Luister: Charlize Berg praat oor nuwe album


Charlize Berg. Foto: Facebook via Charlize Berg

Charlize Berg. Foto: Facebook via Charlize Berg

Charlize Berg, wat voorheen benoem is vir ʼn Ghoema en Sama-toekennings, het onlangs haar jongste album, As jy weet dis liefde, uitgereik. Die enkelsnit op dié album, “Braaf”, en die musiekvideo daarvan maak ook opslae in die musiekbedryf.

Charlize vertel dié album is geïnspireer deur liefde. Sy is reeds agt jaar in ʼn verhouding en die liedjies op die CD vertel van haar ervarings en hoogte- en laagtepunte in die verhouding.

Sy sê aanhangers kan met dié album uitsien na uiteenlopende klank. “Die album bevat ʼn bietjie van alles. Ons het met die maak daarvan ʼn internasionale klank probeer verkry. Ek dink beslis ons het grense verskuif in vergelyking met my vorige album.

“Boonop was dit ook ʼn voorreg om saam met mense soos Joe Foster, Bouwer Bosch, Johan C Venter en Roux Cloete aan die album te werk,” sê sy.

Volgens haar het die CD ʼn boodskap van innerlike krag en om in jouself te glo. Benewens die musiekvideo vir “Braaf” kan haar aanhangers moontlik ook nog musiekvideo’s van die album verwag.

“’Braaf’ is ʼn liedjie wat na aan my hart lê. Ek het saam met Bouwer Bosch en Roux Cloete geskryf aan die liedjie en die musiekvideo lyk soos ʼn sprokiesverhaal. ‘Braaf’ probeer sê al is jy nie saam met die persoon vir wie jy lief is nie, kan jy hom of haar altyd in jou hart by jou dra.”

Sy het ook ʼn Engelse liedjie saam met Joe Foster opgeneem vir dié album. “Joe het een aand ʼn melodie wat hy al lank saam met hom dra op die klavier begin speel. Alles het net gevloei en spontaan gebeur en toe is “Before I knew” gebore. Nou is dit een van my gunsteling-liedjies op die album.”

As jy weet dis liefde is beskikbaar by Musica landwyd. Besprekings kan gemaak word op Charlize Berg se webwerf. Besoek ook haar Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.