Luister: ‘Brisbane-seisoen’ inspireer Simoné Roets se debuutalbum

Simoné Roets (Foto: Foxline Productions)

Ná vyf jaar in Brisbane, Australië, het die Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Simoné Roets besluit dit is tyd om permanent terug te keer na haar geboorteland.

“Ons sal ons avontuur in Australië vir niks verruil nie,” erken Roets tydens ʼn onderhoud in die Maroela Media-ateljee, en sy voeg by dat sy en haar man altyd geweet het dat hulle eendag sou terugkom.

Was dit egter nie vir hulle “Brisbane-seisoen” nie, het Roets dalk nooit musiek in Afrikaans geskryf nie.

“Ek was daar baie betrokke by die Hillsong-gemeente se lofprysing. In daardie omgewing het ek geweldig gegroei en die mense met wie ek omring was, het my ook geïnspireer.

“So het dit gebeur dat ek weer begin skryf het, en dit is interessant dat dit hierdie keer in Afrikaans was. Ek dink dit het iets te doen met ʼn mens se moedertaal. As jy in jou hartstaal kommunikeer is daar maar iets wat gebeur wat baie spesiaal is,” vertel Roets.

Sy is opgewonde om weer haar voete op eie bodem te vind en soveel te meer om haar musiek met Afrikaanse gehore te deel.

“Ons harte is vir Suid-Afrika en sy mense. Nou voel dit na die regte tyd om hier te wees en dit maak sin om my musiek met die mense te deel vir wie ek dit skryf.

“Ek glo dit is belangrik om ten volle te leef waar ook al jy jouself in die wêreld bevind. Dit gaan daaroor om elke aspek van die lewe en die gemeenskap te omarm, selfs al is dit ongemaklik.”

Roets het in 2021 gedebuteer met haar enkelsnit “Dans in die donker”, en sy werk tans saam met Jattie de Beer van Artistry Productions aan haar debuutalbum wat binnekort uitgereik word.

Kort ná die uitreiking van haar debuutenkelsnit het “Ongerep”,  ʼn kontemporêre duet saam met Joshua na die Reën, gevolg. Roets het nou weer kragte met De Beer saamgesnoer wat die liedjie se vervaardiging hanteer het.

Dié sielvolle popsnit kom uit Roets se eie pen en dit gaan oor hoe kwesbaar die mens regtig is.

“‘Ongerep’ word gewoonlik in die konteks van die natuur gebruik, maar met die liedjie wou ek dit in verband bring met die rouheid in ons menswees. Om nie iets of iemand te probeer wees wat jy nie is nie en om eerder iets eg van jouself vir die wêreld te wys,” verduidelik sy.

Sy en Jacques de Villiers, van Joshua na die Reën-faam, se vrou, Danél, was saam op skool. Hulle ken mekaar dus al geruime tyd. Roets vertel dat sy hom nog altyd in gedagte gehad om so iets saam met haar te sing. “As ʼn mens en kunstenaar is hy definitief iemand na wie ek opkyk. Die manier waarop hy musiek skryf en hoe hy sy hart in musiek volg staan vir my uit.”

Roets se debuutalbum is tans in die naproduksiefase voordat dit eersdaags uitgereik word en sy is sigbaar opgewonde hieroor.

“Daar is ʼn storie agter elke liedjie en elke liedjie se klank is anders. Daar is niks in die album wat dieselfde klink nie,” verklap Roets. “Luisteraars wat hou van stories en graag wil weet waar musikante se liedjies vandaan kom, gaan dit geniet.”

Voor dié bekendstelling is daar eers nog ʼn enkelsnit “Om elke hoek en draai” wat vandag (29 April) amptelik uitgereik word.

“Dit gaan oor mense, veral families en geliefdes, wat ver van mekaar af bly en die bittersoet van ʼn langafstandverhouding,” vertel Roets. Die snit lê haar na aan die hart omdat sy en haar ma dit saam geskryf het.

Sy verduidelik verder dat daar twee boodskappe in die liedjie is. “Aan die een kant is daar die avontuur en groei wat plaasvind wanneer jy ver is van alles wat vir jou bekend is. Dít saam met die kort kuiers wat baie spesiaal is juis omdat jy weet julle het min tyd saam.

“Aan die anderkant die ‘bitter’ – om die groot en klein oomblikke van mekaar te mis en ook om te groet ná elke kuier. Ek dink baie mense sal hulle daarmee kan vereenselwig.”

Roets se jongste uitreiking, wat deur De Beer vervaardig is, spog ook met ʼn splinternuwe musiekvideo. Die video is deur Adi van der Walt vervaardig en dit is ʼn verwewing van persoonlike selfoonvideo’s en tonele wat in die ateljee vasgevang is.

“Die video vertel ons storie en wys iets van my verhouding met my gesin oor die laaste vyf jaar: die duisende Facetime-oproepe, stemnotas, asook die kort kuiers saam. Ek wou dit ʼn bietjie meer persoonlik maak sodat mense iets kan sien van myself as mens en kunstenaar,” sê Roets.

“Om elke hoek en draai” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na “Om elke hoek en draai” se musiekvideo:

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Simoné Roets. Sy het in Maroela Media se ateljee gesels oor haar terugkeer na Suid-Afrika en haar jongste enkelsnit “Om elke hoek en draai” wat vandag bekendgestel word. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.