Luister: Brendan Peyper warm weer op

Brendan Peyper. (Foto: Verskaf)

Brendan Peyper was vanjaar een van ʼn handjievol Afrikaanse kunstenaars wat by die jaarlikse Sama-toekenningsgeleentheid (South African Music Awards, oftewel Samas) vereer is.

Hy het die prys vir beste popalbum ingeoes vir sy jongste album getiteld Twintig20. Dié album het ʼn hele rits treffers opgelewer, waaronder liedjies soos “Sterk soos ʼn leeu”, “Lekkerder op my trekker” en “Trouvrou”.

Hy vertel in die Maroela Media-ateljee dit was ʼn voorreg om die Afrikaanse musiekbedryf by vanjaar se Samas te verteenwoordig.

“Oral waar jy kom, wil jy altyd iets verteenwoordig. Ek skryf nou lekker en het soveel inspirasie. Daar is niks anders wat ek in die wêreld wil doen nie en dis lekker om die geleentheid te hê om die bedryf te verteenwoordig.”

Hy vertel hulle was verlede jaar onseker of dit ʼn goeie tyd is om ʼn album uit te reik, aangesien die inperking ingestel is en hy sowat 140 vertonings moes kanselleer.

“Die vertonings sou uiteraard verdere bemarking vir die album gewees het. Op elke dorpie waar jy kom, hoor al hoe meer mense van jou. Ons het nie geweet of ons die album moet uitbring nie, maar toe word dit een van my beste uitreikings.”

ʼn Liedjie wat nie in die album te hoor is nie, getiteld “Op jou spoor”, het onverwags vroeër vanjaar ʼn treffer geword nadat Peyper ʼn rou, akoestiese weergawe daarvan op Facebook gedeel het.

Die liedjie het byna onmiddellik soos ʼn veldbrand versprei en sy platemaatskappy het hom die volgende dag genader om dit op te neem.

Dit het intussen een van Peyper se grootste treffers geword. Hy vertel die liedjie is geskep tydens beurtkrag, toe hy saam met sy geliefde Jack Russell-hondjie, Trompie, ʼn kersie opgesteek en sy kitaar nader getrek het.

“Ek het net die vorige dag teruggekom van ʼn jagtog af, waar ek ʼn bok gekwes het en ure lank agter hom aangeloop het tot ek hom gekry het. ‘Op jou spoor’ is ʼn metafoor vir die soektog na ʼn liefde wat jy laat wegkom het. Die liedjie gaan oor die proses om weer daardie persoon op te spoor.”

Hy het die liedjie op Facebook en Instagram gedeel en byna dadelik ʼn oorweldigende reaksie gekry. “Die reaksie was net groter as op enigiets anders wat ek nog ooit uitgereik het.”

Peyper het egter nie ophou skryf nie en sy jongste enkelsnit, “Warm nog op”, is pas uitgereik. Hy vertel die liedjie het ʼn rock-klank.

“Ek wou graag die klank in my eie musiek inwerk. Dit is ʼn lekker dans- en kuierliedjie. Ek hoop mense braai lekker terwyl hulle daarna luister.”

“Warm nog op” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.