Luister: Brendan Peyper nou sterker as ooit

Brendan Peyper (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Brendan Peyper het ʼn splinternuwe enkelsnit wat gaan oor hoe hy homself moet ontdek nadat hy vir lank afgeknou is.

Die Brendan Peyper wat Suid-Afrika tans ken, is ʼn gesonde, goed versorgde en selfversekerde jong man, maar hy vertel dat hy op skool afgeknou en geboelie is, en daarom emosioneel én fisiek sterker moes raak.

Peyper se nuwe enkelsnit, “Sterk soos ʼn leeu”, spreek dié gevoel aan en Peyper wil ander inspireer om hul drome na te streef.

“Ek is al van kleins af op skool ʼn bietjie geteister en geboelie. Dit was so normaal, ek het daaraan gewoond geraak,” vertel hy.

Hy sê wel dat hy niks daarvan sou verander het as hy terug in tyd kon gaan nie. “Want dit het my sterker gemaak as ʼn mens – emosioneel en fisiek. Ek het begin oefen en harder begin werk om rugby te speel. Ook emosioneel is ek baie dankbaar dat ek dit moes ervaar.”

Die bekende Amerikaanse rolprent The Lion King het ook ʼn groot indruk op Peyper gemaak en hy het inspirasie daaruit geput toe hy “Sterk soos ʼn leeu” geskryf het.

The Lion King is een van my gunstelingflieks van alle tye, veral omdat dit so ryk aan lewenslesse is. Van die eerste minuut af begin jy al leer oor die lewe en die kringloop van die lewe.

“Ek hou van die hele proses van hoe Simba grootgemaak word deur sy pa en hoe hy hom alles leer voordat hy oorlede is.”

Peyper sê hy bewonder Simba se reis en hoe hy homself ontdek as ʼn leeu en as ʼn man. “En hoe hy leer om op te staan vir sy mense en vir homself.”

Peyper sê dat hy sélf in ʼn seker opsig soos Simba voel: Hy was vroeg uit die huis uit en moes uitvind wie hy is sodat hy meer selfversekerd kon wees. Peyper het direk na matriek uit sy ouerhuis getrek toe sy sangloopbaan begin optel het.

“My ouers is dalk ʼn bietjie spyt dat ek so vinnig uit die huis uit beweeg het. Ek dink my pa wens hy kon my meer lewenslesse van kleins af geleer het en ek dink ek kon dalk ʼn bietjie langer vasgebyt het by die huis. Maar dit is maar my reis: Om myself te vind op my eie. Ek dink ek het al baie geleer in die afgelope vyf jaar wat ek uit die huis uit en op my eie is,” sê hy.

Nou wil Peyper ander jongmense ook inspireer om hul drome na te jaag, al is dit ongemaklik en onseker.

“Dit maak nie saak watse agterstand jy het nie, hetsy fisiek of verstandelik. Dit help nie om verskonings te gebruik nie. Al wat gaan help is as jy selfversekerd vir jouself sê jy kan dit doen. Jy kan jou drome bereik, maak nie saak in watter toestand jy is nie.”

Peyper vertel dat hy ook moes uithou en aanhou toe daar mense was wat hom probeer onderkry het en wat op sy drome probeer trap het.

“Ek het net bly glo in daardie tyd. Dit was nie lekker om daardeur te gaan nie, maar dit was my realiteit. En my drome is al waarop ek my kop gesit het,” sê hy.

“Sterk soos ʼn leeu” is op alle digitale platforms beskikbaar en die musiekvideo word Vrydag bekendgestel. Dié liedjie is ook vandeesweek vir die eerste keer op Maroela Media se Afrikaanse Top-20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bennie ·

Baie beter as om net te lees van hoe nog boere landsburgers aangeval en gemartel is. En dan die normale komentaar van “wanneer gaan dit ophou”, “wanneer doen die polisie iets”, “we condemn this to the highest” en en en. Verby irriterend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.