[Luister] Bok van Blerk sing ‘Modder en Bloed’-temalied

Modder en Bloed. Foto: Verskaf

Modder en Bloed. Foto: Verskaf

Die temaliedjie vir die nuwe Afrikaanse fliek, Modder en Bloed, is onlangs vrygestel en kan moontlik nóg ʼn treffer agter die sanger Bok van Blerk se naam wees.

Dié liedjie kom uit die pen van die regisseur en vervaardiger van die fliek, Sean Else, en sy musiekvennoot Johan Vorster, wat voorheen treffers soos “De La Rey”, “Ons vir jou Suid-Afrika”, “Tyd om te trek” en “68 Chevy” geskryf het.

Sean vertel dié liedjie het ʼn diepgewortelde betekenis wat gaan aanklank vind by baie mense. “Die liedjie, wat ‘Modder en Bloed’ heet, is deur die fliek geïnspireer en vertel van skuldgevoelens, en hoe ’n mens jou kwalik neem as jy nie daartoe in staat is om jou familie te beskerm nie. Dit vertel dat jy moet terugdraai na God toe en die krag vind om voort te gaan.”

Bok van Blerk, wat ook ʼn rol in die fliek vertolk, gee gestalte aan dié liedjie. “Die liedjie, soos die fliek, spreek nie net tot die karakters en tyd van die Anglo-Boereoorlog nie. Dit is universeel en van toepassing op enige persoon of groep mense wat die krag en deursettingsvermoë nodig het om te red wat hulle het, of dit nou besittings of spiritueel van aard is.”

Die fliek speel af gedurende die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika en vertel die verhaal van ’n groep Boeregevangenes wat op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou word. Daar het hulle die geleentheid om teen die Britse Ryk op te staan deur die belangrikste spel van hul lewe te speel.

Akteurs soos Stian Bam, Altus Theart, Grant Swanby, Edwin van der Walt, Charlotte Salt, Marno van der Merwe, David Louw, Gustav Gerdener en Patrick Connolly is deel van die rolverdeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lourens ·

Ja ou bok jyt baie verder gegaam as jou groep 5 dae nog steeds n eer om te se ek het saam you gewerk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.