Luister: Christia Visser se liefdeslied aan verloofde

Christia Visser sou verlede maand getrou het, maar soos soveel ander bruide moes haar troue uitgestel word tot ná die afsonderingstydperk. Haar jongste liedjie, “Kaal voor jou”, het sy geskryf om op die paadjie na die kansel af te stap.

Visser en haar aanstaande, Thomas Webb, het in April 2019 verloof geraak en sou vanjaar in April troue hou. Sy het vroeër aan Maroela Media vertel dat hulle al sowat sewe jaar lank ʼn paartjie is.

Visser sê sy het “Kaal voor jou” geskryf vir haar troudag terwyl sy besig was met verfilming in Oos-Londen in ʼn tyd toe sy erg na Webb verlang het.

“‘Kaal voor jou’ is ʼn liefdesliedjie wat ek geskryf het aan my verloofde, die man van my drome, die enigste man vir my.

“Ek wou hê dit moet ʼn besonderse liedjie wees wat eie en persoonlik is aan my en Thomas se verhouding. Dit was ʼn moeilike lied om te skryf en ek moes dit oor en oor en oor skryf, want ek wou seker maak dat elke liewe sin iets beteken vir ons.”

Sy sê hulle het al sedertdien drie of vier nuwe troudatums gehad, maar soos wat die verskillende vlakke van afsondering bekend gemaak word, het hulle besluit om eers te wag tot hulle weet wat gaan vir wat.

Christia Visser en haar verloofde, Thomas Webb. (Foto: Instagram)

“In dié stadium is die plan om ʼn klein troue te hou en dan, as alles verby is, dalk na einde volgende jaar se kant toe, steeds volgens plan ons groot troue te hou saam met al ons geliefdes. Dis eintlik lekker, ons kan meer as een keer trou en ons het soveel om na uit te sien. So, dit is opwindend,” sê sy.

Visser vertel al kon sy nie haar aanstaande met die liedjie op hul troudag verras nie, het sy steeds iets gedoen om die liedjie heel eerste en op unieke wyse met hom te deel.

“Voordat ek die liedjie vrygestel het aan Suid-Afrika het ek gevoel dit is belangrik dat hy dit eerste hoor. Ek het soesji bestel en kerse aangesteek, en ons het op die mat in ons sitkamer gesit. Dit was persoonlik en intiem. Hy het dit geniet, want hy is ʼn baie persoonlike mens. Die oomblik was vir ons spesiaal.”

Visser vertel dit is partykeer vir haar moeilik om persoonlike dinge met die wêreld te deel, maar dat sy weet dit is belangrik omdat daar altyd goed is waarmee ander mense hulself kan vereenselwig.

Hierdie lied gaan daaroor om emosioneel kaal te wees, eerder as op fisieke wyse.

“As ʼn mens net na die titel luister, kan ʼn mens dalk verkeerd dink. Maar mense wat my as kunstenaar ken, sal darem seker weet dat dit nie fisiek kaal voor iemand is nie.”

“Dit gaan daaroor om emosioneel kaal voor iemand te staan, jy is weerloos voor daardie persoon. Hy of sy sien al jou goed en al jou sleg. So iemand sien jou uiteindelik op die een manier wat die res van die wêreld jou nooit sal sien nie. Jy deel alles met hom of haar, en dís waaroor die liedjie gaan. Dit gaan oor intimiteit op ʼn emosionele vlak.”

“Kaal voor jou” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.