Luister: Danny Smoke nou in kollig ná jare agter die skerms

 

Op 31-jarige ouderdom het Danny Smoke al baie in die Afrikaanse musiekbedryf bereik: nie net vervaardig hy van die grootste name in die bedryf se albums nie, maar hy het ook al verhoë tydens groot konserte soos Afrikaans is Groot en In Afrikaans aan die brand gespeel.

Net soos die “Boerepompie”-sanger Ricus Nel en Christoph Kotzé, deesdae beter bekend as die sanger Appel, het Danny vir jare as kitaarspeler en liedjieskrywer vir gesogte Afrikaanse kunstenaars opgetree. Nou het hy uiteindelik besluit om homself as sanger in die kollig te plaas en sy eerste debuutsolo-album, Swaeltjies, is pas uitgereik.

Danny verklap in ʼn onderhoud met Maroela Media dat hy altyd bang was daarvoor om homself op die voorgrond te plaas. “Ek het nog altyd daarvan gedroom om my eie musiek te skryf en uit te voer. Ek het gevoel ek het ʼn plafon in die bedryf bereik en het besluit die volgende logiese stap is om my eie musiek te maak. Ek kry soveel goeie musiek wat deur my ateljee gaan en elke keer dink ek, ek kan dit ook doen,” sê hy met ʼn vonkel in sy blou oë.

Sy eerste enkelsnit, “Jou lippe”, uit die pen van Smoke, Johan Vorster en Christoph Kotzé, was uit die staanspoor ʼn gunsteling onder Afrikaanse musiekliefhebbers en was die perfekte lusmaker vir sy debuutalbum.

Danny Smoke. (Foto: Verskaf)

Danny Smoke. (Foto: Verskaf)

“Ek hou baie van popmusiek, want dit beweeg en verander baie vinnig en jy moet die luisteraar heeltyd geïnteresseerd hou. Jy kan beslis op ‘Jou lippe’ dans, want ek hou daarvan – ek hou van dans en om ʼn goeie tyd te hê en ek hou ook daarvan as ek by ʼn vertoning is en ek sien ander mense geniet hulself.”

Hy vertel die liedjie gaan oor ʼn meisie met mooi lippe. “Hoe meer jy haar sien en hoe meer jy met haar te doen kry, hoe mooier word sy.”

Die musiekvideo, wat bykans 13 500 trefslae op YouTube het, is vervaardig deur Christian Wolf. Hy is saam met die model, Jeanine Viljoen, in die video te sien.

“Die skietproses was vir my ook ʼn eerste, want ek het al soveel musiekvideo’s saam met ander kunstenaars gedoen, maar dit was die eerste keer wat ek self daar voor moes staan en die hoofkarakter speel. Dit was vreesaanjaend, maar baie lekker. Christian, wat ʼn sanger in die popgroep NRG was, maak ongelooflike musiekvideo’s. Hy en sy span het dit regtig baie maklik gemaak vir my,” vertel Danny.

Onder die 13 snitte op die album is ʼn liedjie wat hy vir sy dogtertjie geskryf het getiteld “My weer skoon was” en hy vertel dat dié baie persoonlike snit hom na aan die hart lê.

“My dogtertjie bly nie by my nie, so ek mis haar elke liewe dag. Ek het in die bed gelê en die lirieke het net in my kop gekom, want ek verlang so baie na haar. Die eerste lirieke van die liedjie is: Dis moeilik om aan die slaap te raak, as die wind en die waarheid jou wakker maak. Dit is net ʼn ode aan haar en ek is uiteraard só lief vir haar.”

“Jou lippe” en Swaeltjies is op alle digitale platforms beskikbaar vir aankope. Swaeltjies is ook in toonaangewende musiekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Baie goeie kitaar speler en lewendig op n verhoog dis n plesier om na hom te kyk hoe hy dit geniet. Sterkte met jou pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.