Luister: Dewald Wasserfall: ‘My musiek moet lig in die donker wees’

Dewald Wasserfall (Foto: Maroela Media)

Dewald Wasserfall (Foto: Maroela Media)

Die gewilde sanger Dewald Wasserfall het onlangs sy jongste album vrygestel. Hy vertel dié album is doelbewus positief saamgestel om ʼn “lig in die donker” vir ander te wees en hoop te bied in ʼn wêreld waar dit nie gereeld voorkom nie.

Die album, Jy is die storm, het twee jaar geneem om te voltooi. Die sanger het die album saam met Danny Smoke vervaardig, en die lirieke saam met liedjieskrywers Christoph Kotzé en Johan Vorster geskryf.

Volgens Dewald het dié span baie moeite ingeploeg om ʼn album van hoë gehalte te vervaardig.

Hoewel hy veral bekend is vir sy liefdesliedjies, bevat die nuwe album meer liedjies met die tema van hoop en lig. “Daar is wel ʼn paar liefdesliedjies opgeneem. Ek dink egter ons het met die album eerder daarop gefokus om Suid-Afrika hoop te gee. Daar is baie liedjies van lig – om lig in jou lewe te laat inkom en die storms in jou lewe te deurstaan. Die meeste daarvan het ʼn positiewe boodskap,” het hy vertel.

Die sanger meen sy persoonlike ervarings tree duidelik na vore in die album. “Ek het deur ʼn moeilike tyd gegaan toe ek die album geskryf het. Ek het gevoel Suid-Afrika as geheel gaan ook deur ʼn goor tyd met al die slegte nuus. Ons het toe ʼn doelbewuste besluit geneem om positief te wees in die skryf van die lirieke. Dis baie makliker om oor iets te skryf as jy self daardeur is. Partykeer moet jy jouself in ander mense se skoene plaas en dan is dit amper soos fiksie skryf.”

Die titelsnit van die album dra veral die boodskap van hoop. “Dit gaan daaroor dat dit nie saak maak watter storm oor jou lewe kom nie, jy is groter as daardie storm. Dit maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie, jy kan daarteen opstaan en groter wees as dit,” het hy bygevoeg.

Die sanger hoop aanhangers kan elke snit waardeer, veral oor die moeite wat in die album ingeploeg is. Dit is natuurlik ook belangrik dat hulle die sentrale tema van hoop positief ontvang. “Ek wil hê mense moet voel elke snit is luisterbaar op sy eie. Ons het moeite gedoen om te verseker dat elke liedjie tot sy reg kom en dat daar nie ‘sommer net liedjies’ is nie. Elke liedjie beteken iets en ek hoop mense kry hoop daardeur.”

Dié album bly egter steeds eie aan van sy vorige treffers, soos “Eendag as ons groot is”. Hy streef daarna om getrou aan homself te bly in sy musiek. “Ek probeer om eerlike musiek te maak, of musiek waarmee normale mense hulle kan vereenselwig. Ek probeer nie ʼn celebrity of ʼn ster wees nie. Ek is ʼn doodgewone ou wat lief is vir musiek, en maak musiek vir ander sulke mense. Ek wil net hê mense moet die nuwe album geniet.”

Vir meer inligting, besoek Dewald se Facebook-blad of webwerf.

Laai ook Jy is die storm van iTunes af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marianne ·

Dewald my hero!!!!! Ai die man kan soooooo mooi sing. Hy raak my swakke hart so diep aan.
Mooie man boonop! Jou vrou is ‘n major lucky girl en jou ma! Jou manier bars van trots!

Mart-Marie van der Merwe ·

Ken Dewald en sy musiek al jare en daar is nie een album van hom wat ‘n mens nie raak nie. Baie diep mens, met mooi skrywe. Hoop ek kan gou die nuwe album aanskaf sodra dit die rakke in die bosveld slaan!! Well done Dewald – weer!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.