Luister: Boesmanlandse musikant is ʼn ‘lekker mens’

Armand Steenkamp is relatief nuut op die Afrikaanse musiektoneel en is reeds vir ʼn Ghoema-toekenning vir sy jongste vollengte album, Lekker Mens, in die kategorie vir beste boere- of tradisionele musiek-album, benoem.

Hy word vergelyk met geliefde Afrikaanse kunstenaars soos Worsie Visser en Zak van Niekerk en sê in ʼn onderhoud met Maroela Media dié ooreenkomste word getrek omdat hulle almal van Boesmanland se wêreld af kom.

“Ons dialek en aksent is omtrent dieselfde en dit is maar die musiek wat ek geluister het toe ek ʼn laaitie was, so daar sal ʼn invloed wees. Natuurlik probeer jy mos maar jouself ook wees, so ek bring nou weer visvang en jag en daai klas goed in my liedjies in,” vertel Steenkamp.

Hy vertel hy probeer sy musiek só skryf dat ʼn groot gehoor daarby kan aanklank vind. “Ek wou hê dit moet ʼn lekker-voel-album wees met voelgoed-musiek. Die musiek moet jou sommer lus maak om op ʼn velstoel te gaan sit êrens en vir jou ʼn ietsie te gooi.”

Lekker Mens is in die Weskus deur die bekende musikant en vervaardiger Wouter van de Venter opgeneem en vervaardig.

“Dit was vir my verskriklik lekker om saam met Wouter te werk. Hy is ʼn meester op sy gebied en toor met ʼn kitaar. Ek en ou Wouter het sommer van die begin af so goed oor die weg gekom en ons het sommer goeie pelle geraak en ek het vreeslik baie by hom geleer.”

Steenkamp vertel hy het al die oorspronklike snitte op die album self geskryf en voeg by dat sy gunstelingsnit op dié album, “Goeters wat jy like”, groter betekenis vir hom dra as net die lirieke.

“Dit gaan oor ʼn pel van my wat oorlede is en oor wie ek graag ook iets wou skryf. Dit is effens dieper as die res, maar ek het dit so geskryf dat dit jou ook sal laat lekker voel as jy daarna luister,” sê hy.

Hy vertel die snit “Diep steek en lank lê” gaan oor hengeladvies wat ʼn legende in die hengelkringe, oom Spyker Kruger, vir hom gegee het toe hy en drie vriende in Hentiesbaai in Namibië gaan visvang het.

“Hy het een slag vir my gesê: ‘Armand, onthou, as jy bietjie twyfel moet jy diep steek en lank lê’. Dit beteken jy moet die lyn ver gooi,” lag Steenkamp.

Steenkamp sê die uitgangspunt van sy musiek is om die negatiewe dinge in die land op hul koppe te draai en ʼn positiewe aanslag te gee. “In die Boesmanland by ons, is dit droog, en ons sukkel vreeslik, maar dis ook nie net daar waar dit droog is nie, dit is oral droog en orals wil dinge net nie lekker reg kom nie.

“Die land se besigheid is nou half so op sy kop, en ek het gedink mens moet goed skryf wat jou laat goed voel. Jy moet voel dit is nie regtig so sleg hier waar ons nou is nie. Dis net om mense te herinner ons kan elke dag braai en ons kan loop visvang en jag en skiet. Jy moet goeters doen wat vir jou lekker is.”

Lekker Mens is beskikbaar vir aankope op verskeie digitale platforms soos iTunes en Deezer en is ook by groot musiekhandelaars te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.