Luister: Coenie de Villiers – 22 albums later en elke dag dankbaar

Coenie de Villiers. (Foto: Verskaf)

ʼn Luisterryke loopbaan wat oor dekades strek. Konserte reg oor die wêreld, verhoë gedeel met internasionale musieklegendes, 22 albums uitgereik en meer toekennings as wat eers van tred gehou kan word.

Coenie de Villiers. ʼn Huishoudelike naam in die Afrikaanse vermaakbedryf.

“Nee wat, ek weet nie of ek suksesvol is nie,” sê De Villiers. “Ek is nie ʼn geweldige groot albumverkoper nie. Nie almal hou van wat ek doen nie en ek het vrede daarmee. Daar is ook mense wat wel daarvan hou en ek is baie dankbaar daarvoor. Ek is baie bevoorreg en net baie geseënd dat ek nog kan werk na soveel jaar.”

Daar is niks blasé aan die manier waarop hy dit sê nie. Eerder ʼn gebrek aan belangstelling in roem en rykdom en alles wat die fokus weg van die musiek verskuif.

Want as jy praat oor die musiek, oor die meesterlike samevoeging van woorde en note só treffend dat dit iets in jou losmaak sonder dat jy dit verwag, dán kry jy De Villiers aan die praat.

“Luister,” sê hy, en speel vir my ʼn verwerking van “Amazing Grace” wat op sy splinternuwe album, Coenie 2.2, verskyn. Dit is die alombekende lied soos jy dit nog nooit gehoor het nie. Die stemme van De Villiers saam met die sangeres Busiswa, die legendariese Judith Sephuma, en die Mzansi-jeugkoor vervat in ʼn verwerking wat bestaan uit ses tale.

Hoendervleismooi.

“ʼn Mens sou dink “Amazing Grace” is al honderde kere gedoen, hoekom dit nou weer doen? Maar hierdie is iets wat net heeltemal anders is as wat jy al ooit gehoor het. Ons almal was in trane toe ons dit opgeneem het. En ek het later gedink, met dít wat nou in ons land aangaan, is hierdie dalk net wat nou nodig is. Geen kleur, geen onderskeid – net amazing grace. As ons kan saam bid, sal ons seker hierdie wa deur die drif trek.”

Dalk is dít die geheim agter De Villiers se suksesvolle loopbaan – sy vermoë om voortdurend te innoveer en met elke album iets anders, iets unieks na die tafel te bring. Van Hugh Masekela tot Laurika Rauch, David Kramer tot Die Heuwels Fantasties – hulle almal het al hul stem tot De Villiers se albums geleen.

Busiswa wat in “Amazing Grace” gehoor kan word, is een van die gewildste vrouekunstenaars in Suid-Afrika met 11 miljoen volgelinge op sosiale media. Sy het pas saam met Beyoncé aan die klankbaan van The Lion King gewerk.

Coenie de Villiers. (Foto: Verskaf)

In Coenie 2.2 doen De Villiers ook ʼn duet saam met Kyle Seconna, ʼn sanger van Kaapstad wat hy as “verstommend talentvol” beskryf. “Ons het ‘Al lê die berge nog so blou’ in Afrikaans en Polinesies opgeneem – die koorgedeelte is ʼn Maori haka soos ons dit van Nieu-Seeland af ken. Waar hoor jy ooit Afrikaans en Maori saam? Kyle is eenvoudig ʼn vonds, en ek is so bly dat hy in die album kan meedoen,” sê De Villiers.

Coenie 2.2 bestaan uit agt nuwe en agt bekende snitte. De Villiers vertel elke snit in die album is sorgvuldig gekies om saam te vloei en as geheel saam te werk.

“Dit is so ʼn bietjie soos rekenaarsagteware – generasie 2.2,” skerts hy. “Dit is die 22ste album en hopelik is daar ook ʼn nuwe klank hier en daar. Ek het agt van die gewildste snitte uit vorige albums van die afgelope tien jaar by hierdie album ingesluit, en dan is daar agt splinternuwe snitte. So dit is ʼn bietjie van ʼn hibriede. Ek dink dit is ʼn baie eerlike album. Dit is regtig waar my ore en my kop in hierdie stadium is.”

De Villiers is vol lof vir die mense agter die skerms van Coenie 2.2. “Baie van die werk aan die nuwe album is gedoen deur die formidabele Mauritz Lotz wat mense ken as ʼn kitaarspeler, maar wat net so wonderlike produksieleier is. Jaconell Mouton is weer by die album betrokke en sy het twee van die nuwe snitte gedoen. Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Wouter Kellerman en Dave Koz is almal mense wat deel is van die album. Die enigste slim ding wat ek regtig ooit doen, is om saam met goeie en talentvolle mense te werk. Hulle laat my goed klink,” lag hy.

Hy verklap dat hy tans besig is met die skryf van Karoo suite 2 saam met die bekende Deon Meyer. Die oorspronklike Karoo suite, ’n musieksuite vir woord en lied, is die afgelope twee jaar reg oor Suid-Afrika opgevoer en is besonder goed ontvang, en Karoo suite 2 beloof om net so gewild te wees.

Coenie de Villiers. (Foto: Verskaf)

“Een van Deon se vroeëre boeke is Karoo-nagte en ek het natuurlik die “Karoonag”-lied geskryf. Toe het ons gedink, wat maak ons nou vir Karoo suite 2? En ons het besluit, ons vertel nagverhale.

“Deon het die mooiste, mooiste stories geskryf en hy is ook die verteller. Ek doen die musiek. En vir die beeldmateriaal werk ons onder meer met die sterremateriaal van Nasa. Ons vakadviseur is prof. Matie Hofmann, so ons werk saam met die planetariums ook. Dit gaan ʼn baie interessante vertoning wees en ek en Deon is baie opgewonde daarvoor.”

Maar nou lê die langverwagte bekendstelling van Coenie 2.2 eers voor.

Coenie 2.2 word Sondag 15 September tydens twee konserte in die Atterbury-teater in Pretoria bekendgestel. Die Mzanzi Jeugkoor, Kyle Seconna, Mauritz Lotz, Jaconell Mouton, David Klassen en Denny Lalouette sal almal saam met De Villiers op die verhoog wees.

Die eerste konsert vind om 14:30 plaas en die tweede konsert om 19:00. Kaartjies is nou by iTickets beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sophia ·

Oe Wow, ek is ‘n groot ‘fan’ van Coenie, en glo hierdie een gaan weereens ‘n treffer wees!! Hoop dit gaan op DVD ook wees?

Aangename kennis ·

My eerste kennismaking met Coenie was gedurende ‘n eerstejaarskonsert 1984 op die PU vir CHO. Coenie en Karin Hougaard was die gaskunstenaars met een of ander optrede in die Auditorium. Ek onthou nog daardie vloeiende klavierspel van bv Karoonag soos gister. (Ook Karin se ‘Hy lui telefoon telefoon hy lui / Swaeltjie ens :) )

Ongelooflike talent, dankie Coenie vir die reis sedertdien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.