Luister: Deon Groot oor ‘unieke, eietydse Namakwalandse’ album

Deon Groot kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Deon Groot kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Deon Groot, die sanger wat in 2017 getref het met die enkelsnit “Bietjie Liedjie” vanaf sy vollengte-album, Gee my oor, se splinternuwe selfgetitelde vollengte-album, Deon Groot, is nou op die rakke en beloof om weer eens sy aanhangers gaande te hê.

Groot vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media dat hy met die jongste album wou poog om musiek uit te bring wat nog nie vantevore in Suid-Afrika gemaak is nie. “Ek wou natuurlik ook nie die Afrikaanse mark vervreem met die klank nie en wou seker maak ons behou die mense, maar gee vir hulle iets vars en unieks met sterk lirieke wat stories vertel.”

Dié gebore Namibiër het ook op Kriel en Witbank in Suid-Afrika gewoon voordat hy en sy gesin na die Namakwaland verhuis het. “Die Namakwalanders het ʼn baie ryke manier van stories vertel. Ek wou met dié album seker maak dit vertel ʼn storie op ʼn eietydse, Namakwalandse manier.”

Hy sê twee weke nadat die album uitgereik is, het hy nog geen terugvoer daaroor ontvang nie. “Ek dink mense moes eers die nuwe klank hoor. Ons het die eerste enkelsnit, ‘Wyn’, uitgereik om die gehoor bewus te maak van die splinternuwe klank, styl en karakter. Daarna het mense begin verstaan wat ons probeer doen. As jy gaan luister na die klank sal jy hoor dit is steeds Afrikaans, dit is net vars en iets nuuts op die oor.”

Die album bestaan uit 11 snitte, maar volgens Groot het hy aanvanklik sowat 30 liedjies geskryf en daaruit die 11 gekies wat uiteindelik op die album is.

“Namakwaland is bekend vir sy geselligheid, sy menswees en die atmosfeer wat daar geskep is. Ons wou dieselfde doen vir die album – nie om te sê dit gaan ʼn Namakwaland-album wees nie, maar geselligheid en menswees na vore te bring. As ek dit moet opsom, sal ek sê dit is ʼn kuier-album, wat geluister kan word by ʼn braai of ʼn fees.”

Die album bevat ook ʼn paar ballades. “Dit is nie stroperige liefdesliedjies nie, maar liedjies waar jy diepte uit die musiek en lirieke kry,” sê Groot.

Hy voeg by dat die meeste snitte op die album geskryf is saam met ʼn tromspelervriend, Lourens Bezuidenhout. “Ek en hy kom al sowat 14 jaar lank saam en hy is baie musikaal. Dit was lekker om met hom saam te werk, want hy ken my klanke en wat ek wou bereik met die album. Hy het ook saam met my geskaaf aan die lirieke.”

Volgens Groot fokus mense baie op die negatiwiteit in die land en wou hy met dié album poog om mense vir ʼn oomblik van dié denke te bevry. “Ek wil hê die album moet vir mense sê om ʼn glimlag te wees vir die persoon langs hulle.”

Deon Groot is op alle aanlyn platforms beskikbaar en ook by toonaangewende musiekwinkels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.