Luister: Demi Lee Moore oor lewe ná ‘Die Kontrak’

Demi Lee Moore. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Demi Lee Moore. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Demi Lee Moore het uiters gewild onder Afrikaanse musiekliefhebbers geraak nadat sy einde verlede jaar tydens die Afrikaans is Groot-konsert as die wenner van VIA se werklikheidsreeks, Die Kontrak, gekroon is.

Nie net het haar debuutalbum, Mis, eet, slaap, herhaal, goue status bereik nog voordat die Afrikaans is Groot-konsertreeks in Pretoria geëindig het nie, maar het sy ook saam met Steve Hofmeyr in sy jongste album, The Country Collection, nuwe lewe in die ou Don Williams-treffer, “Amanda”, geblaas.

Ná afloop van die Die Kontrak, waarin kykers voorgestel is aan hoopvolle deelnemers wat om ʼn Coleske Artists-platekontrak van R1 miljoen meegeding het, is Moore op 23 November as die wenner aangekondig.

Haar lewe het handomkeer verander sedert daardie aand, vertel die blondekopsangeres in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Alles het verander. Dit is ongelooflik en ek moet myself nog steeds knyp. Die drome wat ek gehad het, lyk nou bitter klein ná alles wat met my gebeur het.”

Sy vertel dit was ʼn groot skok toe sy ná afloop van die Afrikaans is Groot-konsertreeks die nuus ontvang dat daar reeds 15 000 eksemplare van haar album verkoop is. “Dit is lekker om te weet mense geniet die album en die musiek, veral omdat hulle die pad saam met my gestap het van Die Kontrak af. Die liedjies in die album is natuurlik wat ek gesing het tydens die kompetisie en dan is daar ook vier oorspronklike liedjies.”

Die oorspronklike liedjies in die album is almal uit die pen van die befaamde liedjieskrywer Johan Oberholzer. Sy vertel die snit “Ek is hier” dra veral vir haar betekenis, omdat dit gaan oor die lang pad wat sy in die musiekbedryf gestap het die laaste tien jaar.

“Die lirieke sê: ‘Ek was daar, ek is deur en ek is nou hier’. Dit is ʼn inspirasie ná al die nee’s en teleurstellings wat ek al moes ervaar,” vertel sy.

Die titelsnit, “Mis, eet, slaap, herhaal”, pronk al bo-aan die Maroela Media Afrikaanse Top-20-treffersparade sedert die snit uitgereik is. “Ek is nog steeds op my wolkie. Dit is wonderlik om te weet mense geniet dit nog steeds, want dit kan so vinnig gebeur dat mense van jou vergeet.”

Sy dink nie sy of Hofmeyr het besef hul weergawe van “Amanda” gaan só ʼn groot treffer wees nie, vertel Moore oor dié snit, waarvan die musiekvideo op YouTube reeds meer as 1 miljoen trefslae het.

“Ek tree ook saam met Steve, Riana Nel en Rikus Nel op by die Country is Groot-konsert. Ons gaan net lekker country sing en ons gaan beslis ‘Amanda’ doen. Riana was nog altyd een van my grootste inspirasies, veral omdat sy ook so ʼn regte country-stem het, en ek het jare al opkyk na haar. Net om te weet ek gaan daardie aand op daai verhoog staan saam met hulle almal, is nog ʼn droom wat waar word.”

Dié optrede is op 26 April in die Sun Arena by Time Square in Pretoria. “Die kaartjies vlieg, so ons is almal baie opgewonde,” voeg sy by.

Sy verklap dat sy onlangs ʼn huis in Pretoria gekoop het en dat sy en haar kêrel, die beroepsmusikant Barthlo Visagie, binnekort die Kaap gaan verruil vir Gauteng. “Ek is vir die res van die jaar vol bespreek en ek gaan amper elke naweek Gauteng toe moet vlieg, so dit maak net meer sin om hier bo te kom bly waar alles gebeur. Ons is vreeslik opgewonde daaroor en ons sien uit. Ek sou dit definitief nie kon doen as Barthlo nie saam met my gekom het nie,” lag sy.

Moore is ook aangewys as een van Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-ambassadeurs. Moore se mentor tydens Die Kontrak, Monique Steyn, poog saam met ander bekende sangers soos Patrizio Buanne, Amira Willighagen, Touch of Class, Tarryn Lamb, Corlea, Dewald Wasserfall, Jay, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld en Riana Nel om honger onder kleuters te beëindig.

“Ek kan myself nie indink hoe dit voel om nie kos op die tafel te hê of om honger te gaan slaap nie. As ek ʼn verskil kan maak in iemand se lewe, al is dit om net vir een persoon kos op die tafel te sit, hoekom sal ek dit nie doen nie?”

Mis, eet, slaap, herhaal is te koop by alle groot musiekhandelaars en is ook digitaal op iTunes en Joox beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lynn ·

Het Demi Lee Woensdag aand gesien, sy lyk pragtig! Ook ‘n ma!

sonja coetzee ·

Demi Lee,jy sing absoluut pragtig en dan is jy boonop beeldskoon ook nog!!!Mag jou musiek loopbaan net sukses behaal want ek ondersteun Afrikaanse musiek 100% en jy verdien dit om goue status te kry.Jy straal letterlik en figuurlik!!!

Amanda ·

Ek ondersteun jou ook een honderd persent. Vir my sing jy die heel mooiste diep afrikaanse musiek. Dit pas jou stem so mooi. Sterkte en alle voorspoed vorentoe. Die Kaap gaan sy mooiste blom mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.