Luister: Burgerd van Romanz-faam doen nou sy ‘eie ding’

Burgerd Botha (Foto: Facebook)

Sewe jaar lank was hy deel van die platinumbekroonde musiekgroep Romanz wat die wêreld platgetoer en selfs op ʼn koninklike troue in Monaco gesing het. Dié jaar, amper ʼn halfdekade nadat die groep se paaie geskei het, is Burgerd Botha gereed om sy solo-loopbaan met mening aan te pak.

Dis ʼn groot stap vir enige sanger wat voorheen as deel van ʼn groep groot sukses behaal het om skielik as solokunstenaar te werk, sê die sanger in ʼn onderhoud met Maroela Media. Maar hy’s gʼn bang nie – hy wag reeds sy lewe lank vir dié oomblik.

Botha se debuutsolo-album, Hartlagsiel, is vroeër vanjaar uitgereik. Hy vertel hy wou eers seker maak dat elke element in dié album perfek na sy smaak is voordat hy die album die lig laat sien het.

“Ek het vir ʼn kort tydjie betrokke geraak by ʼn hele paar goed, waar onder die familiesakeonderneming. Buiten ander projekte waarmee ek besig was, was dit vir my belangrik dat alles in die album perfek is. Ek wou die album so saamstel dat elke lied as ’n enkelsnit op sy eie staan en uitgegee kan word; elke liedjie ʼn eiland op sy eie. Toe ek eers oortuig was dis reg, kon ek nie meer wag om die musiek te deel nie.”

Hy bestempel die sewe jaar saam met Romanz as ʼn geseënde tyd, maar sê hy wil nou daarop fokus om sy sololoopbaan as ʼn handelsmerk te vestig. “Ek was baie lief daarvoor om saam met die groep te sing; en ek het dit onsettend baie geniet. Dit het natuurlik vir my deure oopgemaak en ervarings gebied wat ek andersins nie sou kon beleef nie. Ek is egter regtig verskriklik passievol oor my solowerk en sien baie daarna uit om nou op my eie ding te fokus,” vertel hy.

Hartlagsiel het volgens hom die Burgerd-stempel omdat hy met die vervaardiging van dié album sy eie kreatiewe proses kon volg – iets wat destyds as een van die lede van die groep nie moontlik was nie.

Die Romanz-sangers tydens ‘n konsert vir Adam (Foto: Facebook)

“Dis heerlik om my eie liedjies te kan opneem en te hoor wat mense daaroor sê. Ek het baie lank gewag om dit wie ék is ook in my eie musiek vas te vang. Net ʼn paar van my eie liedjies is in my tyd saam met Romanz opgeneem, en ek het in dié tyd baie liedjies gebêre wat ek nou vir die eerste keer die lig gaan laat sien.

Hartlagsiel is ʼn vertelling van my lewe van die afgelope paar jaar. Die album is een wat ’n mens aanspoor om die lewe elke dag opnuut aan te pak, ongeag die feit dat dit soms moeilik is en alles nie altyd volgens plan verloop nie. Ek hou ook van lekker ligte of dansmusiek – maar as ek skryf, hou ek daarvan om ʼn storie of ʼn boodskap te vertel.”

Oor die albumtitel, sê Botha: “‘Hartlagsiel’ is ʼn nuutskepping en dit vertel hoe ʼn mens iemand se entoesiasme oor die lewe tasbaar kan voel. Tydens die samestelling van die album was daar nie ʼn woord wat die album beskryf het soos wat ek dit beskryf wou hê nie – en ‘hartlagsiel’ doen juis net dit.”

Botha het een van die snitte in die album vir Adam Barnard, ʼn oud-lid van die groep, geskryf. Barnard is die afgelope jaar by verskeie geleenthede gehospitaliseer weens neuropatie-sindroom, ʼn toestand wat gekenmerk word deur die verlies van gevoel in ledemate soos die hande. Die sanger het deur selfs dieper waters gegaan ná sy ma se dood verlede jaar.

Die omslag van Botha se solo-album (Foto: Facebook)

“Ek het die liedjie ‘Waarvoor ek vra’ geskryf die aand nadat ek gehoor het Adam se ma is dood,” vertel hy. “Dis geen geheim dat hy onlangs deur ʼn geweldige slegte tyd is nie, maar dit gaan nou weer beter met hom. Baie keer besef ons nie hoeveel mense werklik swaarder kry as ons nie; en ek het tot die insig gekom dat dit nie altyd so goor met my gaan as wat ek dink nie. Daarom vra ek in die lied: Help ander wat swaarder kry as ek en leer my om meer te gee as waarvoor ek vra.”

Sou daar ʼn kans wees vir Romanz om weer as ʼn groep te herenig? “Ek wil graag ja sê, maar ek glo nie dis moontlik nie,” sê jy. “Ons het al daaroor gepraat, en dit lyk nie soos iets wat sal gebeur nie. Elkeen se loopbane en lewens het verskillende rigtings ingeslaan. Ons is lief vir mekaar en hou konstant kontak, en hoewel ons tyd saam wonderlik was, is dit nou iets wat in die verlede is.

“Ek sal hierdie tyd van my lewe vir niks in die wêreld wil verruil nie. Ek het so baie geleer – oor myself, oor musiek, oor my stem en ook oor hoe om die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te benader. Daar was net soveel hoogtepunte wat geld nie kan koop nie en dit is hoekom ek vir altyd sal dankbaar wees daarvoor. Dié jaar begin ek egter fokus – en ek weet ek kan dieselfde hoogtes bereik as wat die groep voorheen beleef het.”

Romanz se laaste optrede is by Gospel Skouspel in September vanjaar. Vir meer inligting besoek Botha se amptelike Facebook-blad of laai Hartlagsiel op iTunes af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bert ·

Baie geluk en baie sterkte met jou sololoopbaan Burgerd. Jou uiters musikale stem doen reg aan elke snit op hierdie album. Mag jy van krag tot krag gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.