Luister: Demi Lee sing vir die Here, haar ma in nuwe album

Demi Lee Moore. (Foto: Willem Botha)

Drie jaar lank het aanhangers van die blondekop sangsensasie Demi Lee Moore met opgehoue asems gewag vir ʼn nuwe album uit haar musiekkamp – en vandag (Vrydag) is die lang wag uiteindelik verby.

Demi Lee se splinternuwe vollengte album getiteld Jy ken my naam het pas die lig gesien.

Die titelsnit van die album sinspeel dalk op die feit dat die meeste Afrikaanse musiekluisteraars weet wie Demi Lee is, maar dié liedjie is eintlik vir haar ma geskryf. Elvis Blue en Riaan Benadé het saam met Demi Lee aan dié liedjie geskryf.

“Alles wat ek vandag het en wat ek is, is as gevolg van my ma. Toe ons die dag hier sit, het ek vir hulle gesê ek wil graag ʼn liedjie vir my ma skryf. Elvis het ʼn natuurlike manier om ʼn storie te vertel met sy woorde. Hulle twee is liedjieskrywers van formaat en ek het my idees gegee en hulle het daarmee gewerk. Dit is uiteindelik my gunstelingliedjie op die album,” vertel Demi Lee aan Maroela Media in die Coleske Artists-ateljee in Pretoria.

“Ek wou ʼn liedjie skryf om vir my ma dankie te sê. Sy is deur so baie om seker te maak ek het alles en meer wat ek nodig het om te kan doen wat ek doen in musiek en ek sou dit nooit sonder haar kon doen nie. Sy is die sterkste vrou wat ek ken.”

Sy vertel dat sy die liedjie al ʼn paar keer by vertonings gesing het en dat sy dan soms ʼn geestelike aanslag aan die liedjie gee.

“Die liedjie is vir my ma, maar dit is ook vir die Here. Partymaal het ek net weer ʼn ander gevoel oor die liedjie. Vir ander mense gaan dit dalk ook ʼn gelowige liedjie wees, want dit is hoe ek ook met tye voel. Dit maak nie saak wat ek verkeerd doen nie – Hy is altyd daar.”

Die album bevat tien snitte, elkeen noukeurig uitgesoek om dié Die Kontrak-wenner perfek te verteenwoordig.

Volgens terugvoer wat sy ontvang oor die eerste twee enkelsnitte vanaf die album wat in November vanjaar uitgereik is, is Demi Lee-aanhangers uitgehonger vir nuwe musiek van haar.

“Kan jou nie my maak liefhê” is eerste vanjaar uitgereik en het dadelik tot die no. 1-posisie op onder meer die Maroela Media Afrikaanse Top-20 en Apple Music se Afrikaanse trefferlys geskiet.

Die opvolgsnit, “Wie se hart breek jy vanaand?” het ook onmiddellik al wat ʼn trefferlys is betree. Die musiekvideo, wat in Sun City geskiet is en waarin Demi Lee vir die eerste keer die hoofrol vertolk, het binne die bestek van ʼn week bykans 150 000 kykbeurte op YouTube gekry en verskyn ook op YouTube se trending-lys.

Demi Lee bieg dat sy self met tye soms ongeduldig geraak het omdat die album so lank geneem het om te voltooi.

“Ek skerts altyd en sê my naam moes eintlik Demi Lee ‘Break-up Songs’ Moore gewees het, want dit is al waaroor ek sing,” skerts sy.

“Maar wat anders? ʼn Mens sing mos maar gewoonlik oor die liefde, dit kom net in verskillende vorme voor. Die gebroke liefde, die liefde vir my ma, die liefde vir my musiek. Die album is beslis ʼn lekkerluister-album en met die vervaardiging het meer ons ʼn country-styl gekies en ek is bly ons kon dit met die pop-element vermeng.”

Sy gee toe dat drie jaar sedert haar debuutalbum, “Mis eet slaap herhaal”, uitgereik is ʼn baie lang tyd was om te wag met die uitreiking van ʼn opvolgalbum, maar dat sy vasbeslote was om musiek op te neem wat iets vir haar beteken.

“Ek kan nie wag dat almal dit moet hoor nie. Drie jaar was lank, maar daar is soveel liefde in die album gestort. Ons gee om wat ons daar buite sit en ek kan nie net iets sing om iets te sing nie. Ons het dit reggekry met dié album – dit het lank gevat, maar hy is goed.”

Die album is ʼn goeie mengsel van popsnitte en ballades. Volgens Demi Lee is sy lief vir ʼn hartseerliedjie, al vra mense haar soms hoe sy dit kan sing wanneer sy self só gelukkig is.

Demi Lee Moore. (Foto: Willem Botha)

“Ons almal was al daar. Dit vat my terug na ʼn tyd toe ek nie so gelukkig was nie. As ek hartseer is, wil ek ʼn hartseerliedjie luister en hartseerder wees. Ek het uiteindelik my klank gevind en ek weet nou wie en wat ek is in die musiekbedryf. Dit het my tien jaar lank gevat om by dié plek uit te kom. Ek het lank gesukkel om uit te werk wie ek is en wat ek wil wees en met hierdie album het ons die spyker op die kop geslaan.”

Johan Oberholzer het onder meer die liedjies “Kan nie sonder jou nie”, wat sy saam met Riaan sing, “Wag voor jy sê” en “Dalk is liefde te min” vir dié album geskryf. Daar is ook ʼn Engelse snit getiteld “Water under the bridge” uit Joe Foster se pen. “Maak my jou tequila”, wat reeds verlede jaar uitgereik is, verskyn ook op die album.

Vir die eerste keer word Demi Lee ook op haar eie album gelys as ʼn skrywer en was sy betrokke by die titelsnit sowel as die liedjies “Dromer” en “Sy huil maar sy lag”.

“Ek wou met hierdie album meer betrokke wees. Ek en Riaan het saam geskryf aan ‘Dromer’, wat absoluut gaan oor my lewe en my pad tot waar ek vandag gekom het. Dit was die eerste liedjie wat ons vir die album geskryf het, maar dit is die een wat laaste klaargemaak is. Dit was baie lekker om saam met Riaan te kon sit en hy het my toegelaat om my eie kop te volg.

“Die feit dat die liedjies uit my pen is, beteken dat dit regtig uit my hart kom. Ek kies gewoonlik liedjies, want dit praat met my en dit maak vir my sin. Hierdie keer vertel ek ʼn storie en dit is my storie.”

Jy ken my naam is op alle digitale platforms beskikbaar. Fisieke kopieë sal ook by Demi Lee se vertonings beskikbaar wees.

  • Luister na die volledige ateljeeonderhoud bo-aan die berig.

Kyk hier na die musiekvideo’s vir “Kan jou nie my maak liefhê” en “Wie se hart breek jy vanaand”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.