Luister: Coenie de Villiers gesels oor ‘Karoo Suite’ en inryteater-inisiatief

Coenie de Villiers en Deon Meyer (Foto: Suidoosterfees/Facebook)

Coenie de Villiers en Deon Meyer se tweeluik Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte word op 10, 12 en 13 Desember by Atlantic Studio’s in Kaapstad se inryteater aangebied.

Karoo Suite is ʼn meesterlike kunswerk wat saamgestel is uit Deon se fotografie as agtergrond en sy ware Karooverhale en Coenie se musikale verwerkings en lirieke. Hulle deel die verhoog met fenomenale musikante wat Jaconell Mouton (musiekproduksie en klawers), Mauritz Lotz (kitaar) en David Klassen (perkussie) insluit.

Die aanbieding word aangevul met foto- en videomateriaal van die Karoo-landskap wat deur die National Geographic-span en Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa) verskaf is, asook animasiewerk deur Diek Grobler.

Weens die Covid-19-pandemie is vertonings vir Karoo Suite 2: Karoonagte kort ná die bekendstelling by vanjaar se US Woordfees gekanselleer. Coenie is egter hoopvol dat hulle volgende jaar met dié vertonings kan voortgaan.

“Niemand weet wat die toekoms inhou of wat die virus gaan doen nie,” sê hy. “Dit hang alles van gesondheidsregulasies en veiligheidsmaatreëls af.”

Coenie en Deon hunker daarna om weer op die verhoog te wees.

“Ons is honger om te speel en mense is verskriklik entoesiasties om dit te hoor. Maar ons kan net doen wat ons toegelaat word om te doen,” sê Coenie.

Deon het in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media dié woorde beaam.

“Ek en Coenie kan nie wag om die Karoo Suite-konserte voort te sit nie,” sê hy. “Te midde van die pandemie is teaterproduksies met gehore nie moontlik nie. Maar die inryteater-inisiatief is voorwaar ʼn unieke ervaring wat ons in staat stel om die Karoo Kaap toe te neem.”

ʼn Unieke ervaring, ja! Maar sonder twyfel vreesaanjaend, verklap dié bekroonde spanningskrywer.

“Ek is heeltemal uit my gemaksone. Om te skryf beteken jy sit alleen in jou studeerkamer en skryf. Wanneer die boek maande later verskyn is daar ʼn groter afstand tussen jou, die verhaal en lesers se reaksie.”

Foto: Deon Meyer (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Met ʼn produksie soos dié waar Deon self op die verhoog is en sy stories met mense deel, is daar nie ʼn verskansing nie.

“Binne die eerste paar minute kan jy aanvoel hoe mense reageer, maar dit is terselfdertyd ongelooflik om die emosie en reaksie van gehoorlede te ervaar,” vertel hy.

Coenie en Deon ken mekaar bykans 40 jaar en deel ʼn besondere liefde vir die Karoolandskap en sy mense. Coenie onthou dat Deon aanvanklik effens huiwerig was om stories vir ʼn produksie te skryf en voeg by dat dit na sy mening van Deon se mooiste skryfwerk nóg is.

Deon dink laggend terug aan Coenie se versoek en hoe hy kopgekrap het om met inhoud vorendag te kom.

“Een van die groot uitdagings was om te besluit oor watter eienskappe en elemente van die Karoo ek wou skryf. Ek het ʼn hele paar weke daaroor getob,” vertel Deon.

“Wat my so geweldig lief maak vir die Karoo is die landskap, sy mense en die stories wat ʼn mens daar vind. En dit vorm dan die kern van ons produksie.”

Coenie skryf die sukses van Karoo Suite toe aan ʼn hegte vriendskap tussen hom en Deon, wedersydse vertroue en respek, asook uitnemende musikante waarmee hulle die verhoog deel.

Maroela Media het vroeër berig dat die Suidoosterfees in samewerking met Atlantic Studio’s vir die inryteater van ouds ʼn nuwe baadjie aangetrek het. Gehore kyk uit die gemak en veiligheid van hul motors na produksies op die silwerskerm. Teatergangers kan boonop aan heerlike padkafee-etes, wat vanuit die Kokkedoorstoor voorberei word, smul.

Produksies word regstreeks op ʼn buitelugverhoog aangebied en opgeneem. Inryteatergangers skakel dan in hul motors op ʼn FM-radiofrekwensie in om na die klankbaan van produksies te luister. Die geleentheid voldoen ten volle aan Covid-19-protokol.

Coenie en Deon beywer hulle lank reeds vir die ontwikkeling van jongmense met potensiaal. Karoo Suite het in samewerking met die Atterbury Trust bykans ʼn miljoen rand aan leerders in die Karoo skenk.

Die opbrengs van kaartjieverkope vir die inryteater se vertonings sal aangewend word om die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel-stigting se liriekskryf-mentorskapprogram uit te brei met werkswinkels wat voortaan ook in die Karoo en Kaapstad aangebied sal word. As deel van dié ontwikkelingsprogram kry liriekskrywers die geleentheid om in Suidoosterfees-produksies op te tree.

Kaartjies vir Karoo Suite se inryteatervertonings is by Computicket beskikbaar. Dit kos R400 per motor (met tot vier insittendes). Daar is slegs 40 ateljeekaartjies (vir binne die Atlantic-ateljees) per aand teen R300 per persoon beskikbaar. Klik hier om kaartjies aanlyn te koop.

  • Coenie de Villiers het ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak om oor hul speelvak by Atlantic Studio’s se inryteater te gesels. Hy het boonop ʼn lusmaker uit Karoo Suite 1 Luister bo aan die berig na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek is ‘n bietjie skepties oor die nuutjie. Ek was ‘n bestuurder by ‘n inryteater JARE gelede. Laat ons kyk, maar ek glo dit sal nie lank hou nie. Sodra die grendeltyd verby is, sal dit doodloop, glo ek.

Alexander ·

Ek dink dis ‘n goeie inisiatief, daar is baie mense wat die inryteater mis…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.