Luister: Boon is deel van die Weiveld-kliek

Boon. (Foto: Verskaf)

Boon. (Foto: Verskaf)

In die ooste van Pretoria hou Weiveld ál wat ʼn dansliefhebber is se voete warm op die dansvloer en nou het dié gewilde kuierplek ook sy eie temalied, “Weiveld Click”, gekry.

“Weiveld Click” is geskryf en word gesing deur Boon, oftewel Gerrit Boonzaaier, ook bekend as voorsanger vir die musiekgroep 2nd Life.

Boon beskryf homself as die musiekkroonprins van Moepelfontein en het in Julie vanjaar sy eerste amptelike buiging op die Gautengse musiekverhoog gemaak tydens die bekendstelling van dié temalied.

“Die liedjie gaan oor partytjie-hou en die positiewe dinge van die lewe,” vertel Boon in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Ons kan gerus die lewe ʼn bietjie vier en ophou dink aan negatiewe dinge.”

“Weiveld Click” word elke week gespeel en op die dansvloer aan Weiveld-gangers bekendgestel. “Sedert die liedjie uitgekom het in Julie vanjaar, was dit soos ʼn ontploffing en die terugvoer lyk baie goed. ʼn Baie bekende persoon, wie se naam ek nie sal noem nie, het op ʼn keer na mense wat gereeld Weiveld besoek verwys as die Weiveld-kliek en ek het toe besluit om ʼn liedjie daaroor te skryf.”

Volgens Boon is die Weiveld-kliek mense wat elke naweek Afrikaanse musiek ondersteun en bemark deur vertonings van Afrikaanse kunstenaars by dié gesogte kuierplek by te woon. “Dit is mense wat saamstaan om die kultuur vorentoe te dryf. Dit is waaroor die Boon-karakter gaan.”

Boon. (Foto: Verskaf)

Boon. (Foto: Verskaf)

“Weiveld is die bekendste dans- en kuierplek in Gauteng,” vertel Boon. “Al die land se top-kunstenaars tree weekliks daar op. Ongeveer 4 000 mense wat elke naweek die optredes bywoon het ʼn kliek begin vorm, en dit het my geïnspireer om ʼn liedjie te maak daaroor.”

Volgens Boon bevat die snit tipiese Afrikaanse humor wat gemeng is met internasionale klanke. “Ek leef myself uit deur woorde en beweging en dit is my doel om met hierdie liedjie mense te laat lag en hulle op die dansvloer te kry. Die wêreld het ʼn tekort aan nuwe Afrikaanse musiek wat uniek klink,” voeg hy by.

Die musiekvideo, wat tydens hierdie onvergeetlike optrede geskiet is, gaan ook binnekort op sosiale media beskikbaar wees en die treffer sal as die amptelike temalied op die volgende Weiveld-album verskyn.

Boon is een van Suid-Afrika se vrolikste en gelukkigste kunstenaars en sy musiek is ʼn bodemlose put van lekkerluister pret. Aanhangers is dit ook eens dat hulle mal is daaroor om saam te sing en dans wanneer hy op die verhoog is.

Op die oomblik is hy besig met sy vollengte album. “Weiveld Click” vat cool na die volgende vlak en dit trap jou ore plat!” skerts Boon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.