Luister: Bok vier 15 jaar ná ‘De la Rey’ met nuwe uitreiking

Bok van Blerk. (Foto: Francois Olivier)

Dit is vanjaar 15 jaar sedert Bok van Blerk se gewilde lied “De la Rey” die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers verower en hom een van Afrikaans se grootste kunstenaars van alle tye gemaak het.

Die sanger bieg in ʼn onderhoud met Maroela Media dat dit vir hom tydens die inperking moeilik was om liedjies te skryf, aangesien sy denkwyse nie reg was nie.

Sy splinternuwe enkelsnit, “Dis wie ons is”, is pas uitgereik. “Ek het egter ná alles besef ek het tog nog iets om te sê en het begin om nuwe musiek te konsepsualiseer,” vertel Van Blerk.

Hy vertel die liedjie is gebore uit die posisie waarin hy homself weens die Covid-19-pandemie en die meegaande inperkingsmaatreëls, wat die kunstebedryf ‘n massiewe knou gegee het, bevind het.

“Om as broodwinner en hoof van die huis skielik nie te kon werk nie was baie moeilik en baie mense sal hulle daarmee kan vereenselwig. Ek wou ʼn liedjie skryf wat die ouens positief kon laat voel en sê vir die man op die straat dat hy ʼn kampioen is.”

Bok van Blerk. (Foto: Francois Olivier)

Volgens Van Blerk is “Dis wie ons is” ritmies met ʼn rock-klank en klink dit veel anders as treffers soos “De la Rey” en “Ons vir jou Suid-Afrika” wat in ʼn 6/8-tempo geskryf is.

“Dit is vir my 15 jaar later steeds belangrik om eg aan myself te bly terwyl ek die grense probeer verskuif en nuwe dinge uittoets. Net soos 15 jaar gelede is dit belangrik om nuwe goed te doen eerder as om die trends te volg.”

“Dis wie ons is” is geskryf saam met Christoff “Appel” Kotzé en Arnold Coleske. Appel het ook die treffers “Koue voete en warm liefde” en “Lemoene” saam met Van Blerk geskryf.

“Ons het sowat vier jaar gelede laas saam geskryf en dit is altyd lekker om saam met hom te werk,” sê Van Blerk.

Hy gee toe dat 15 jaar ʼn lang tyd is, al het dit in ʼn oogwink verbygevlieg. “Veral wanneer jy na foto’s kyk kan jy agterkom hoe die tyd verloop het,” lag hy.

“Dit is wonderlik om na soveel jare steeds aan die gang te wees met my musiek en te doen waarvoor ek lief is.”

Hoewel die musiekbedryf tans op ʼn onsekere plek is, sê die sanger dat hy dié uitdaging van vernuwing omarm.

“Ek hou van ʼn uitdaging. Dit is amper soos om oor te begin en om nuwe maniere te vind om dinge te doen, aangesien alles nou verander het. Die digitale musiekwêreld het egter uiteindelik nou heeltemal vir Suid-Afrikaners ook oopgegaan.

“Ek het nog baie op die hart en hoop om vir die volgende 15 jaar nog baie musiek te maak.”

“Dis wie ons is” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johanna ·

Ek is mal oor Bok van Blerk se absolute privaatheid van sy gesin. Hy beskerm hulle sodoende

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.