[Luister] Chris Else sing country op nuwe album

Chris Else. Foto: Facebook via Chris Else

Chris Else. Foto: Facebook via Chris Else

Die sanger Chris Else het onlangs die mooie Struisbaai in die Wes-Kaap verruil vir Pretoria se stadsliggies, en sê hy was oor niks nog só seker soos die besluit om sy musiekdrome na te jaag nie.

Else het sy verkorte vyf-snit EP-album op vanjaar se KKNK in Oudtshoorn bekendgestel. Dié album, Chris Else, is sy tweede.

“Dit was vir my ʼn baie groot voorreg om die verkorte album te maak en bekend te stel op die KKNK. Ek het twee jaar laas ʼn album uitgereik en is baie opgewonde oor dié nuwe musiek,” vertel hy.

Hoewel hy nie self liedjies vir dié album geskryf het nie, is hy ʼn kranige skrywer en beplan hy om vir die vollengte album liedjies neer te pen. “Ek probeer skryf oor die goed wat met my gebeur of ondervindinge en ervaringe wat ek het. Ek was egter nie betrokke by die skryfproses van dié album nie. Christoff Kotze en Roux Cloete het die skryfproses behartig.”

Die eerste enkelsnit van die album, “Gebreekte glas”, is vroeër vanjaar bekendgestel en is op verskeie radiostasies gespeel. Else sê hy beplan om die tweede enkelsnit in Julie vanjaar uit te reik.

Die bekroonde Vaughan Gardiner het saam met Else as vervaardiger gewerk aan die album. “Aanhangers kan vars klanke en ʼn groot verandering in my styl verwag, want ek sing ʼn bietjie meer country op die album,” vertel hy.

Else sê hy mis Struisbaai, maar hy weet hy is waar hy nou moet wees. “Ek gaan probeer om dit wat ek doen, voluit te doen. Die geleenthede is baie meer as in die Kaap, en dis my absolute passie om musiek te maak.”

Besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cassie van Zyl ·

Trots op jou Chris! Ek hoop van harte jy bereik groot sukses!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.