[Luister] Dan Patlansky bring binnekort nuwe album uit

Dan Patlansky. Foto: Instagram via Dan Patlansky

Dan Patlansky. Foto: Instagram via Dan Patlansky

Die blues-en-rock-sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler Dan Patlansky noem nou wel Suid-Afrika sy huis, maar dié sanger maak internasionaal só opslae dat kanse vir Suid-Afrikaanse aanhangers al skraler word om sy plaaslike konserte by te woon. Die sanger stel binnekort sy nuutste album, Introvertigo, bekend.

Dan vertel Introvertigo is sy agtste album. “Dit is verreweg my beste album nog, wat mý betref. Dit het die maklikste ‘gevloei’ van al my vorige werk en die klank is ook so eg as kan kom. Ek kan nie wag om aanhangers se reaksie daarop te hoor nie,” het hy gesê.

Aanhangers kan baie van die klassieke elemente verwag wat die sanger kenmerk. “Dit het dieselfde klank waarmee mense my verbind, naamlik die sterk kitaargedrewe stempel. As liedjieskrywer word jy ook elke keer beter. So, daar is tog nuwe elemente wat die album uniek maak.”

Hy het aan die einde van 2015 saam met Joe Satriani getoer vir dié sanger se Shockwave-toer. Hy sê die ervaring was lewensveranderend. “Ek luister na sy musiek vandat ek jonk is en dit was in alle opsigte ʼn droom wat bewaarheid is. Dit was so inspirerend om saam met hom te werk. Hy doen sy werk foutloos aand ná aand, en hy het ons nooit soos ‘ekstras’ laat voel nie. Dit was ʼn wonderlike leer-ervaring.”

Dan, wat verskeie positiewe internasionale resensies ontvang het, sê hy hoop aanhangers hou ook van dié album. Die Blues Rock Review bestempel dié sanger as die beste kitaarspeler in Suid-Afrika. “Ek kan net hoop dat mense die album ook so positief ontvang soos my vorige musiek. Daar gaan so baie werk in die ateljee in; wanneer die album uiteindelik te koop is, is dit egter moeilik om mense se moontlike reaksie daarop te bepaal.”

Introvertigo word op 6 Mei wêreldwyd bekendgestel. Aanhangers kan egter die CD koop by vroeë-bekendstellingskonserte. Besoek sy webwerf, Facebook-blad en Twitter vir meer inligting.

Dan het ons met sy sangtalent vermaak in Maroela Media se ateljee. Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.