Luister: Bobby van Jaarsveld terug op die verhoog

Bobby van Jaarsveld kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Vier jaar is ʼn lang tyd om van die verhoog af te bly as musiek jou grootste passie is. Dít, vertel Bobby van Jaarsveld in Maroela Media se ateljee, is die les wat hy afgelope paar jaar geleer het.

Die sanger, wat ʼn blaaskans van vier jaar uit die musiekbedryf geneem het om onder meer op sy akteursloopbaan te fokus, sê hy is binnekort weer vir die eerste keer op die verhoog in die Jakarandastad te sien.

Bobby sluit binnekort aan by groot name soos Karlien van Jaarsveld, Irene-Louise van Wyk, Demi Lee Moore, Ricus Nel, Die Heuwels Fantasties en Joe Niemand tydens die Proe’toria-fees by die Botaniese Tuin.

“Ek het lekker gerus vir vier jaar. Dit was goed vir my en my kop, maar ek het besef ek kan nie so aangaan nie. Musiek is my passie en dit sal altyd so bly.”

Sy hoofrol in kykNET se gewilde dramareeks, Spoorloos, vertel hy, het ʼn hele paar deure vir hom as akteur oopgemaak, en is daar onder meer ʼn rolprent en twee reekse in sy visier.

Bobby het homself intussen besig gehou met ʼn paar sakeondernemings wat “baie goed vaar” en TV-werk gedoen wat tot nuwe moontlikhede gelei het. “Ek is dankbaar daarvoor, maar elke keer wanneer ek gesien het hoe lekker ander kunstenaars vir ons mense op groot verhoë sing, het ek so bietjie gesonde jaloesie ervaar,” erken hy laggend.

Bobby van Jaarsveld as Stefan Claasen in ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

“Ek wil ook daar op die verhoog wees. Dit sal altyd my passie bly. Ek het altyd gesê ek kan nie wag om af te tree nie, maar noudat ek soort van weet hoe dit voel, weet ek, dit is nie vir my nie. Ek moet myself deur mense omring en besig bly.”

Bobby erken hy het ná ʼn stilte van vier jaar begin wonder of sy musiekaanhangers en Afrikaanse luisteraars van hom gaan vergeet.

“Ek sê dankie vir die mense wat nog daar is. Ek was so bang ek word ou nuus. Daar is soveel nuwe kunstenaars wat besonders goed is.” Mense kon eers onlangs weer Bobby se vertonings bespreek, en hy is verstom deur die aantal mense dit reeds gedoen het. “Ek is lief vir julle en dankbaar vir julle.”

Die sanger reik een van die dae nuwe musiek uit sy eie pen uit. “Die mark het beslis rigting ingeslaan na partytjiemusiek wat ʼn mens by ʼn braai saam met ʼn bier kan geniet, maar ek skryf mos nog altyd dieper. Om ʼn goeie popliedjie te skryf is nie maklik nie, maar my musiek is baie persoonlik.”

“Een van my nuwe snitte is getiteld ‘Verlore seun’, wat ek oor myself geskryf het. Deur my musiek doen ek introspeksie. Ons almal het ʼn wond of ʼn seerplek, en dit is waaroor die meeste van my musiek gaan. Dit is vir my belangrik dat dit iets moet beteken.”

Bobby en sy vrou, Annatjie, en hulle drie spruite op die strand. (Foto: Instagram/Bobby van Jaarsveld)

Bobby bly die afgelope paar jaar saam met sy vrou, Annatjie, en hul drie spruite in Ballito in KwaZulu-Natal. Hy verklap dat hulle gereeld braai, en sushi en pasta eet.

“Die Proe’toria-fees is die perfekte fees vir ons gesin, aangesien daar soveel verskillende kossoorte is om aan weg te lê.

“Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse feeste is my gunsteling, want dit voel asof ons as ʼn familie bymekaar kom om lekker saam te eet en kuier. Ek voel gemaklik en tuis tussen my mense op Afrikaanse feeste.”

Die Proe’toria-fees vind op Saterdag 4 Maart en Sondag 5 Maart by die Botaniese Tuin in Pretoria plaas.

Feesgangers kan weer uitsien na stalletjies met uitsoekkos, lekkernye, kuns, jenewer, kunsbier en wyn, en van die grootste name in die musiekbedryf op een verhoog. ʼn Handjievol wynplase gaan hul uitsoekwyne in die wyntuin beskikbaar stel.

Kaartjies is beskikbaar by Tixsa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Net een ko.mentaat…
BAKGAT BOBBY
Sterkte vir jou en familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.