Luister: Dawie de Jager oor Klopjag, ‘Stroomop’ en ‘Dominee Tienie’

Dawie de Jager, die musikant met sy kenmerkende hoedjie en storievertellerstem, is sedert 2002 as een van die stigterslede van die groep Klopjag ʼn gewilde gesig in die musiekbedryf.

Sy loopbaan as musikant het ook wortelgeskiet in die rolprentbedryf, en deesdae is hy die man agter klankbane vir lokettreffers soos Roepman, Sy klink soos lente, Verraaiers en meer onlangs die avontuurfliek Stroomop, met Ivan Botha in die regisseurstoel.

De Jager vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat Botha hom sowat ʼn jaar gelede al genader het om die klankbaan van sy nuwe fliek, wat vanjaar op Vrouedag in teaters landwyd begin draai het, te behartig.

“Ek het dadelik ingestem!” vertel hy opgewonde. “Dit is min dat mens die geleentheid kry om ʼn rolprent te maak, so dit is altyd vir my ʼn groot eer as iemand my vra om deel te wees daarvan.”

Hy vertel die lekkerste deel daarvan om klankbane vir rolprente te skryf, is om die emosies van die karakters vas te vang. “Ek het byvoorbeeld vir elke karakter ʼn instrumentkeuse gemaak. Lana (Donnalee Roberts) is ʼn rebelse dokter, so ek het gevind ʼn elektriese kitaar pas perfek by haar. Vir Adrie (Chanelle de Jager), die ma van drie wat smag na die perfekte gesinslewe en wat nog altyd daarvan droom om ʼn ballerina te wees, het ek die harp gekies.

“Vivian (Simoné Nortmann) is ʼn klein mensie, so ek het ʼn klein nylonsnaar-ukelele gebruik wat net dadelik by haar gepas het en vir die ma en dogter, Diona en Nixie (Ilze Klink en Carla Classen), het ek ʼn twaalfsnaarkitaar gebruik.”

Hy vertel dit was ook sy en Botha se visie om van stemme gebruik te maak met sekere dele van die fliek. “Ons was so gelukkig dat Janie Bay ons uitgehelp het. Ek het haar elke keer net by die water gebruik. Sy is soort van die engel op die rivier wat ook die karakters emosioneel saambind.”

De Jager het tydens die opname van Stroomop se klankbaan die meeste van hierdie instrumente self bespeel, opgeneem en gemeng. “Ek het vir Marie-Louise Diedericks, wat saam met my in Klopjag speel, genader om die tjello te bespeel.”

Dawie en Carel Nel tydens die bekendstelling van 'Dominee Tienie' by die Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Dawie en Carel Nel tydens die bekendstelling van ‘Dominee Tienie’ by die Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Hy is ook verantwoordelik vir die klankbaan van die opkomende fliek, Dominee Tienie, wat by vanjaar se Silwerskermfees gedebuteer het en in Januarie in teaters vrygestel word. De Jager se regisseursbroer, Sallas, was aan die stuur van dié fliek wat gegond is op die Dana Snyman-eenmanstuk met dieselfde titel.

Die fliek handel oor dominee Tienie Benade (Frank Opperman), ʼn predikant wat ná 16 jaar in die Moedergemeente gekonfronteer word met ʼn geweldige daling in bywoning en ʼn moderne gemeenskap wat daagliks verander.

“Jare gelede het Klopjag saam met Dana vertonings gedoen waar hy saam met ons op die verhoog sit en stories vertel het, en ons het baie goeie vriende geraak. Destyds toe Dana die eenmanstuk vir Frank geskryf het, het Sallas al met die idee vir die fliek opgekom. Hy het toe die draaiboek ontwikkel sodat dit vir ʼn fliek kan werk.”

Hy vertel dit was ʼn heerlike proses om die musiek vir dié fliek te maak. “Ons het sommer in die kerk self waar ons geskiet het die orrelis opgeneem wat regte liedjies gespeel het wat jy altyd in die kerk sou hoor. Die klankbaan is uiteraard baie kleiner as Stroomop sʼn, want die storie gaan net oor ʼn dominee en sy gesin op ʼn klein dorpie.”

De Jager vertel dat hy glo die boodskap van die fliek is belangrik. “Die fliek vra die vraag of daar nog plek is in hierdie wêreld vir predikante of die kerk. Is die kerk net ʼn gebou, of is dit ʼn plek waar die wêreld ingenooi kan word? Is dit ons plek om te sê wie is goed genoeg om in die kerk te wees en wie is nie?”

Al is sy dagboek stampvol met verwerkings vir rolprente, is De Jager ook besig om homself as solokunstenaar te vestig nadat hy Bobby van Jaarsveld se aandag getrek het tydens die tweede seisoen van die realiteitsreeks The Voice SA.

Sy eerste enkelsnit, ʼn Engelse snit getiteld “Beyond Infinity”, is onlangs uitgereik. “Baie mense vra my in watter taal ek sing, maar ek dink nie musiek hoef net in een taal te wees nie. ʼn Mens hoef nie jouself so klein te maak deur net in een taal te sing nie.

Die span van 'Dominee Tienie'. Van links na regs: Dawie de Jager, Carel Nel, Aaron Rahlogo, Frank Opperman, Izel Bezuidenhout, Sallas de Jager, Henriëtta Gryffenberg, Deon Lotz en Luan Jacobs. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die span van ‘Dominee Tienie’. Van links na regs: Dawie de Jager, Carel Nel, Aaron Rahlogo, Frank Opperman, Izel Bezuidenhout, Sallas de Jager, Henriëtta Gryffenberg, Deon Lotz en Luan Jacobs. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“My pa het ons grootgemaak met musiek van Cat Stevens, Simon and Garfunkel en Neil Diamond, en tussendeur het ons geluister na Laurika Rauch, Lucas Maree en Anton Goosen. Ek dink dit is hoe almal van my generasie grootgeword het. Ons almal se ouers het na Creedence Clearwater Revival en Bruce Springsteen geluister.”

Oor “Beyond Infinity” vertel hy: “Ek het een aand by my huis opgekyk na die hemel en gesoek na sterre, maar in die stad is daar mos nie baie sterre nie. Ek het toe die gevoel gekry dat ons almal soms voel ons bly net val. Die gedagte het by my opgekom dat, as ons almal net sterre is wat besig is om te val en uit te brand, dit baie beter sal wees om te val saam met iemand vir wie jy lief is, as wat jy net alleen uitbrand.”

Hy sê daar is ʼn album in aantog wat teen einde vanjaar beskikbaar sal wees. “Ek is nie by ʼn platemaatskappy nie en ek finansier alles self. Soos wat daar ʼn geldjie is, neem ek nog iets op. Ek vat my tyd met die skryf daarvan.

“Mense wat vir Klopjag en Tuindwergies nog altyd volg, sal weet dat elke liedjie ʼn storie daaragter het. Ons het nog nooit daaraan geglo om almal saam in ʼn kamer te sit en te kyk wat rym en daar gaan ons nie.

“Noudat ek ouer is en iemand vra my om ʼn Klopjag-liedjie by ʼn konsert te speel, kan ek nog steeds inskakel op hoe ek gevoel het op daai dag en wat my geïnspireer het, al het ek daai liedjie op 21 geskryf en ek is nou amper 35.”

“Beyond Infinity” is op alle aanlyn musiekplatforms beskikbaar.

Kyk hier na die amptelike lokprent vir Dominee Tienie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.