ek wel weet is dat daar ʼn leemte bestaan in regte rock ʼn roll. Dit is altyd dieselfde mense wat dit doen en nogal baie mense het vir my gesê hierdie album is iets anders, iets wat mense nie aan gewoond is nie en wat mense wil hê. Mense wil ʼn bietjie iets anders hoor, hulle soek ʼn bietjie ʼn nuwe kunstenaar, en ek hoop ek vul daardie leemte.”

En waar vind hy die inspirasie agter sy musiek? “Daar is natuurlik ʼn paar liefdesliedjies, maar die meeste van my liedjies gaan oor goed wat my pla,” sê Ffole.

Bob Ffole. (Foto: Instagram via bob_ffole)

“Ons lewe in ʼn land waar dinge nie reg gaan nie. Dinge is nie soos dit moet wees nie. Eintlik raak die wêreld nou al so. So dan skryf ek liedjies oor die dinge wat my pla, oor die korrupsie in die land, oor die rigting waarin die land gaan. Een van my liedjies, “Dit is ons land”, gaan oor hoekom moet ek jammer sê? Hoekom kan ons nie saamstaan nie, dit is almal se land? So ek skryf baie daaroor ook.”

Ffole verklap daar is ʼn paar bekende mense wat bygedra het tot die musiek in Wit album. “Ghapi wat vir my tromme gedoen het, en Robin Auld wat mondfluitjie en kitaar gespeel het en dan natuurlik Albert Frost het ook ʼn solo gegooi op een liedjie. Oeg, dit was net fantasties!”

Ffole erken dit is moeilik om ʼn liedjie in die album uit te sonder wat vir hom die spesiaalste is, maar as hy moet kies, sal hy “Blou-oog meisiekind” uitsonder. “Dit is ʼn liedjie wat ek geskryf het vir my dogtertjie wat nou vyf jaar oud is. In daardie stadium was sy twee jaar oud. En sy het eendag so gesit en bal speel terwyl ek my kitaar in my hande gehad het en die liedjie het net uitgekom. So dié liedjie lê baie naby aan my hart, want ek is baie lief vir my twee dogtertjies – ek het nog nie kans gehad om vir die tweede een ʼn liedjie te skryf nie. Ek sal nou moet opskud!” skerts hy.

Ffole sal egter dié liedjieskrywery in ʼn besige skedule moet inpas. Hy sal deur die loop van die jaar op talle verhoë te sien wees, insluitend ʼn promosietoer na KwaZulu-Natal einde Augustus en ʼn konsert saam met Francois van Coke einde September. Aanhangers kan sy webtuiste besoek of hom op Facebook en Instagram volg vir meer besonderhede.

Wit album is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae