Luister: Cordelia wil inspireer met jongste album

Cordelia se jongste album, Wees Lief, is pas uitgereik. Aanhangers van dié blondekopsangeres is gek na dié album en sy gelyknamige eerste enkelsnit wat nou op radiostasies landwyd te hoor is.

Sy vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media die titelsnit is ʼn getuienis van die plek waar sy tans in haar lewe is. Sy het in November 2016 ma geword van ʼn seun, Zavion. “Ná my seuntjie se geboorte het ek net soveel meer liefde om te gee. Dit is absoluut my passie om deur my musiek net vir ander mense te kan liefde gee,” sê sy.

Cordelia wou luisteraars met die 13 snitte op dié album inspireer. “Ons het vir ʼn kommersiële popklank gegaan, maar ek wou seker maak die lirieke is inspirerend. Dit was vir my uiters belangrik. Dit is werklik ʼn album waarop ek baie trots is.”

Sy het saam met van die Afrikaanse musiekbedryf se mees toonaangewende liedjieskrywers soos Rudi Claasse, Johan Oberholzer en Niel Schoombie die snitte vir die album geskryf. “Dit is altyd ʼn voorreg om saam met van ons land se topliedjieskrywers te werk en hulle respekteer ʼn mens se musikale gevoel.”

Cordelia vertel die album is ʼn samevatting van Afrikaanse braaivleismusiek en liedjies wat die hartsnare roer. “‘Tussen die duiwel en die diepblou see’ is ʼn ongelooflike liedjie waarby paartjies of geliefdes aanklank sal vind. ‘Sewe dae ʼn week’, wat geskryf is deur Johan Oberholzer, is ʼn aangrypende en inspirerende lied. ‘Kruise’ en ‘Vreesloos’ is my twee gunstelingliedjies op die album en albei is deur Rudi Claasse geskryf.”

Die musiekvideo vir Wees Lief is deur Gerhard van Rooyen vervaardig. “Dit is altyd lekker om saam met hom te werk. Ons wou hierdie keer net iets gemakliks skiet, want ek is altyd in groot rokke en mense sê dit lyk soos ʼn parfuumadvertensie,” lag sy.

“Dit het ook toevallig gebeur dat my man ook in die video speel. Hy het nie daarvoor beplan nie – hy  was net daar. Dit was een van die eerste video’s wat ons geskiet het waar ek gevoel het dit het net natuurlik gebeur.”

Sy is egter ook mal oor die video wat sy gemaak het vir die liedjie “Volmaak”. “As mense my moet vra watter een van my musiekvideo’s is vir my die mooiste, dink ek dit is dié video. Dit speel af in die weelderige huis en ek het ʼn aandrok aan. Ek speel ook klavier in die video en dit was vir my lekker om daardie kant van my uit te beeld, want min mense weet dat ek ʼn instrumentale kunstenares is en ook klavier en kitaar speel.”

Cordelia. (Foto: Facebook)

Cordelia. (Foto: Facebook)

Sy het in die afgelope paar jaar, sedert haar debuutalbum uitgereik is en sy haarself met haar trefferliedjie “Is jy mal in jou kop” stewig in die musiekbedryf gevestig het, besef haar roeping is om met ma’s en dogters te werk, vertel sy.

Daarom het sy ook, in samewerking met die vrouetydskrif Finesse, ʼn kompetisie vir die mees inspirerende ma en dogter in Suid-Afrika van stapel gestuur. Cordelia, wat as kind aangeneem is, sê sy het deur haar getuienis as aangenome kind te deel besef daar is soveel gebroke verhoudings tussen ma’s en hul dogters. “Soms gaan die mamma op haar eie deur iets soos ʼn egskeiding of die dogter stap nie meer ʼn pad saam met die Here nie.

“Ek het ʼn behoefte vir ma’s en dogters raakgesien en wil graag vroue in verskillende gemeenskappe aanmoedig om te bou aan hul verhoudings en hul gemeenskappe te versterk. Daarom reël ons nou glansaande vir ma’s en hul dogters en aan die einde van 2019 sal ons die ma en dogter kies wat ons die meeste inspireer. Die glansaande is ook ʼn geleentheid vir ʼn geldinsameling vir ʼn gemeenskap, so enigiemand wat so iets wil reël, kan ons altyd nader en ons sal hande vat met hulle.”

Wees Lief is op alle digitale platforms asook by groot musiekhandelaars beskikbaar. Mense wat meer inligting oor die Ma-en-dogter-glansaande wil bekom, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.