Luister: Corlea Botha: ‘Ek wil mense raak met my musiek’


Corlea Botha. Foto: Maroela Media

Corlea Botha. Foto: Maroela Media

Haar teatrale optredes en kenmerkende sopraanstem het haar ʼn bekende by feeste en konserte gemaak, maar Corlea Botha sê alles bly genade waarvoor sy nederig dankbaar is.

Die sanger het aan Maroela Media vertel haar skedule is deesdae stampvol. “Ek kan byna nie fokus nie, so besig is ek,” het sy geskerts. “Ek en Jannie Moolman beplan ʼn baie groot konsert in dieselfde trant as Afrikaans is Groot. By dié konsert gaan ons bekende statige en klassieke liedjies sing.”

Corlea se liedjie, “Uit klip getap”, is ook op die Modder en Bloed-klankbaan te hoor. Sy sê dit was vir haar ʼn voorreg omdat sy uit ʼn familie van sterk vroue kom. “Sean Else en Johan Vorster het saam gewerk aan die liriek vir dié liedjie en my die voorreg gegee om vir die eerste keer deel te wees van ʼn fliek se klankbaan. Ek sing uit die oogpunt van die vroue in die konsentrasiekampe. Ek dink die liriek vertel ʼn ongesensureerde storie en dis vroue wat ons almal ken.”

Aanhangers gaan dalk nog ʼn bietjie moet uithou vir ʼn nuwe album. “Iemand het my gisteraand gevra wanneer ek ʼn nuwe album gaan vrystel, en toe sê ek wanneer ek tevrede is. Ek dink ons word gebombardeer met blikkerige musiek en niksseggende woorde en goed wat net rym. Ek wil gehaltemusiek maak wanneer ek ʼn album vrystel.”

Een ding bly egter seker, en dit is dat sy mense met haar musiek wil raak. “Ek dink mense sien altyd die uitrustings en die grimering. Deesdae met sosiale media moet ’n mens die visuele aspek ook reg hê. Ek voel egter ek het as mens ook iets om te gee, en probeer my eie ervaring in liedjies oordra. As ek net een persoon kan raak, is dit genoeg.”

Besoek Corlea se Facebook-blad en webwerf.

Kyk na ’n video waarin Corlea verklap wat sy in die donker doen, wie in haar oë die aantreklikste man is en sy haar gunstelinggrappie vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.